hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 2 Die Boodskap (DB)

Nebukadnesar se droom

1. In sy tweede regeringsjaar het koning Nebukadnesar ’n droom gehad wat hom so omgekrap het dat hy nie kon slaap nie.

2. Hy laat roep toe sy towenaars, toekomsvoorspellers, besweerders en sterrevoorspellers om vir hom te kom sê wat hy gedroom het. Toe hulle voor hom staan,

3. sê hy vir hulle: “Ek het ’n droom gehad wat my baie omkrap. Ek wil nou by julle weet wat dit beteken.”

4. Die sterrevoorspellers het in Aramees vir die koning gesê: “Lank lewe die koning! As u net vir ons sê wat u gedroom het, sal ons vir u presies kan sê wat dit beteken.”

5. Maar die koning antwoord hulle: “Kyk, ek het besluit julle moet vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken. As julle dit nie kan doen nie, sal ek julle stadig laat doodmaak en julle huise sal verwoes word sodat die mense wat daar verbyloop, sal dink dis ’n ashoop.

6. Aan die ander kant, as julle wel vir my kan sê wat ek gedroom het en wat dit beteken, sal ek julle vereer en vir julle baie geskenke gee. Dit is mos eenvoudig: al wat ek wil hê, is dat julle vir my moet sê wat ek gedroom het en wat dit beteken.”

7. Hulle sê toe weer vir die koning: “Asseblief, U Majesteit, vertel ons net wat u gedroom het, dan verduidelik ons vir u wat dit beteken.”

8. “Dis nes ek gedink het!” het Nebukadnesar gebulder. “Julle is besig om vir tyd te speel omdat julle weet ek is ernstig oor wat ek gesê het.

9. As julle nie my droom onmiddellik uitlê nie, is dit verby met julle. Julle het saam besluit om aan te hou om vir my leuens te vertel in die hoop dat iets dalk kan verander. Ek wil nóú by julle weet wat ek gedroom het sodat ek kan sien dat julle ook die droom kan uitlê!”

10. Toe sê die sterrevoorspellers vir die koning: “Daar is nie ’n mens op hierdie aarde wat kan doen wat u van ons verwag nie. Geen koning, hoe groot of magtig hy ook al was, het nog ooit so iets van sy towenaars, toekomsvoorspellers of sterrevoorspellers verwag nie.

11. Dit is onmoontlik vir ’n mens om te doen wat u vra. Net die gode sou so iets kon doen, maar ongelukkig bly hulle nie hier op aarde tussen die mense nie.”

12. Die koning was buite homself van woede oor hierdie antwoord. Daarom het hy beveel dat al die koninklike raadgewers in Babel doodgemaak moes word.

13. Hierdie koninklike opdrag, dat al die koning se raadgewers doodgemaak moes word, het ook vir Daniël en sy vriende ingesluit. Hulle is gesoek.

God wys vir Daniël wat die droom beteken

14. Toe Arjok, die bevelvoerder van die koning se lyfwagte, kom om hulle dood te maak, het Daniël met hom gepraat. Hy het sy woorde versigtig gekies en sonder om aanstoot te gee

15. vir Arjok gevra waarom die koning so ’n wrede opdrag gegee het. Arjok het toe vir hom vertel wat presies gebeur het.

16. Daniël het toe dadelik na die koning toe gegaan en vir hom gevra om nie die opdrag te laat uitvoer nie, sodat hy die koning se droom vir hom kon uitlê.

17. Daniël is toe terug huis toe, waar hy vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel het wat gebeur het.

18. Hy het hulle gevra om tot die God van die hemel te bid om vir hulle goed te wees en om vir hulle te sê wat die geheim van die droom was sodat hulle nie saam met al die ander raadgewers van Babel doodgemaak sou word nie.

19. Daardie selfde nag nog is die geheim in ’n visioen aan Daniël bekendgemaak. Hieroor het Daniël die God van die hemel geprys:

20. “Prys God se Naam nou en vir altyd, Hy alleen het al die kennis en mag.

21. Hy bepaal die koers van alles en almal in die wêreld; Hy haal konings uit hulle magsposisies uit en stel ander in hulle plek aan. Hy gee kennis en insig.

22. Hy maak geheime dinge bekend; Hy weet wat in die donker gebeur, maar Hyself word deur die lig omring.

23. Ek loof en prys U, God van my voorouers, U het vir my kennis en mag gegee en na my gebed geluister. U het vir ons gewys wat om vir die koning te sê.”

Daniël sê vir die koning wat hy

24. Daniël is toe daar weg na Arjok toe wat die opdrag gehad het om al die koninklike raadgewers dood te maak. Hy sê toe vir hom: “Moenie die raadgewers doodmaak nie. Vat my na die koning toe. Ek sal sy droom se betekenis vir hom verduidelik.”

25. Arjok het dadelik vir Daniël na koning Nebukadnesar toe gevat en vir hom gesê: “Ek het tussen die Judese gevangenes iemand gekry wat U Majesteit se droom kan verduidelik.”

26. Die koning het vir Daniël, wat ook Beltsasar genoem is, gevra: “Is dit waar? Kan jy regtig vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken?”

27. Daniël het geantwoord: “Daar is geen raadgewer, waarsêer of sterrevoorspeller wat in staat is om te doen wat u verwag nie.

28. Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime bekend kan maak. Hy het in die droom aan u, koning Nebukadnesar, kom wys wat in die toekoms gaan gebeur. Daarom sal ek nou vir u vertel wat die gesig beteken wat u in u droom gesien het.

29. “Terwyl U Majesteit geslaap het, het u oor die toekoms gedroom. God wat sulke geheime bekend kan maak, het vir u gewys wat in die toekoms gaan gebeur.

30. Nou, die rede waarom ek u droom kan uitlê, is nie omdat ek slimmer is as enige ander mens nie, maar omdat God wou hê dat u moet weet wat die betekenis van die droom was. U moet verstaan waaroor u gedink het.

31. “U Majesteit het in u droom ’n groot beeld gesien wat voor u staan. Dit was hoog en blink; iets skrikwekkends.

32. Die beeld se kop was van soliede goud; sy bors en arms van silwer en sy maag en heupe van brons;

33. sy bene was van yster. Sy voete was een deel van yster en ’n ander deel van klei gemaak.

34. Terwyl u nog so na die beeld kyk, het ’n rots op ’n bonatuurlike manier van die berg af losgebreek en teen die voete van yster en klei vasgerol en hulle totaal verwoes.

35. Die hele beeld het inmekaargeval in ’n hoop yster, klei, brons, silwer en goud. Die rots het dit alles fyngerol soos kaf op ’n dorsvloer. Die wind het opgekom en alles weggewaai sonder dat ’n spoor daarvan oorgebly het. Daarna het die klip begin groei totdat dit ’n berg geword het wat die hele aarde volgemaak het.

36. “Dit was u droom. Nou sal ek vir u verduidelik wat dit beteken.

37. U Majesteit, u is die grootste van al die konings. Die God van die hemel het u die sterkste op aarde gemaak. Hy het vir u mag, gesag en eer gegee.

38. Hy het u die heerser oor die hele aarde gemaak. U beheer selfs die diere en die voëls. U is die kop van goud.

39. Ná u koninkryk sal daar ’n ander koninkryk kom wat u plek sal inneem. Maar dit sal nie so sterk soos u s’n wees nie. Na die val van hierdie koninkryk sal daar ’n derde koninkryk kom. Dit is die bronsgedeelte van die beeld in u droom. Hierdie koninkryk sal groot en sterk word en oor die hele wêreld regeer.

40. Dan sal daar ’n vierde koninkryk ontstaan wat so sterk soos yster sal wees, wat alles breek en vernietig. So sal hierdie koninkryk al die vorige koninkryke breek en vernietig.

41. Maar u het gesien dat die voete en tone van die beeld in u droom gedeeltelik van klei en gedeeltelik van yster was. Dit beteken dat hierdie koninkryk ook in homself verdeeld sal wees.

42. Sommige dele sal so sterk soos yster wees en ander weer so swak soos klei, soos dit maar in so ’n mengsel gebeur.

43. U het ook gesien dat die yster en die klei gemeng was. Dit beteken dat die regeerders van hierdie koninkryk hulle koninkryk sal probeer verenig deur met mekaar te ondertrou. Dit sal nie werk nie, net so min as wat yster en klei kan meng.

44. Tydens hierdie konings se regering sal die God van die hemel ’n koninkryk laat ontstaan wat nooit vernietig sal word nie. Niemand sal hierdie koninkryk kan oorwin nie, maar dit sal al die ander koninkryke vernietig totdat dit alleen oorbly vir altyd.

45. Dit is die betekenis van die rots wat op ’n bonatuurlike wyse van die berg losgekom en die beeld van yster, brons, klei, silwer en goud totaal verwoes het. Die magtige God het vir u kom wys wat in die toekoms gaan gebeur. Die droom is waar en my verduideliking hiervan is ook die waarheid.”

Nebukadnesar beloon Daniël

46. Hierna het koning Nebukadnesar diep voor Daniël gebuig en hom met groot respek behandel. Die koning het ook beveel dat daar ’n graan- en ’n wierookoffer vir hom gebring moes word.

47. Toe sê die koning vir Daniël: “Jou God is die grootste van al die gode, Hy regeer oor al die konings en Hy maak geheime bekend. Ek sê dit omdat Hy hierdie geheim aan jou bekendgemaak het.”

48. Die koning het Daniël vereer en hom met duur en mooi geskenke oorlaai. Hy het hom aangestel as regeerder oor die hele provinsie Babel en hom ook hoof gemaak van al die koning se raadgewers.

49. Op Daniël se versoek is Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie Babel. Daniël self het in die paleis gebly.