hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 1 Die Boodskap (DB)

1. In die derde jaar dat Jojakim koning van Juda was, het koning Nebukadnesar van Babel Jerusalem aangeval en die stad omsingel.

2. Hy het Jerusalem ingeneem en die Here het hom toegelaat om Jojakim gevange te neem. Hy het ook van die voorwerpe wat die Israeliete in die tempel gebruik het, saamgevat Babel toe. Daar het hy dit in die tempel van sy eie afgode gebêre.

3. Die koning het vir Aspenas, die hoofbeampte van die paleis, opdrag gegee om van die jongmense uit die koninklike familie en ook uit die ander belangrike families van Juda te kies en hulle paleis toe te bring.

4. Hulle moes sonder gebreke, sterk, aantreklik en slim wees. Hulle moes dinge vinnig kon snap en ingelig wees, en geskik vir werk in die koning se paleis. Aspenas moes hulle ook leer om Galdees, die taal van die Babiloniërs, te lees en te skryf.

5. Die koning het ook opdrag gegee dat hulle dieselfde kos en wyn as hy en sy gesin moes eet en drink. Hulle moes net die beste kry. Hulle moes vir drie jaar opleiding kry sodat hulle daarna as raadgewers van die koning in sy paleis kon werk.

6. Onder die Judese jongmense wat gekies is, was Daniël, Gananja, Misael en Asarja.

7. Die hoofbeampte van die paleis het egter vir hulle elkeen ’n ander naam gegee. Vir Daniël het hy Beltsasar genoem, vir Gananja Sadrag, vir Misael Mesag en vir Asarja Abednego.

8. Daniël het besluit om nie van die koning se ryk kos en wyn te eet en te drink nie. Dan sou hy ongehoorsaam wees aan die Israelitiese reëls oor wat ’n mens mag eet en wat nie. Daarom het hy die hoofbeampte van die paleis se toestemming gevra om dit nie te doen nie.

9. Deur God se goedheid het Aspenas baie respek vir Daniël gehad,

10. maar hy het vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het besluit wat julle moet eet en drink. As jy nie so goed soos die ander jongmense lyk nie, is ek in groot moeilikheid. Hy mag selfs besluit om my dood te maak.”

11. Daniël het toe vir die amptenaar wat deur Aspenas aangestel is om na hom en sy drie vriende om te sien, gesê:

12. “Gee ons tien dae kans om onsself te bewys. Laat ons toe om net water te drink en groente te eet.

13. Vergelyk ons dan met die ander jongmense wat die kos eet wat die koning voorgeskryf het. Besluit dan op grond van wat u sien of ons daarna met ons eie dieet kan aanhou of nie.”

14. Die amptenaar het toe ingestem dat hulle dit vir tien dae kon probeer.

15. Aan die einde van die tien dae het Daniël en sy vriende baie gesonder en sterker gelyk as al die ander jongmense wat die koning se kos geëet het.

16. Van toe af het die amptenaar hulle toegelaat om groente te eet in plaas van die ryk kosse en wyn wat die koning voorgeskryf het.

17. Deur God se goedheid was hierdie vier jongmans besonder slim. Hulle het goeie kennis van die belangrike boeke van daardie tyd gehad en baie wysheid. Boonop het Daniël die gawe gehad om visioene en drome uit te lê.

18. Aan die einde van die driejaarperiode wat die koning vasgestel het, het Aspenas al die jongmense na koning Nebukadnesar toe gevat vir ’n onderhoud.

19. Hy het met hulle almal gepraat, maar nie een van die ander het hom so beïndruk soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Daarom het hy hulle as raadgewers in sy paleis aangestel.

20. Die koning het gou agtergekom as dit by sake kom wat wysheid of ’n goeie oordeel vereis, was Daniël en sy vriende se raad baie beter as dié van enige van sy towenaars en fortuinvertellers.

21. Daniël het in die paleis bly werk tot die eerste regeringsjaar van koning Kores van Persië, die koning wat Babilonië verower het.