hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 1 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Koning Dawid het baie oud geword. Hy kon nie meer warm word nie, al het hulle hom met baie komberse toegemaak.

2. Sy raadgewers sê toe vir hom: “Laat ons ’n jong meisie soek wat u kan bedien en versorg. Sy kan by u slaap sodat u warm kan word.”

3. Hulle het deur die hele gebied van Israel na ’n mooi meisie gesoek. In Sunem het hulle vir Abisag gekry en haar na die koning toe gebring.

4. Sy was ’n baie mooi meisie. Sy het die koning bedien en hom versorg. Die koning het egter geen geslagsgemeenskap met haar gehad nie.

Adonia laat homself as koning

5. In hierdie tyd het Dawid se seun Adonia, wie se ma Gaggit was, homself begin verbeel: “Ek gaan een van die dae die koning wees.” Hy het ’n strydwa en ruiters aangeskaf, asook 50 man wat voor hom uit gehardloop het.

6. Sy pa, koning Dawid, het hom van kleins af nooit gedissiplineer of selfs vir hom gevra: “Wat doen jy nou?” nie. Adonia was die tweede oudste seun ná Absalom. Hy was baie aantreklik.

7. Hy het Joab seun van Seruja, en Abjatar die priester in sy vertroue geneem. Hulle het ingestem om hom te steun.

8. Maar Sadok die priester, Benaja seun van Jojada, Natan die profeet, Simeï, Reï en Dawid se persoonlike lyfwag het nie vir Adonia gesteun nie.

9. Adonia het na die Sogeletrots by die Rogelfontein gegaan en daar skape, beeste en vetgemaakte kalwers geoffer. Hy het al sy broers, die ander seuns van Dawid, uitgenooi, en ook al die manskappe van Juda in Dawid se diens.

10. Maar hy het nie die profeet Natan, die koning se lyfwag Benaja, of sy broer Salomo genooi nie.

11. Natan gaan toe na Salomo se ma Batseba toe en vra haar: “Het jy geweet Gaggit se seun Adonia het homself tot koning uitgeroep sonder dat ons heer Dawid dit weet?

12. As jy jou en jou seun Salomo se lewe wil red, moet jy nou maak soos ek sê.

13. Gaan dadelik na koning Dawid toe en sê vir hom: ‘My heer, het u dan nie vir my met ’n eed belowe dat my seun Salomo ná u koning sal wees en op u troon sal sit nie? Hoekom het Adonia dan nou koning geword?’

14. Terwyl jy nog met hom praat, sal ek kom en alles bevestig wat jy sê.”

15. Batseba het toe in die koning se slaapkamer ingegaan. Hy was teen hierdie tyd reeds baie oud. Abisag, die Sunemmitiese meisie, het hom versorg.

16. Batseba het laag voor hom gebuig.“Wat kan ek vir jou doen?” vra die koning haar.

17. Sy het geantwoord: “My heer, u het my voor die Here u God met ’n eed belowe: ‘Jou seun Salomo sal beslis ná my koning word en op my troon sit.’

18. Maar nou het Adonia die nuwe koning geword, sonder dat u iets daarvan weet!

19. Hy het baie beeste, vetgemaakte kalwers en skape geoffer. Boonop het hy al die koning se seuns, die priester Abjatar, en die opperbevelvoerder van die leër Joab uitgenooi. Maar hy het nie vir Salomo uitgenooi nie.

20. Nou wag die hele Israel op u om te beslis wie dan ná u koning sal word.

21. Indien u nie uitspraak lewer nie, sal ek en my seun Salomo soos misdadigers behandel word sodra u sterf.”

22. Terwyl sy nog met die koning praat, kom die profeet Natan ook daar aan.

23. Daar is vir die koning aangekondig: “Natan die profeet is hier.”Natan het in die kamer ingekom en diep voor die koning gebuig.

24. Hy vra toe: “My heer, het u gesê dat Adonia ná u die koning sal wees en op u troon sal sit?

25. Hy het vandag baie beeste, vetgemaakte kalwers en skape geoffer. Hy het ook al die koning se seuns, die bevelvoerders van die leër en Abjatar die priester vir die feesvierings genooi. Hulle is besig om saam met hom te eet en te drink. Hulle het uitgeroep: ‘Lank lewe koning Adonia!’

26. Maar vir my het hy nie uitgenooi nie; ook nie vir Sadok die priester, Benaja seun van Jojada, of vir Salomo nie.

27. Het my heer dit regtig goedgekeur? Indien wel, dan het u nie vir óns gesê wie ná u koning moet wees nie.”

Salomo volg Dawid op

28. “Roep vir Batseba!” sê Dawid. Sy het ingekom en voor die koning gaan staan.

29. Die koning lê toe ’n eed af: “So seker as wat die Here leef wat my uit elke gevaar gered het,

30. soos ek tevore met ’n eed voor die Here, die God van Israel, vir jou belowe het, bevestig ek dit vandag dat jou seun Salomo ná my koning sal word en op my troon sal sit.”

31. Batseba buig toe weer laag voor hom en sê: “Mag my heer koning Dawid vir altyd lewe!”

32. Toe beveel Dawid: “Roep vir Sadok die priester, vir Natan die profeet en Benaja seun van Jojada.” Met hulle aankoms voor die koning

33. sê hy vir hulle: “Neem Salomo en my lyfwagte saam met julle na die Gihonspruit toe. My seun Salomo moet op my eie muil ry.

34. Sadok die priester en Natan die profeet moet hom daar as koning oor Israel salf. Blaas dan op die ramshoring en roep uit: ‘Lank lewe koning Salomo!’

35. Bring hom dan weer terug hierheen sodat hy kan ingaan en op my troon kan sit, want hy sal my as koning opvolg. Ek het hóm aangewys as heerser oor Israel en Juda.”

36. “Laat dit so wees!” antwoord Benaja seun van Jojada. “En mag die Here u God dit ook bevestig.

37. Mag die Here by Salomo wees soos Hy by u was, en mag Hy die regering van Salomo selfs groter maak as u regering!”

38. Sadok die priester, Natan die profeet, Benaja seun van Jojada en die koning se lyfwag het Salomo na die Gihonspruit toe geneem. Hy het op Dawid se muil gery.

39. Sadok die priester het ’n horing vol olie uit die heiligdom saamgeneem en Salomo daarmee gesalf. Toe blaas hulle op die ramshoring en al die mense roep uit: “Lank lewe koning Salomo!”

40. Almal het agter Salomo aan teruggegaan stad toe terwyl hulle op fluite speel en juig dat die aarde dreun.

Adonia vrees vir sy lewe

41. Adonia en sy gaste was net besig om klaar te maak met hulle feesmaal toe hulle die groot feesvierings hoor. Toe Joab die ramshoring hoor, vra hy: “Wat gaan aan? Hoekom is daar so ’n lawaai in die stad?”

42. Terwyl hy nog praat, kom Jonatan seun van Abjatar daar aan. “Kom nader,” sê Adonia vir hom, “want jy is ’n gerekende man en bring goeie tyding.”

43. “Glad nie!” antwoord Jonatan. “Koning Dawid het Salomo koning gemaak!

44. Die koning het hom saam met Sadok die priester, Natan die profeet en Benaja seun van Jojada, en die koning se lyfwag gestuur. Hulle het hom op die koning se muil laat ry,

45. en Sadok die priester en Natan die profeet het hom by die Gihonspruit tot koning gesalf. Hulle het daarvandaan met groot gejuig teruggekom en daar is groot blydskap in die stad. Dis waaroor al die geraas gaan.

46. Salomo sit nou op die troon.

47. Al die koninklike amptenare het na koning Dawid toe gegaan en hom gelukgewens en gesê: ‘Mag u God Salomo se roem selfs nog groter maak as u eie. Mag Salomo se koninkryk selfs groter wees as u koninkryk!’ Toe het die koning op sy bed sy kop in aanbidding gebuig.

48. Hy het gesê: ‘Prys die Here, die God van Israel, wat vandag iemand gegee het om op my troon te sit terwyl ek dit met my eie oë kan sien.’”

49. Toe het al Adonia se gaste in paniek van die feesmaal opgespring en elkeen sy koers gegaan.

50. Adonia self was bang vir Salomo. Hy het na die heiligdom toe gegaan en die horings van die altaar vasgegryp.

51. Dis aan Salomo meegedeel: “Adonia is bang vir koning Salomo, en hy hou aan die horings van die altaar vas. Hy pleit: ‘Laat koning Salomo vandag nog onder eed verklaar dat hy my nie sal doodmaak nie!’”

52. Salomo het geantwoord: “As hy bewys lewer dat hy betroubaar is, sal hy niks oorkom nie. Maar as hy dit nie doen nie, sal hy sterf.”

53. Koning Salomo het Adonia ontbied, en hy is van die altaar af gebring. Hy het voor die koning gebuig en Salomo het gesê: “Gaan na jou huis toe.”