hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 12 Die Boodskap (DB)

Die einde van die tyd

1. “In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor jou hele volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ’n moeilike en onstuimige tyd wees, erger as ooit tevore. In daardie tyd sal almal uit jou volk wie se name in God se boek geskryf staan, gered word.

2. Baie van dié wat reeds dood is, sal dan opstaan; party om vir ewig te lewe en ander om vir ewig onder God se straf en veragting te leef.

3. Die goeie leiers sal in daardie tyd wees soos ’n helder dag sonder wolke in die lug. En dié wat mense op die regte pad gelei het, sal dan vir altyd skitter soos die sterre van die hemel.

4. Maar jy, Daniël, moet hierdie woorde geheim hou. Maak die boek toe en verseël dit sodat niemand dit kan oopmaak nie. So moet dit bly tot die laaste dae hier op aarde aangebreek het. Baie mense sal probeer agterkom wat aangaan, maar dit sal hulle niks help nie.”

5. Toe sien ek twee ander figure aan weerskante van die Tigrisrivier staan.

6. Een van hulle vra toe vir die man met die linneklere aan wat so ’n entjie stroomop gestaan het: “Hoe lank nog voordat hierdie verskriklike dinge ophou?”

7. Hy het toe albei sy arms na die hemel toe uitgesteek en ’n plegtige belofte afgelê in die Naam van Hom wat ewig lewe. Hy het gesê: “Vir die hele tyd wat reeds vasgestel is. Hierdie dinge sal ophou wanneer God se volk vernietig is.”

8. Ek het gehoor wat hy sê, maar nie mooi verstaan nie, en daarom het ek vir hom gevra: “Maar hoe gaan dit alles eindig?”

9. Hy het toe vir my gesê: “Jy moet gaan, Daniël, want hierdie woorde moet geheim gehou en weggesteek word tot die einde kom.

10. Baie mense sal tot bekering kom. Hulle sal op ’n nuwe manier begin leef en in hulle geloof versterk word as gevolg van hierdie swaar tye. Maar die goddelose mense sal nog erger aangaan en nog verder wegdwaal. Gelukkig sal die goeie leiers verstaan waaroor dit gaan.

11. Van die tyd af dat die mense verbied word om die ware godsdiens te beoefen, vandat hulle die gruwelike afgodsbeeld daar op die altaar in die tempel neersit, daardie ding wat tot verwoesting lei, sal 1 290 dae verloop.

12. Dié wat getrou bly aan God totdat die 1 335 dae verby is, sal gelukkig wees.

13. Maar jy moet volhard in jou geloof tot die einde toe. Dan sal jy doodgaan, maar jy sal opstaan en jou hemelse beloning kry aan die einde van die tyd.”