hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Elia ontmoet Agab

1. Na ’n lang tyd, tydens die derde jaar van droogte, sê die Here vir Elia: “Gaan na koning Agab toe en sê vir hom Ek sal dit binnekort laat reën.”

2. Elia het na Agab toe gegaan.Intussen het die hongersnood in Samaria toegeneem.

3. Agab het vir Obadja die paleisopsigter laat kom. Obadja was ’n toegewyde volgeling van die Here.

4. Toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het, het Obadja 100 van hulle in grotte versteek, 50 in elke grot. Daar het hy hulle van kos en water voorsien.

5. Agab het vir Obadja gesê: “Ons moet deur die hele land gaan en na elke fontein en spruit gaan kyk of ons nie êrens weiding vir minstens sommige van my perde en muile kan kry nie. Dan sal dit nie nodig wees om hulle dood te maak nie.”

6. Hulle het toe die land tussen hulle twee verdeel. Agab het in een rigting gegaan en Obadja in ’n ander rigting.

7. Obadja was nog op pad en dáár kom Elia hom tegemoet! Obadja het hom dadelik herken en voor hom neergebuig. “Is dit dan nie my heer Elia nie?” vra hy.

8. “Ja, ek is Elia,” antwoord hy. “Gaan sê vir die koning ek is hier.”

9. “Maar, Meneer,” maak Obadja beswaar. “Watter kwaad het ek dan gedoen dat u my na Agab, na my dood toe stuur?

10. So seker as die Here u God leef, die koning het by elke nasie en koninkryk op aarde na u laat soek. Elke keer as hy hoor ‘Elia is nie hier nie,’ het Agab die koning van daardie volk met ’n eed laat bevestig dat dit inderdaad so is.

11. En nou sê u vir my: ‘Gaan sê vir die koning Elia is hier!’

12. Dit kan wees dat as ek van u weggaan die Gees van die Here u dalk kan wegvoer na wie weet waar. As ek dan vir Agab vertel ek het u gesien, maar hy kry u nie, sal hy my doodmaak. En dit ten spyte daarvan dat ek my lewe lank ’n getroue volgeling van die Here is!

13. Het niemand vir u vertel van die keer toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het nie? Ek het toe 100 van hulle in twee groepe van 50 in elkeen van twee grotte weggesteek en hulle van kos en water voorsien.

14. En nou sê u vir my: ‘Gaan en sê vir die koning Elia is hier!’ Hy sal my mos doodmaak!”

15. Maar Elia antwoord hom: “So seker as die Here, die Almagtige, leef, in wie se diens ek staan, Agab sal my sekerlik vandag nog sien.”

16. Obadja het toe gegaan en vir Agab vertel dat Elia gekom het. Agab het toe vir Elia gaan ontmoet.

17. “Is dit jy, jou moeilikheidmaker in Israel?” vra Agab toe hy hom sien.

18. “Ek het geen moeilikheid vir Israel gemaak nie,” antwoord Elia. “Jy en jou familie is die moeilikheidmakers, want julle het nie die gebooie van die Here gehoorsaam nie en eerder die Baäls aanbid.

19. Maar laat die volk van Israel op Karmelberg bymekaarkom. Ook die 450 profete van Baäl en die 400 profete van Asjera wat Isebel onderhou, moet daar wees.”

Die gebeure op Karmelberg

20. Agab het toe gestuur en die hele volk en die profete op Karmelberg bymekaar laat kom.

21. Elia het voor hulle gaan staan en gesê: “Hoe lank gaan julle nog weier om kant te kies? As die Here God is, volg Hom! Maar as dit Baäl is, volg hóm!” Die volk het egter niks geantwoord nie.

22. Toe sê Elia vir die volk: “Ek is die enigste profeet van die Here wat nog oor is, terwyl daar 450 profete van Baäl is.

23. Bring nou twee bulle. Die profete van Baäl kan een kies, hom in stukke opsny en bo-op die hout op die altaar neersit. Hulle moet dit egter nie aan die brand steek nie. Ek sal die ander bul opsny en bo-op die hout op die altaar neersit. Ek sal dit ook nie aan die brand steek nie.

24. Dan moet julle julle god aanroep en ek sal die Here aanroep. Die een wat met vuur antwoord, is die ware God!” Die hele volk het met hierdie reëling saamgestem.

25. Elia sê toe vir die profete van Baäl: “Kies julle nou ’n bul en kry dit gereed, want daar is baie van julle. Roep dan julle god aan, maar moenie die vuur aan die brand steek nie.”

26. Hulle het een van die bulle gekies en gereed gekry. Toe roep hulle Baäl aan. Hulle het die hele oggend geroep: “O Baäl, antwoord ons!” Daar was egter geen reaksie nie en niemand het geantwoord nie. Hulle het selfs al om die altaar wat hulle gemaak het, gedans.

27. Teen die middag het Elia hulle begin spot. “Julle moet nog harder roep,” spot hy. “Hy is mos ’n god! Dalk is hy in gedagte, of dalk het hy ’n draaitjie gaan loop. Miskien is hy weg op reis, of slaap hy en moet wakker gemaak word!”

28. Hulle het toe al harder geroep en – soos hulle gebruik was – hulleself met messe en swaarde stukkend gesny totdat die bloed geloop het.

29. Hulle het die hele namiddag so aangehou totdat die tyd vir die aandoffer aangebreek het. Maar steeds was daar geen geluid nie, geen antwoord nie, niemand wat gereageer het nie.

30. Toe roep Elia die volk: “Kom nader!” Hulle het almal rondom hom kom staan terwyl hy die altaar van die Here wat afgebreek was, herstel het.

31. Hy het twaalf klippe gevat, een vir elke stam van die nageslag van Jakob vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.”

32. Hy het die klippe gebruik om die vervalle altaar van die Here reg te maak. Daarna grawe hy ’n sloot rondom die altaar. Dit was groot genoeg om ongeveer vyftien liter te hou.

33. Hy het hout op die altaar gesit, die bul in stukke gesny en dit op die hout neergelê.

34. Toe beveel hy: “Vat vier groot waterkruike, maak hulle vol water en gooi dit uit oor die offer en die hout.” Nadat hulle dit gedoen het, sê hy: “Doen dit weer!” Hulle maak toe so, maar hy sê: “Doen dit ’n derde keer!” Hulle het weer gemaak soos hy gesê het.

35. Die water het oor die altaar gestroom en selfs die sloot rondom vol water gemaak.

36. Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia na die altaar toe gegaan en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, wys tog vandag dat U God is in Israel en dat ek u dienaar is wat alles op u bevel gedoen het.

37. Here, antwoord my! Antwoord my sodat hierdie volk kan erken dat U, Here, God is en dat dit U is wat hulle weer na U toe laat omdraai.”

38. Onmiddellik het daar vuur van die Here gekom en die offer verbrand, asook die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgedroog!

39. Toe die volk dit sien, val hulle op die grond en roep uit: “Die Here is God! Die Here is God!”

40. Elia beveel hulle toe: “Gryp die profete van Baäl. Moenie dat ’n enkele een van hulle wegkom nie!” Die volk het hulle gegryp en Elia het hulle na die Kisonspruit laat afneem. Hy het hulle daar doodgemaak.

’n Klein wolkie word ’n

reënstorm

41. Elia sê toe vir Agab: “Gaan eet en drink, want ek hoor die gedruis van groot reën!”

42. Agab het toe gaan eet en drink, maar Elia het tot op die top van Karmelberg geklim. Daar het hy met sy kop tussen sy knieë op die grond neergebuig.

43. Hy sê toe vir sy dienaar: “Gaan kyk uit oor die see.”Die dienaar het gekyk, na Elia toe teruggekom en gesê: “Ek sien niks nie.” Elia sê vir hom: “Gaan kyk weer!” Sewe keer het Elia hom gestuur.

44. Die sewende keer kom sê die dienaar: “Ek sien ’n klein wolkie so groot soos ’n man se hand wat uit die see opkom.”Toe sê Elia: “Maak gou! Gaan sê vir Agab: ‘Span jou wa in en gaan af na jou huis toe anders sal die reën jou vaskeer!’”

45. Spoedig was die lug donker van onweerswolke. ’n Sterk wind het ’n groot reënstorm gebring. Agab het dadelik na Jisreël toe vertrek.

46. Die Here het Elia krag gegee. Hy het sy gordel vasgemaak en toe voor Agab se wa uit gehardloop tot by Jisreël.