hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here het die volgende boodskap aan koning Baesa gestuur. Dit is deur Jehu seun van Ganani oorgedra:

2. “Ek het jou uit die stof opgetel om koning oor my volk Israel te wees, maar jy het die voorbeeld van Jerobeam gevolg. Jy het My uitgetart deurdat jy my volk laat sondig het.

3. Daarom gaan Ek jou en jou familie wegvee net soos Ek met die nageslag van Jerobeam seun van Nebat gedoen het.

4. Die honde sal die een van jou familie wat in die stad omkom, opvreet; en dié een wat in die veld omkom, sal die roofvoëls verslind.”

5. Die ander gebeurtenisse tydens sy regering en ook sy dapper dade is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

6. Toe Baesa sterf, is hy in Tirsa begrawe. Sy seun Ela het hom as koning opgevolg.

7. Die oordeel van die Here oor Baesa en sy familie is deur die profeet Jehu seun van Ganani aangekondig. Dit was omdat Baesa gedoen het wat verkeerd was vir die Here: Hy het net soos die nageslag van Jerobeam die Here uitgetart. Boonop het hy Jerobeam se familie uitgemoor.

Simri vermoor Ela

8. Ela seun van Baesa het in die 26ste regeringsjaar van koning Asa van Juda in Tirsa koning van Israel geword. Hy het twee jaar oor Israel geheers.

9. Simri, een van sy onderdane en bevelvoerder oor die helfte van die koninklike strydwaens, het teen hom saamgesweer. Op ’n dag het Ela dronk geword in die huis van Arsa, die opsigter van die paleis in Tirsa.

10. Simri het ingekom en hom doodgemaak. Dit het gebeur in die 27ste regeringsjaar van koning Asa van Juda. Simri het hom as koning opgevolg.

11. Simri het dadelik die hele koningshuis van Baesa uitgewis, selfs die bloedverwante en vriende van Baesa. Hy het elke manlike persoon in Baesa se familie doodgemaak.

12. Simri het so die hele koningshuis van Baesa uitgewis soos die Here deur sy profeet Jehu aangekondig het.

13. Dit het gebeur weens die sonde van Baesa en sy seun Ela, en omdat hulle Israel laat sondig het en die Here die God van Israel met hulle afgodery uitgetart het.

14. Die ander gebeurtenisse tydens Ela se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

Simri buig die knie voor Omri

15. Simri het in die 27ste regeringsjaar van koning Asa van Juda koning geword. Hy het net sewe dae in Tirsa regeer. Die leër van Israel was besig om die Filistynse dorp Gibbeton aan te val.

16. Die leër het gehoor van Simri se sameswering teen die koning, en dat hy die koning doodgemaak het. Hulle het toe nog dieselfde dag vir Omri, bevelvoerder van die leër, tot nuwe koning uitgeroep.

17. Omri het die beleëring van Gibbeton gestaak en Tirsa beleër.

18. Toe Simri sien dat die stad ingeneem gaan word, het hy na die paleis se versterkte vesting gevlug, die paleis om hom aan die brand gesteek en in die vlamme gesterf.

19. Dit het gebeur omdat hy gesondig het en gedoen het wat verkeerd was vir die Here. Hy het die voorbeeld van Jerobeam gevolg deur voort te gaan met die sonde van afgodery wat Jerobeam die volk laat doen het.

20. Die ander gebeurtenisse tydens Simri se regering en sy sameswering is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

Omri regeer in Israel

21. Teen hierdie tyd was daar twee groepe in Israel. Een helfte wou Tibni seun van Ginat as koning hê, en die ander helfte het Omri ondersteun.

22. Gaandeweg het Omri se aanhang sterker geword as dié van Tibni seun van Ginat. Tibni het gesterf en Omri het koning geword.

23. Omri het in die 31ste regeringsjaar van koning Asa van Juda koning geword. Hy het twaalf jaar regeer, ses daarvan in Tirsa.

24. Omri het die Samariaheuwel vir 68 kilogram silwer van Semer gekoop. Hy het ’n stad bo-op die heuwel gebou en dit Samaria genoem ter ere van Semer, die vorige eienaar van die heuwel.

25. Omri het egter gedoen wat verkeerd was vir die Here, selfs nog meer as sy voorgangers.

26. Hy het die voorbeeld van Jerobeam seun van Nebat nagevolg en voortgegaan met die sonde van afgodery wat Jerobeam Israel laat doen het. Hulle het die Here die God van Israel met hulle afgodsbeelde uitgetart.

27. Die ander gebeurtenisse tydens Omri se regering, sy dapperheid en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

28. Toe Omri sterf, is hy in Samaria begrawe. Sy seun Agab het hom as koning opgevolg.

Agab word koning in Israel

29. Agab seun van Omri het in die 38ste regeringsjaar van koning Asa van Juda koning geword van Israel. Hy het 22 jaar lank in Samaria regeer.

30. Agab het egter gedoen wat verkeerd was vir die Here, selfs meer as enige van die konings voor hom.

31. Asof dit nie genoeg was nie, het hy met Isebel, die dogter van koning Etbaäl van die Sidoniërs, getrou en Baäl begin dien en aanbid.

32. Eers het hy ’n tempel en ’n altaar vir Baäl in Samaria gebou.

33. Daarna het hy ’n paal wat aan Asjera gewy is, opgerig. Hy het die Here die God van Israel meer uitgetart as al die konings van Israel voor hom.

34. Gedurende sy regering het Giël uit Bet-El die stad Jerigo herbou. Toe hy die fondamente gelê het, het sy oudste seun Abiram gesterf. Toe hy die poortdeure gehang het, het sy jongste seun, Segub, gesterf. Dit het gebeur net soos die woord van die Here deur Josua seun van Nun lank te vore oor Jerigo gesê het.