hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die noordelike stamme breek

weg

1. Rehabeam het na Sigem toe gegaan waar die hele Israel vergader het om hom tot koning te kroon.

2. Jerobeam seun van Nebat was nog in Egipte waarheen hy vir Salomo gevlug het. Toe hy hiervan hoor, het hy uit Egipte teruggekom.

3. Die leiers van Israel het Jerobeam laat kom en hy het saam met die hele Israel na Rehabeam toe gegaan.

4. “U pa het ons ’n swaar las laat dra,” het hulle gesê. “Verminder tog die arbeidslas wat u pa op ons gelê het sodat die juk wat ons dra ligter kan wees. Dan sal ons u onderdane bly.”

5. Rehabeam het geantwoord: “Gee my drie dae en kom dan terug vir my antwoord.” Die volk het toe teruggegaan.

6. Daarna het koning Rehabeam die ouer mense geraadpleeg wat sy pa Salomo van raad bedien het. “Wat beveel julle aan?” vra hy. “Hoe moet ek die mense antwoord?”

7. Die ouer raadgewers het geantwoord: “As u vandag na die volk luister en hulle tevrede stel met ’n gunstige antwoord, sal hulle altyd u onderdane bly.”

8. Maar Rehabeam het die advies van die ouer raadsmanne verwerp. Hy vra toe raad by die jonger manne wat saam met hom grootgeword het en nou in sy diens was.

9. “Wat dink julle moet ek hierdie mense antwoord?” vra hy hulle. “Hulle wil hê dat ek die laste wat my pa op hulle gelê het, ligter maak.”

10. Die jong manne wat saam met hom grootgeword het, het hom geantwoord: “Jy moet soos volg reageer teenoor die mense wat gesê het: ‘U pa het ons ’n swaar las laat dra. Verminder tog die arbeidslas.’ Só moet jy vir hulle sê: ‘My pinkie is dikker as my pa se middellyf.

11. My pa het ’n swaar las op julle gelê;maar ek gaan die las nog swaarder maak!My pa het julle met swepe geslaan;maar ek sal julle metskerpioene teister!’”

12. Drie dae later het Jerobeam en die hele volk teruggekom volgens die koning se bevel: “Kom oor drie dae terug.”

13. Maar Rehabeam het die volk ’n harde antwoord gegee omdat hy die raad van die ouer manne verwerp het

14. en die volk geantwoord het volgens die raad van die jonger manne:“My pa het ’n swaar las op julle gelê;ek gaan die las nog swaarder maak!My pa het julle met swepe geslaan;maar ek sal julle metskerpioene teister!”

15. Die koning het nie toegegee aan die versoek van die volk nie. Hierdie wending was die werk van die Here volgens sy boodskap aan Jerobeam seun van Nebat deur die profeet Agija uit Silo.

16. Toe die Israeliete besef dat die koning hulle versoek verwerp het, het hulle geskreeu:“Wat het ons aan Dawid en sy koningshuis?In die seun van Isaihet ons geen aandeel nie!Gaan terug na julle huise toe,Israel!Sorg julle nou maar vir julleself, huis van Dawid!”Die volk het toe teruggegaan na hulle huise toe.

17. Rehabeam het bly regeer oor die Israeliete wat in die Judese stede gewoon het.

18. Koning Rehabeam stuur toe vir Adoniram wat oor die dwangarbeid was, na Israel toe. Die Israeliete het hom egter met klippe doodgegooi. Koning Rehabeam kon net betyds in sy strydwa kom en na Jerusalem toe vlug.

19. So het die noordelike stamme van Israel teen die koningshuis van Dawid in opstand gekom. Dit is tot vandag toe nog so.

20. Na die volk van Israel gehoor het dat Jerobeam terug was uit Egipte, het hulle hom na ’n vergadering laat kom en hom koning oor die hele Israel gemaak. Net die stam van Juda het getrou gebly aan die afstammelinge van Dawid.

Die boodskap van Semaja

21. Toe Rehabeam in Jerusalem terugkom, het hy die leër van Juda en Benjamin opgeroep. Daar was 180 000 uitgesoekte soldate wat teen die leër van Israel kon optrek om die koningskap vir hom terug te wen.

22. Maar God het vir Semaja, die man van God, beveel:

23. “Gaan sê vir Rehabeam, die koning van Juda, seun van Salomo, en vir die hele Juda en Benjamin en die res van die volk:

24. ‘Dis wat die Here sê: Moenie teen jou bloedverwante, die Israeliete, gaan veg nie. Gaan terug huis toe, want wat gebeur het, kom van My af.’” Hulle het die boodskap van die Here gehoorsaam en terug huis toe gegaan soos die Here beveel het.

Jerobeam maak aanbiddings-

plekke in die noorde

25. Jerobeam het Sigem in die Efraimsberge herbou en dit sy hoofstad gemaak. Hy het later verhuis en Pniël herbou.

26. Jerobeam het by homself gedink:

27. “Die koningskap kan maklik weer teruggaan na die koningshuis van Dawid. As hierdie volk aanhou om Jerusalem toe te gaan om daar by die tempel van die Here te offer, sal hulle weer vertroue kry in koning Rehabeam van Juda. Hulle sal my doodmaak en teruggaan na Rehabeam, die koning van Juda.”

28. Op advies van sy raadgewers het die koning toe twee goue beelde van kalwers gemaak. Hy sê toe: “Julle het nou lank genoeg Jerusalem toe gegaan, Israel. Hier is die gode wat julle uit Egipte gebring het!”

29. Hy het een kalwerbeeld in Bet-El opgerig en die ander een in Dan.

30. Dit het die volk tot sonde verlei. Die volk het selfs saam in die optog na Dan toe gegaan.

31. Jerobeam het heiligdomme op die hoogtes gebou, en het mense uit die volk wat nie uit die stam van Levi was nie, as priesters aangestel.

32. Jerobeam het ’n fees in die middelherfs in Bet-El gehou net soos die een in Juda. In Bet-El het hy op die altaar offers gebring vir die kalwerbeelde wat hy gemaak het. Hy het ook priesters aangestel vir die hoogtes in Bet-El.

33. Op die bepaalde dag in middelherfs het Jerobeam offers gebring op die altaar in Bet-El. Hy het self besluit oor die datum van die fees wat hy vir die Israeliete ingestel het. Hy het na die altaar gegaan om te offer.