hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 4 Die Boodskap (DB)

Nebukadnesar se tweede droom

1. Koning Nebukadnesar het die volgende boodskap aan al die volke, nasies en taalgroepe van die wêreld gestuur: “Mag daar vrede en voorspoed vir julle wees!

2. “Ek wil julle vertel van al die tekens en wonders wat die allerhoogste God my laat sien het.

3. “Hoe asemrowend is sy tekens! Hoe ongelooflik is sy wonders! God is vir ewig koning en Hy heers vir ewig!

4. “Ek, Nebukadnesar, het rustig en voorspoedig in my paleis gebly.

5. Maar toe een aand terwyl ek op my bed gelê en slaap het, het ek ’n skrikwekkende droom met vreesaanjaende visioene gehad.

6. Ek het toe beveel dat al die koninklike raadgewers na my toe moes kom om die droom vir my te kom uitlê.

7. Al die towenaars, toekomsvoorspellers, sterrevoorspellers en besweerders het toe na my toe gekom. Ek het vir hulle vertel wat ek gedroom het, maar nie een van hulle kon dit vir my verklaar nie.

8. Uiteindelik het Daniël, ook genoem Beltsasar na die naam van my god, na my toe gekom. Die Gees van die heilige God is in hom en ek het vir hom van my droom vertel.

9. Ek het vir hom gesê: Hoofraadgewer Beltsasar, ek weet dat die Gees van die heilige God in jou is en dat daar nie ’n geheim is wat jy nie kan verklaar nie. Kom ek vertel jou wat ek gedroom het, dan verklaar jy dit vir my.

10. “Ek het hierdie visioen in my slaap gehad: ek het ’n groot boom in die middel van die aarde sien staan.

11. Hierdie boom het al hoe groter en sterker geword totdat die top daarvan naderhand aan die hemel geraak het en die hele wêreld dit kon sien.

12. Sy blare was dig en lowergroen en daar was soveel vrugte aan die boom dat daar genoeg was vir almal om van te eet. Die wilde diere het in die skaduwee van die boom kom lê en rus en die voëls het in sy takke nes gemaak. Almal het van die boom se vrugte geëet.

13. Terwyl ek nog so lê en droom, het ek ’n hemelse wese, ’n opsigter uit die hemel, sien kom.

14. Hy het kliphard uitgeroep: ‘Kap af die boom. Sny sy takke af! Stroop hom kaal van al sy blare en vrugte! En jaag al die diere en voëls weg wat daar kom rus en nes maak het.

15. Los net die stomp van die boom met sy wortels in die grond met die gras wat daarom groei. Bind dan ’n band van yster en brons om die stomp. Dit sal elke aand op ’n mens dou omdat hy buite moet slaap en hy sal saam met die diere van plante leef.

16. Hy sal sewe jaar lank nie soos ’n mens dink en reageer nie, maar soos ’n dier.

17. “‘Hierdie bevel is deur die hemelse opsigters gegee. Die engele maak hierdie dinge bekend. Die doel hiervan is om vir die hele wêreld te wys dat die allerhoogste God oor al die koninkryke van die aarde heers. Hy het die mag om dit te gee aan wie Hy wil, selfs al sou dit in die wêreld se oë onbelangrike mense wees.’

18. “Dit is die droom wat ek gehad het,” het koning Nebukadnesar gesê. “Beltsasar, nou moet jy vir my sê wat dit beteken. Nie een van my ander raadgewers kon dit vir my uitlê nie, maar jy kan, want die Gees van die heilige God is in jou.”

Daniël lê die droom uit

19. Toe Daniël, wat ook Beltsasar genoem is, dit hoor, was hy aanvanklik so geskok dat hy nie ’n woord kon uitkry nie. Maar die koning het vir hom gesê: “Beltsasar, jy moenie dat die droom en sy betekenis jou so ontstel nie.”Hierop het Beltsasar hom geantwoord: “O, hoe wens ek tog dat die gebeure wat in hierdie droom voorspel word, eerder met u vyande sou gebeur en nie met U Majesteit nie!

20. U het ’n groot boom gesien wat so groot en sterk geword het dat dit aan die hemel geraak het sodat almal dit kon sien.

21. Dit het mooi blare en baie vrugte gehad waarvan almal kon eet. Die wilde diere het daar gerus en die voëls het daar nes gemaak.

22. Daardie boom is u, U Majesteit! U het magtig en sterk geword; u roem is selfs in die hemel bekend; u mag strek oor die hele aarde.

23. Terwyl U Majesteit nog besig was om te kyk, het ’n hemelse opsigter, ’n engel uit die hemel, gekom en gesê: ‘Kap die boom tot teen die grond af. Los net die stomp van die boom met sy wortels in die grond met die gras wat daarom groei. Bind dan ’n band van yster en brons om die stomp. Dit sal elke aand op die mens dou omdat hy buite moet slaap en hy sal saam met die diere van plante leef. Hy sal sewe jaar lank nie soos ’n mens dink en reageer nie, maar soos ’n dier.’

24. “Nou sal ek vir U Majesteit die droom se betekenis verduidelik, want dit is wat die allerhoogste God oor u besluit het.

25. U gaan uit die gemeenskap verstoot word sodat u saam met die wilde diere moet gaan bly. Sewe jaar lank sal u gras eet soos ’n bees en in die veld slaap, waar die dou op u sal val. Dan sal u moet erken dat die allerhoogste God oor al die koninkryke van die wêreld regeer en dat Hy die mag kan gee aan wie Hy wil.

26. Die feit dat die engel die opdrag gegee het dat die stomp moet bly staan, beteken dat u weer u koninkryk sal terugkry sodra u geleer het dat die God van die hemel oor alles heers.

27. U Majesteit, luister asseblief na my! Breek met u sonde deur te doen wat reg is en goed te wees vir die armes. Wie weet of u voorspoed nie dalk kan aanhou nie.”

Die droom word waar

28. Maar al hierdie dinge het wel met koning Nebukadnesar gebeur.

29. Twaalf maande later, terwyl hy op die daktuin van sy paleis in Babel rondgeloop het,

30. het hy oor die stad uitgekyk en gesê: “Kyk net watter asemrowende stad is Babel! Deur my eie mag en krag het ek hierdie hoofstad gebou om vir die wêreld te wys hoe groot en belangrik ek is.”

31. Sy woorde was nog nie behoorlik koud nie, toe sê ’n stem uit die hemel: “Koning Nebukadnesar, so is besluit: jou koninkryk word nou van jou af weggevat.

32. Jy gaan uit die gemeenskap weggedryf word sodat jy saam met die wilde diere in die veld sal leef en gras sal eet soos ’n bees, sewe jaar lank. Dan sal jy erken dat die allerhoogste God oor al die aardse koninkryke heers en dat Hy dit kan gee aan wie Hy wil.”

33. Dit het dadelik gebeur. Nebukadnesar is uit die gemeenskap weggejaag en hy het gras geëet soos ’n bees. Elke nag het die dou hom sopnat gedou. Sy hare het naderhand so lank geword dat dit op sy skouers gehang het en sy naels het soos die kloue van ’n voël gelyk.

Nebukadnesar prys God

34. “Aan die einde van die sewe jaar het ek, Nebukadnesar, na die hemel toe opgekyk. Toe het my verstand weer na my toe teruggekeer. Dadelik het ek die allerhoogste God wat vir altyd lewe, geloof en sy Naam grootgemaak. Ek het gesê: Hy regeer vir ewig. Sy heerskappy sal nooit tot ’n einde kom nie.

35. Die mense op aarde is niks in vergelyking met Hom nie. Hy doen net wat Hy wil met die magte van die hemel en die mense op die aarde. Niemand kan Hom teëstaan of vir Hom vra: ‘Wat doen U?’ nie.

36. “Saam met my verstand het ek ook weer my waardigheid, my eer en my koningskap teruggekry. My raadgewers en my hoofamptenare het my met oop arms terugverwelkom. Hulle het my selfs met meer ontsag behandel as voorheen.

37. “Daarom loof, prys en eer ek, Nebukadnesar, nou die groot Koning van die hemel. Sy optrede is altyd regverdig en alles wat Hy doen, is goed. Hy het die mag om mense te verneder wat te veel van hulleself dink.”