hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Salomo bou die tempel

1. Ongeveer in die middel van die lente, vier jaar nadat hy koning geword het, het Salomo die tempel van die Here begin bou. Dit was 480 jaar nadat die Israeliete uit slawerny in Egipte verlos is.

2. Die tempel wat koning Salomo vir die Here gebou het, was 30 meter lank, tien meter breed en vyftien meter hoog.

3. Die voorportaal aan die voorkant van die tempel was tien meter lank, net so breed as wat die tempel was. Dit was vyf meter breed.

4. Salomo het ook vir die tempel vensters met kosyne en traliewerk ingebou.

5. Aan die buitekant van die mure rondom die voorste en die binneste heiligdom, het hy ’n platform gebou met drie vlakke:

6. die onderste vlak was twee en ’n half meter breed, die tweede drie meter en die boonste drie en ’n half meter. Elke vlak het op balke in die mure gerus sodat dit nie nodig was om dit in die tempelmuur self vas te bou nie.

7. Die klippe vir die bou van die tempel is reeds by die steengroef reg gekap. Gevolglik kon die hele gebou opgerig word sonder die geluid van hamers, beitels of enige ander ysterwerktuig.

8. Die ingang na die onderste vlak was aan die suidekant van die tempel. Daar was wenteltrappe waarmee ’n mens na die tweede vlak kon opgaan, en van daar na die boonste een.

9. Nadat Salomo die tempel voltooi het, het hy ’n dak van sederhoutbalke en planke gemaak.

10. Die vlakke op die platform buite om die gebou was elkeen twee en ’n half meter bo mekaar. Dit was met sederbalke in die tempelmuur vasgesit.

11. Die woord van die Here het weer na Salomo toe gekom:

12. “Jy bou nou hierdie tempel vir My, maar as jy al my bepalings en voorskrifte hou en my gebooie gehoorsaam, sal Ek vir jou doen wat Ek aan jou pa, Dawid, belowe het.

13. Ek sal tussen die Israeliete woon en nooit my volk in die steek laat nie.”

Die binnekant van die tempel

14. Salomo het die tempel voltooi.

15. Hy het al die mure en die plafon aan die binnekant met sederplanke bedek. Die vloer het hy van sipreshout gemaak.

16. Hy het aan die agterkant in die tempel ’n afskorting van die vloer tot teen die plafon gebou met sederplanke tien meter lank. Dit was die binneste heiligdom, genoem die Allerheiligste.

17. Die groter deel aan die binnekant van die tempel was die heiligdom. Dit was twintig meter lank.

18. Al die klipmure van die tempel aan die binnekant was beslaan met sederplanke waarop daar kalbasse en blomme uitgesny was. Alles was met sederhout bedek sodat niks van die klip sigbaar was nie.

19. Salomo het die binneste heiligdom agter in die tempel ingerig as die plek waar die ark van die Here gesit kon word.

20. Die afmetings van die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog. Die mure en plafon en ook die altaar met sederhout is met suiwer goud oorgetrek.

21. Daarna het hy die res van die tempel aan die binnekant met suiwer goud bedek. Hy het ook goue kettings gespan voor die ingang na die binneste heiligdom, wat ook met goud bedek was.

22. Hy het die hele tempel, asook die altaar in die binneste heiligdom met goud bedek.

23. In die binneste heiligdom het Salomo twee gerubs van olyfhout gesit. Elkeen was vyf meter hoog.

24. Elke vlerk was twee en ’n half meter lank en die vlerkspan van elke gerub was vyf meter van punt tot punt.

25. Die twee gerubs was identies in vorm en grootte,

26. elkeen vyf meter hoog.

27. Salomo het hulle langs mekaar in die binneste heiligdom van die tempel gesit. Hulle uitgespreide vlerke het van muur tot muur gestrek: die vlerk van die een het teen die muur geraak, terwyl die vlerk van die ander teen die ander muur geraak het. In die middel van die vertrek het hulle vlerke aan mekaar geraak.

28. Hy het die twee gerubs met goud oorgetrek.

29. Rondom teen al die mure van die binneste heiligdom en die hoofvertrek het hy uitgesnyde gerubs, palmbome en blomme laat aanbring.

30. Hy het ook die vloere van albei die vertrekke met goud oorgetrek.

31. Salomo het dubbeldeure van olyfhout by die ingang van die binneste heiligdom gemaak. Hulle kosyne was vyfkantig.

32. Op hierdie deure van olyfhout het hy gerubs en palmbome uitgekerf en met goud oorgetrek.

33. Daarna het hy kosyne van olyfhout gemaak vir die ingang van die tempel. Hulle was vierkantig.

34. Dié dubbeldeure was van sipreshout. Op elke deur was sirkels uitgesny.

35. Hierdie deure is verder versier met gerubs, palmbome en blomme wat daarop uitgekerf was. Alles is met goud oorgetrek.

36. Hy het die binneste hof met drie lae gekapte klip en een laag sederhoutbalke gebou.

37. Die fondamente van die Here se tempel is in die middel van die lente van die vierde regeringsjaar van Salomo gelê.

38. In die middel van die herfs, tydens sy elfde regeringsjaar, is die hele gebou tot in die fynste besonderhede en volgens die planne voltooi. Dit het dus sewe jaar geneem om die tempel te bou.