hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jerobeam verwerp

1. In hierdie tyd het Jerobeam se seun Abia baie siek geword.

2. Jerobeam sê toe vir sy vrou: “Vermom jouself sodat niemand jou as Jerobeam se vrou kan herken nie. Gaan dan na die profeet Agija in Silo, die man wat gesê het dat ek koning oor hierdie volk sou word.

3. Vat vir hom tien brode, koeke en ’n kruik vol heuning saam. Hy sal vir jou sê wat met die seun sal gebeur.”

4. Jerobeam se vrou het toe na Agija se huis in Silo gegaan. Teen hierdie tyd kon hy nie meer sien nie omdat die ouderdom sy oë ingehaal het.

5. Maar die Here het reeds vir Agija ingelig: “Jerobeam se vrou kom hiernatoe en sal haar voordoen as iemand anders. Sy sal navraag doen oor haar seun, want hy is baie siek. Antwoord haar soos Ek vir jou sê.”

6. Toe Agija haar voetstappe by die deur hoor, roep hy: “Kom binne, vrou van Jerobeam! Hoekom gee jy voor dat jy iemand anders is? Ek het slegte nuus vir jou.

7. Gaan sê vir Jerobeam: ‘Dit is wat die Here, die God van Israel sê: Ek het jou uit die gewone mense geneem en jou heerser van Israel gemaak.

8. Ek het die koningskap afgeskeur van die Dawidshuis en dit vir jou gegee. Maar jy was nie soos my dienaar Dawid wat my bevele gehoorsaam het, My ten volle gedien het en volgens my eise gelewe het nie.

9. Jy het meer kwaad gedoen as almal voor jou. Jy het ander gode gemaak en My met jou goue kalwers uitgetart. Omdat jy jou rug op My gedraai het,

10. sal Ek rampe oor jou koningshuis laat kom. Ek sal elke manlike uit die nageslag van Jerobeam uitroei uit Israel, of dit slawe of vry mense is. Ek sal jou koningshuis verbrand soos ’n mens rommel verbrand totdat daar niks oor is nie.

11. Die honde sal elkeen wat aan Jerobeam behoort en wat in die stad sterf, opvreet, en dié wat in die veld sterf, sal die roofvoëls verslind. Dit sal gebeur, want die Here het dit gesê.’

12. “Jy kan nou maar huis toe gaan. Wanneer jy die stad binnekom, sal die kind sterf.

13. Die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe. Hy is die enigste van die familie van Jerobeam wat begrawe sal word, want hierdie kind is die enigste een in die familie van Jerobeam in wie die Here, die God van Israel, iets goeds gekry het.

14. Die Here sal vir Hom ’n koning oor Israel aanstel wat die hele familie van Jerobeam sal uitwis. Dit sal binnekort, sonder versuim, gebeur!

15. Dan sal die Here Israel tref soos vloedwater ’n riet tref. Hy sal die mense van Israel uitruk uit hierdie goeie land wat Hy vir hulle voorouers gegee het en hulle verstrooi tot anderkant die Eufraatrivier, want hulle het die Here uitgetart met pale wat aan Asjera gewy was.

16. Hy sal Israel prysgee oor die sonde van Jerobeam, en omdat hy die hele Israel laat sondig het.”

17. Jerobeam se vrou het na Tirsa toe teruggegaan. Toe sy oor die paleis se drumpel stap, het die kind gesterf.

18. Hulle het hom begrawe en die hele Israel het oor hom gerou soos die Here deur Agija die profeet gesê het.

19. Die ander gebeurtenisse tydens Jerobeam se regering, al sy oorloë en hoe hy regeer het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

20. Jerobeam het twintig jaar lank in Israel regeer. Toe Jerobeam later sterf, het sy seun Nadab hom as koning opgevolg.

Rehabeam regeer in Juda

21. Intussen het Rehabeam oor Juda regeer. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was sewentien jaar lank koning in Jerusalem, die stad wat die Here uit al die stamme van Israel gekies het as die plek waar sy Naam vereer moet word. Rehabeam se ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou.

22. Gedurende die regering van Rehabeam het die Judeërs gedoen wat verkeerd was vir die Here. Met hulle sondes het hulle die Here meer getart as wat hulle voorouers gedoen het.

23. Hulle het op elke hoë heuwel en onder elke groen boom hoogtes gebou en klippilare en pale gewy aan Asjera opgerig.

24. Daar was ook manlike tempelprostitute in die land. Die Judeërs het dieselfde afskuwelike praktyke beoefen as die heidennasies wat die Here ter wille van die Israeliete uit die land verdryf het.

Sisak val Jerusalem aan

25. In die vyfde regeringsjaar van koning Rehabeam het koning Sisak van Egipte gekom en Jerusalem aangeval.

26. Hy het die tempel van die Here en die koninklike paleis geplunder. Hy het alles gevat, selfs die goue skilde wat Salomo laat maak het.

27. Daarna het Rehabeam skilde van brons gemaak om dit te vervang, en het dit in die sorg van die hoof van die lyfwagte by die ingang van die paleis geplaas.

28. Elke keer wanneer die koning na die tempel van die Here gegaan het, het die wagte die skilde saamgedra en dit daarna weer in die wagte se kamer gebêre.

Rehabeam kom te sterwe

29. Die ander gebeurtenisse tydens Rehabeam se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.

30. Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam.

31. Toe Rehabeam sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg.