hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nabot se wingerd

1. Hierna het die volgende gebeur: Koning Agab van Samaria het ’n paleis in Jisreël gehad. Langs die paleis was ’n wingerd wat aan Nabot die Jisreëliet behoort het.

2. Op ’n dag sê Agab vir Nabot: “Aangesien jou wingerd net langs die paleis is, wil ek dit graag van jou koop vir ’n groentetuin. Ek sal vir jou ’n beter wingerd in ruil gee. Anders kan ek jou daarvoor betaal.”

3. Maar Nabot het Agab geantwoord: “Mag die Here verhoed dat ek die erfgrond van my voorouers vir u gee.”

4. Agab het huis toe gegaan en was bedruk en woedend oor Nabot se antwoord. Hy het op sy bed gaan lê met sy gesig na die muur toe en wou niks eet nie.

5. “Wat gaan met jou aan?” vra sy vrou Isebel vir hom. “Wat het jou dan so ontstel dat jy niks wil eet nie?”

6. “Ek het vir Nabot gevra om sy wingerd aan my te verkoop of dit met ’n ander wingerd te ruil, maar hy het geweier!” sê Agab vir haar. “Hy het gesê hy sal dit nooit vir my gee nie.”

7. “Is jy koning van Israel of nie?” vra Isebel. “Staan nou op en eet en moenie jou verder daaroor bekommer nie. Ek sal Nabot die Jisreëliet se wingerd vir jou kry!”

8. Sy skryf toe briewe namens Agab, plaas sy seël daarop en stuur dit aan die oudstes en leiers van die stad waar Nabot gewoon het.

9. In haar brief het sy beveel: “Kondig ’n vasdag af en laat Nabot op ’n prominente plek sit.

10. Laat twee gewetenlose manne teenoor hom gaan sit en laat hulle hom aankla: ‘Jy het God en die koning gevloek!’ Vat hom dan weg en stenig hom.”

11. Die oudstes en leiers het toe so gemaak soos Isebel in die brief geskryf het wat sy vir hulle gestuur het.

12. Hulle het ’n vasdag afgekondig en Nabot voor in die byeenkoms laat sit.

13. Twee gewetenlose manne het toe ingekom, teenoor hom gaan sit en Nabot voor al die mense aangekla: “Jy het God en die koning gevloek.” Hulle het hom toe uit die stad gesleep en met klippe doodgegooi.

14. Hulle laat weet toe vir Isebel: “Nabot is met klippe doodgegooi.”

15. Toe Isebel die nuus kry, sê sy vir Agab: “Staan op en gaan lê beslag op die wingerd wat Nabot nie aan jou wou verkoop nie. Jy kan dit maar kry, want hy is dood!”

16. Agab het dadelik na die wingerd toe gegaan en dit vir hom gevat.

Elia dra die Here se woord aan

Agab oor

17. Die Here het toe vir Elia die Tisbiet gesê:

18. “Gaan na Agab toe wat in Samaria as koning van Israel regeer. Hy is in Nabot se wingerd, wat hy in besit geneem het.

19. Gee vir hom die volgende boodskap: ‘Dit is wat die Here sê: Is dit nie sleg genoeg dat jy Nabot doodgemaak het nie? Moet jy hom nou ook nog beroof?’ Sê verder vir hom: ‘Net daar waar die honde Nabot se bloed opgelek het, daar sal die honde ook jou bloed oplek – ja, joune!’”

20. “So! Het my vyand my toe gekry?” vra Agab vir Elia.“Ja,” antwoord Elia. “Ek het jou gekry omdat jy jouself uitverkoop het om te doen wat vir die Here boos is.

21. Die Here sê: ‘Ek gaan ’n ramp oor jou bring en jou nageslag uitwis. Nie een van jou manlike afstammelinge in Israel, wie dit ook al is, sal dit oorleef nie!

22. “‘Omdat jy My getart en Israel laat sondig het, gaan Ek jou koningshuis uitroei soos Ek met Jerobeam seun van Nebat, en die koningshuis van Baesa seun van Agija gedoen het.’

23. “Oor Isebel het die Here gesê: ‘Die honde sal Isebel by die stadsmuur van Jisreël opvreet.’

24. En wat die res van jou familie betref: ‘Hulle wat in die stad sterf – die honde sal hulle opvreet; hulle wat in die veld sterf – die roofvoëls sal hulle verslind.’”

25. Daar was nie nog iemand wat soveel boosheid voor die Here bedryf het soos Agab waartoe sy vrou Isebel hom aangehits het nie.

26. Hy het afskuwelik opgetree deurdat hy afgodsbeelde aanbid het net soos die Amoriete wat die Here ter wille van die Israeliete uit die land gedryf het.

27. Toe Agab hierdie boodskap hoor, het hy sy klere geskeur, rouklere aangetrek en gevas. Hy het selfs in ’n roukleed geslaap en neerslagtig rondgeloop.

28. Die Here het weer ’n boodskap vir Elia die Tisbiet gegee:

29. “Het jy opgelet dat Agab homself voor My verootmoedig het? Omdat hy dit gedoen het, sal Ek die ramp nie gedurende sy lewe laat gebeur nie. Ek sal eers tydens die regering van sy seun die ramp oor sy familie bring.”