hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Salomo vra vir wysheid om te

regeer

1. Salomo het ’n verdrag gesluit met Farao, die koning van Egipte. Hy het met een van sy dogters getrou en haar na die Dawidstad toe gebring. Hy het haar daar laat woon totdat hy sy paleis, die tempel van die Here en die muur rondom die stad voltooi het.

2. Toe het die Israeliete nog oral op die hoogtes geoffer omdat daar nog nie ’n tempel tot eer van die Naam van die Here was nie.

3. Salomo het die Here liefgehad en het volgens die voorskrifte van sy pa, Dawid, gelewe. Hy het egter ook nog op die hoogtes geoffer.

4. Die belangrikste van hierdie altare was by Gibeon. Daarom het die koning daarheen gegaan en 1 000 brandoffers geoffer.

5. Daardie nag het die Here in Gibeon in ’n droom aan Salomo verskyn en God het gesê: “Vra wat jy wil hê en Ek sal dit vir jou gee!”

6. Salomo het geantwoord: “U was baie goed vir my pa, Dawid, omdat hy eerlik, opreg en getrou aan U was. U was besonder goed deur boonop vir hom ’n seun te gee wat hom kon opvolg.

7. O Here my God, U het my koning gemaak in die plek van my pa, Dawid. Maar ek is soos ’n klein seuntjie wat nog nie weet hoe om op te tree nie.

8. Hier is ek tussen die mense van die volk wat U uitverkies het, ’n volk so talryk dat hulle nie getel kan word nie!

9. Gee my tog die vermoë om met verstandigheid en regverdigheid oor u volk te regeer, want wie kan op sy eie oor hierdie groot volk van U regeer?”

10. Die Here was tevrede met Salomo se antwoord en was bly dat hy hierdie dinge gevra het.

11. Die Here het hom geantwoord: “Omdat jy dit gevra het en nie vir ’n lang lewe of rykdom of die dood van jou vyande nie, maar vir onderskeiding om met insig te kan oordeel;

12. daarom sal Ek vir jou gee wat jy gevra het. Ek sal jou die vermoë gee van wysheid en insig soos niemand voor jou gehad het of na jou sal hê nie!

13. Daarby gee Ek vir jou ook dit waarvoor jy nie gevra het nie, naamlik rykdom en aansien. So lank as wat jy leef, sal geen koning met jou vergelyk kan word nie.

14. As jy My dien en gehoorsaam is aan my voorskrifte en bepalings soos jou pa, Dawid, sal Ek jou ’n lang lewe gee.”

15. Toe het Salomo wakker geword en besef dat dit ’n droom was. Hy het na Jerusalem toe teruggekeer en voor die verbondsark van die Here gaan staan en brandoffers en maaltydoffers gebring. Daarna het hy al sy amptenare op ’n groot feesmaal trakteer.

Salomo se wysheid word bekend

16. ’n Tyd daarna het twee prostitute na die koning toe gekom vir beslegting van ’n geskil.

17. “Asseblief, my heer die koning,” het die een gesê, “ek en hierdie vrou bly saam in dieselfde huis. Ek het ’n baba in die wêreld gebring terwyl sy by my in die huis was.

18. Drie dae later het sy ook ’n baba gehad. Ons was alleen, en daar was geen ander persoon nie. Dis net die twee van ons wat in die huis was.

19. Een nag het haar seuntjie gesterf toe sy op hom gelê het.

20. In die middel van die nag het sy opgestaan terwyl ek nog geslaap het en my seuntjie gevat. Sy neem toe haar dooie kind, lê hom in my arms en neem myne om by haar te slaap.

21. Toe ek in die oggend my kind wou laat drink, ontdek ek dat hy dood is! Maar toe ek hom later in die oggend goed bekyk, merk ek dat dit glad nie my seun is nie.”

22. Die ander vrou val haar toe in die rede: “Nee! Die een wat lewe, is my seun! Die dooie een is beslis jou seun!”“Nee,” sê die eerste vrou, “die seuntjie wat dood is, is joune en die lewende een is myne!” So het hulle voor die koning met mekaar gestry.

23. Toe sê die koning: “Albei van julle maak aanspraak op die lewende kind, en albei sê die dooie een is die ander een s’n.

24. Goed, bring vir my ’n swaard.” Iemand het vir hom ’n swaard gebring.

25. Hy sê toe: “Sny die lewende kind in twee en gee ’n helfte vir elkeen van hulle!”

26. Maar die ma van die lewende kind roep toe uit: “Nee, my heer! Gee dan liewer die lewende kind vir haar, maar moenie hom doodmaak nie!”Maar die ander vrou sê: “Dis goed so, dan sal hy nóg myne nóg joune wees. Sny hom deur!”

27. Toe sê die koning: “Moenie die kind doodmaak nie. Gee die lewende kind aan die eerste vrou. Sy is die regte ma!”

28. Die koning se uitspraak het in die hele Israel bekend geword. Hulle het groot respek vir die koning gekry, want hulle het besef dat God besondere wysheid aan hom gegee het om regverdig te kan oordeel.