hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Skielik daag daar ’n man van God uit Juda by Bet-El op. Dit was op bevel van die Here. Hy het daar aangekom net toe Jerobeam by die altaar gaan staan het om te offer.

2. Op bevel van die Here roep hy toe uit: “Altaar, altaar! Dit is wat die Here sê: ‘’n Seun met die naam Josia sal uit die nageslag van Dawid gebore word. Hier op jou sal hy die priesters van die hoogtes offer wat nou wierookoffers op jou bring. Hier sal mensbene op jou verbrand word.’”

3. Die man van God het ook ’n teken aangekondig om sy boodskap te bevestig. Hy het gesê: “Die Here het hierdie teken gegee: Hierdie altaar sal uitmekaarbreek en die as daarop sal op die grond val.”

4. Koning Jerobeam was woedend vir die man van God omdat hy teen die altaar gepraat het. Hy het sy hand na die man uitgesteek en gesê: “Gryp hom!” Maar die koning se hand het dadelik styf geword sodat hy dit nie weer kon terugtrek nie.

5. Terselfdertyd het die altaar uitmekaargebreek en die as het op die grond geval. Dit het net so gebeur soos wat die man van God op bevel van die Here gesê het.

6. Die koning vra toe vir die man van God: “Asseblief, bid tot die Here jou God om my hand te herstel!” Die man van God het tot die Here gebid en die koning se hand het herstel soos tevore.

7. Toe sê die koning vir die man van God: “Kom saam na die paleis toe en kom eet sodat ek jou kan beloon.”

8. Maar die man van God sê vir die koning: “Selfs al sou u my die helfte van u besittings gee, kan ek nie saam met u gaan nie. Ek mag niks in hierdie plek eet of water drink nie.

9. Die Here het my beveel: ‘Jy mag geen kos eet of water drink terwyl jy daar is nie. En moenie met dieselfde pad terugkom as wat jy gegaan het nie.’”

10. Daarna het hy weggegaan uit Bet-El en met ’n ander pad huis toe gegaan.

Die man van God en die ou

profeet

11. In Bet-El het daar ’n ou profeet gewoon. Toe sy seuns by die huis kom, het hulle hom vertel wat die man van God daardie dag in Bet-El gedoen het. Hulle het ook vertel wat hy vir die koning gesê het.

12. Die ou profeet vra toe vir hulle: “Met watter pad het hy vertrek?” Hulle het gesien met watter pad die man van God uit Juda teruggegaan het en het dit vir hom gesê.

13. “Saal gou die donkie vir my op,” sê hy vir sy seuns. Hulle het dit gedoen en hy is daar weg

14. agter die man van God aan. Hy het hom gekry waar hy onder ’n groot boom gesit het.Die ou profeet vra hom: “Is jy die man van God wat uit Juda gekom het?”“Ja,” antwoord hy, “ek is.”

15. Die ou profeet sê toe vir hom: “Kom saam met my huis toe en eet ’n bietjie.”

16. “Nee, ek mag nie saam met jou teruggaan nie,” antwoord hy. “Ek mag geen kos of water in hierdie plek drink nie,

17. want die Here het my uitdruklik beveel: ‘Jy mag geen kos eet of water drink terwyl jy daar is nie, en jy mag nie met dieselfde pad terugkom as waarlangs jy gegaan het nie.’”

18. Maar die ou profeet het geantwoord: “Ek is ook ’n profeet, net soos jy. ’n Engel het my hierdie boodskap van die Here gegee: ‘Bring hom na jou huis toe en gee hom kos om te eet en water om te drink.’” Maar die ou profeet het vir hom ’n leuen vertel.

19. Die man van God het nogtans saam teruggegaan en by die profeet se huis kos geëet en water gedrink.

20. Terwyl hulle nog aan tafel was, kom daar ’n boodskap van die Here na die ou profeet.

21. Hy sê vir die man van God uit Juda: “Dit is wat die Here sê: ‘Jy het in verset gekom teen die Here se opdrag en was ongehoorsaam aan die bevele wat die Here jou God jou gegee het.

22. Jy het na hierdie plek toe teruggekom en kos geëet en water gedrink terwyl Hy jou belet het om iets te eet of water te drink. Daarom sal jou liggaam nie in jou familiegraf begrawe word nie.’”

23. Nadat die man van God klaar geëet en gedrink het, het die profeet wat hom laat afdraai het, die donkie vir hom opgesaal.

24. Die man van God het toe vertrek. Op pad het ’n leeu hom aangeval en doodgemaak. Sy liggaam het daar in die pad gelê, terwyl die donkie en die leeu albei langs die liggaam bly staan het.

25. Mense wat verbygekom het, het die lyk gesien wat in die pad lê, en ook die leeu wat daar langsaan staan. Hulle het dit in Bet-El, waar die ou profeet gewoon het, gaan vertel.

26. Toe die ou profeet wat hom laat afdraai het, dit hoor, sê hy: “Dit is die man van God wat ongehoorsaam was aan die Here se opdrag. Dis die Here wat die leeu gestuur het om hom aan te val en dood te maak, soos Hy gesê het.”

27. Die profeet sê toe vir sy seuns: “Saal vir my die donkie op!” en hulle het dit gedoen.

28. Hy het gegaan en die liggaam gekry waar dit in die pad lê. Die donkie en die leeu het nog steeds daar gestaan. Die leeu het glad nie aan die liggaam gevreet of die donkie aangeval nie.

29. Die profeet het die liggaam van die man van God op die donkie gelaai en dit na Bet-El toe teruggebring om oor hom te treur en hom te begrawe.

30. Hy het die liggaam in sy eie grafkelder neergelê, oor hom getreur en bedroef uitgeroep: “Ag, my broer!”

31. Daarna sê die profeet vir sy seuns: “Wanneer ek sterf, moet julle my in dieselfde graf begrawe waar die man van God begrawe is. Sit my bene langs sy bene.

32. Die boodskap van die Here wat hy oor die altaar in Bet-El en oor die hoogtes in Samaria aangekondig het, sal sekerlik presies so gebeur.”

33. Maar selfs ten spyte van hierdie gebeurtenis het Jerobeam nie sy bose dinge laat vaar nie. Hy het voortgegaan om sommer uit die volk priesters vir die hoogtes aan te stel. Hy het enigeen wat ’n priester wou wees as priester by die hoogtes aangestel.

34. Dit was die sonde van Jerobeam en sou lei tot die ondergang en totale vernietiging van sy koningshuis.