hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 9 Die Boodskap (DB)

Daniël bid vir sy mense

1. Darius, die seun van Ahasveros, was ’n Mediër, maar hy het koning geword van die Babiloniërs.

2. Tydens sy eerste jaar as koning het ek die Woord van die Here bestudeer. Ek het toe gesien dat volgens die Woord van die Here soos Hy dit deur die profeet Jeremia laat opteken het, Jerusalem vir 70 jaar ’n verlate stad moes wees.

3. Daarom het ek met gebed en smeking voor die Here God gaan staan. Ek het glad nie geëet nie, rouklere aangetrek en as op my kop uitgegooi as teken van my opregtheid.

4. Toe het ek tot die Here my God gebid en bely: “O Here, U is ’n groot en verskriklike sterk God! U kom altyd u beloftes na teenoor die mense wat U liefhet en doen wat U van hulle verwag.

5. Maar ons het sonde gedoen en die pad byster geraak. Ons het in opstand teen U gekom en die rug vir u opdragte en reëls gedraai.

6. Ons het geweier om te luister na u boodskappers wat in u Naam met ons konings, ons leiers, ons voorouers en die hele volk gepraat het.

7. Here, U doen altyd wat reg is, maar ons is heeltyd besig om skandes te maak. Ons almal doen dit, dié wat in Juda en Jerusalem bly, maar ook dié wat U oor die hele wêreld verstrooi het omdat hulle nie na U wou luister nie.

8. Here, hierdie skande het oor ons gekom omdat ons konings, ons leiers en ons voorouers U in die steek gelaat het met hulle skandelike dade.

9. Ten spyte van ons opstandigheid is U, o Here ons God, bereid om ons te vergewe. Want U is ’n goeie God wat ons baie liefhet. “

10. Ons het nie geluister na U, ons Here en God, nie, want ons het nie gedoen wat u dienaars, die profete, vir ons gesê het nie.

11. Die hele Israel het die rug vir U gedraai en wou nie doen wat U van hulle verwag nie. Toe U met hulle gepraat het, het hulle hulle ore toegedruk. Daarom dra ons nou die gevolge van ons verkeerde dade soos U ons gewaarsku het in die wet van Moses, u dienaar.

12. U het gedoen wat U gesê het U met ons en ons leiers gaan doen. Wat met Jerusalem gebeur het, is die grootste ramp ooit.

13. Alles het gebeur net soos dit in die wet van Moses geskryf staan. En tog, Here ons God, het ons geweier om op te hou sonde doen. Ons wou nie na U toe terugkom om te kom sê ons is jammer nie.

14. Daarom het U ons nie jammer gekry nie. U het ons die gevolge laat dra van ons ongehoorsaamheid. Want U is ’n God wat doen wat U sê. U tree altyd reg op.

15. “Here, ons God, U het u mag bewys toe U u volk uit Egipte laat trek het. Daarom word u Naam tot vandag toe nog onthou en met groot respek behandel. Maar ons is sleg en vol sonde.

16. Here, U is vol goedheid en liefde; moet tog nie langer vir Jerusalem kwaad wees nie. Dit is tog u stad, u heilige berg staan daar. Dit is ons en ons voorvaders se skuld dat ons bure oor Jerusalem lag en spot.

17. O God, hoor tog as ek voor U pleit. Herstel tog u tempel wat verwoes is, sodat almal kan weet en sien dat U God is.

18. O my God, luister tog na my en hoor my versoek. Kyk net weer ’n bietjie na ons en sien in watter ellende ons is. En dit nogal in die stad wat u Naam dra. Ons vra nie u hulp omdat ons dit verdien nie, maar omdat ons weet dat U so goed en vol genade is.

19. Hoor, Here! Vergewe, Here! Tree op, doen asseblief iets! Dit is u stad en u mense oor wie u Naam uitgeroep is. Moenie wag nie, my God, sodat almal kan sien dat U God is.”

Gabriël se boodskap oor die ballingskap

20. Ek was nog besig om te bid en vergifnis te vra vir my eie en my volk se mislukkings en by die Here my God vir die stad van my God te pleit

21. toe Gabriël, wat ek in die vorige visioen gesien het, daar by my aankom. Dit was tyd vir die aandoffer.

22. Hy het vir my gesê: “Daniël, ek het gekom om jou te help om alles reg te verstaan.

23. Die oomblik toe jy begin bid, het God reeds besluit wat Hy gaan doen. Omdat God jou baie liefhet, het Hy my gestuur om vir jou te kom vertel wat gaan gebeur. Luister nou baie mooi sodat jy kan verstaan.

24. “Daar is 70 tydperke wat vasgestel is vir jou volk en hulle heilige stad: om ’n einde te maak aan hulle opstandigheid, om te vergeet van hulle mislukkings, om hulle goddeloosheid weg te vee en om God se reg te laat geskied. So sal my woorde en die visioen in vervulling gaan en die tempel weer in God se diens staan.

25. “Let op sodat jy dit reg kan verstaan! Vandat die opdrag gegee word dat Jerusalem herstel moet word totdat die leier wat God self gekies het, op die toneel verskyn, sal daar sewe keer sewe jaar verbygaan. Dit sal sewe maal 62 jaar neem om Jerusalem weer op te bou met strate en veilige mure. Dit gaan moeilike tye wees.

26. Aan die einde van die tydperk sal ’n leier onregverdig doodgemaak word. Die stad en die tempel sal deur ’n ander magtige leier se soldate verwoes word. Dan sal die einde, die oorlog en verwoesting wat God beplan het, soos ’n vloed kom en alles wegspoel.

27. Daardie leier sal ’n ooreenkoms van een maal sewe jaar met baie mense aangaan. Wanneer die helfte van hierdie tyd verby is, sal hy die diereoffers en die graanoffers in die tempel verbied. Hy sal ’n afstootlike afgodsbeeld op die altaar in die tempel neersit, ’n ding wat tot opstand sal lei. Die ding sal daar bly staan tot op die dag dat hierdie leier sy verdiende loon kry wat God vir hom beplan het.”