hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 11 Die Boodskap (DB)

1. “Ek en Migael staan reeds sedert die eerste jaar van koning Darius die Mediër se regering sy aan sy om mekaar te help en te versterk.”

Die konings van die suide en die noorde

2. “Wat ek jou nou gaan vertel, is die waarheid. Daar gaan nog drie konings oor Persië regeer. Na hulle kom daar ’n vierde koning, wat baie ryker as die ander gaan wees. Sy rykdom sal hom baie invloedryk maak en hy sal dit gebruik om al die ander wêreldmagte op te sweep om teen Griekeland in opstand te kom.

3. Dan sal ’n dapper koning op die toneel verskyn. Hy sal oor ’n groot en magtige ryk regeer en doen net wat hy wil.

4. Maar net sodra hy dink dat hy in beheer is, sal sy koninkryk uitmekaarskeur en in vier dele verdeel word. Dit sal nie sy kinders wees wat oor hierdie koninkryke regeer nie. Sy magtige ryk sal soos ’n boom ontwortel word en vir ander gegee word om op ’n ander plek te plant. Daarom sal dit nooit weer so magtig wees soos sy ryk nie.

5. “Die koning van die suide sal ’n magtige koning wees, maar een van sy generaals sal nog magtiger as hy word en selfs oor ’n nog groter koninkryk as hy regeer.

6. Later sal die koning van die noorde ’n ooreenkoms aangaan met die koning van die suide. Dan sal die koning van die noorde met die koning van die suide se dogter trou. Ongelukkig sal sy en haar pa hulle invloed oor hom verloor. Uiteindelik sal sy, haar pa, haar man en al haar volgelinge doodgemaak word.

7. Nie lank daarna nie sal een van haar familielede koning word. Hy sal hom gereedmaak vir oorlog teen die koning van die noorde en hom verslaan.

8. Hy sal hulle afgodsbeelde en hulle kosbare skatte van silwer en goud saam met hom terugvat Egipte toe. Vir ’n paar jaar sal daar weer vrede wees,

9. totdat die koning van Sirië besluit om Egipte aan te val, maar hy sal nie wen nie.

10. “Sy seuns sal hulle later vir oorlog klaarmaak en ’n groot leër bymekaarmaak. Hulle sal soos ’n vloedgolf water aangerol kom tot by een van die hoofstede van die koning van die suide.

11. Dit sal die koning van die suide so kwaad maak dat hy die koning van die noorde sal aanval en verslaan.

12. Hy sal baie trots en vol van homself wees oor sy oorwinning en oor al die vyande wat hy doodgemaak het. Maar sy oorwinning sal van korte duur wees.

13. “Die koning van die noorde sal teruggaan na sy land toe en vir hom nog ’n groter leër as die vorige keer bymekaarmaak. Later sal hy terugkom, maar hierdie keer met ’n baie sterker leër as voorheen.

14. Baie mense sal dan in opstand kom teen die koning van die suide. Selfs van jou eie volk se rebelle sal daaraan deelneem. Maar hulle gaan in die moeilikheid beland.

15. Dan sal die koning van die noorde een van die hoofstede omsingel, die mense uithonger en dit later inneem. Alhoewel die troepe van die suide baie dapper sal veg, sal hulle nie kan uithou nie. Selfs nie eers hulle beste soldate sal sterk genoeg wees nie.

16. Die koning van die noorde sal doen net wat hy wil en niemand sal in sy pad staan nie. Hy sal ook in die Beloofde Land intrek en dit oorneem.

17. Hy sal planne maak om sy volle weermag teen die koning van die suide te gebruik om hom te verslaan. As deel van die plan sal hy met die koning van die suide ’n ooreenkoms sluit en selfs sy dogter met hom laat trou. Maar hierdie plan sal nie slaag nie.

18. Dan sal die koning van die noorde die kusgebiede inneem. Maar ’n sterk leier van ’n ander gebied sal ’n einde maak aan sy arrogante optrede. Hy sal hom in eie munt terugbetaal.

19. Hierna sal die koning van die noorde na sy eie land toe teruggaan as ’n verslane man. Dit sal sy einde wees.

20. Sy opvolger sal ’n belastingbeampte aanstel wat die koning sal verryk. Hy sal nie baie lank regeer voordat hy doodgemaak word nie. Dit sal nie as gevolg van oorlog of ’n openbare verhoor wees nie.

21. “Hy sal opgevolg word deur ’n slegte man wat nie die reg het om koning te wees nie. Maar hy sal niksvermoedende mense om die bos lei met sy skelm planne en die koningskap oorneem voordat hulle hulle oë kan uitvee.

22. Hy sal enige mag wat hom probeer teëstaan, uit die pad vee, selfs ook die hoëpriester van God se eie volk.

23. Hy sal deur leuens en skelmstreke met baie ander lande ooreenkomste sluit om homself te bevoordeel. Al regeer hy oor ’n klein volkie, sal hy al hoe magtiger word.

24. Hy sal sonder waarskuwing een van die rykste provinsies binneval en vieslike dinge doen waarvan sy voorgangers nie eens gedroom het nie: hy sal die buit wat hy van die rykes gevat het vir sy volgelinge gee om dit onder hulle te verdeel. Hy sal ook planne maak om van die versterkte stede van die ander volke aan te val, maar dit sal nie lank wees voor die uurglas vir hom leegloop nie.

25. “Dan sal hy ’n groot leër bymekaarmaak om die koning van die suide aan te val. Die koning van die suide sal hom inwag met sy eie sterk en groot leër, maar dit sal hom niks baat nie, omdat daar stilletjies ’n komplot teen hom gesmee is.

26. Sy vertrouelinge sal hom in die rug steek. Baie van sy soldate sal in die geveg doodgaan en sy leër sal verslaan word.

27. Die twee konings sal om die tafel vir mekaar sit en lieg. Dit sal in elk geval nie help nie, want nie een van hulle sal kry wat hulle wil hê nie, omdat God anders besluit het.

28. “Hierna sal die koning van die noorde met al sy oorlogsbuit omdraai huis toe. Op pad terug sal hy eers probeer om God se verbondsvolk en hulle godsdiens uit te roei. Nadat hy met hulle gedoen het wat hy wou, sal hy uiteindelik koers kies terug huis toe.

29. “Later sal hy weer die suide binneval, maar hierdie keer sonder sukses.

30. Die Romeine sal met hulle vloot teen hom optrek en dit sal hom vinnig van besluit laat verander. Om sy vernedering te wreek sal hy sy woede op God se verbondsvolk kom uithaal. Daar sal hy luister na die mense wat nie meer in God glo nie.

31. Van sy soldate sal in die tempel ingaan en God se heilige Naam skend. Hulle sal die mense verbied om hulle godsdiens te beoefen en ’n gruwelike afgodsbeeld op die altaar in die tempel neersit, ’n ding wat tot opstand lei.

32. Hy sal dié wat reeds die rug vir God gedraai het, met vleitaal aan sy kant kry, maar die mense wat God dien, sal sterk staan teen hom.

33. Van die verstandige leiers sal aan die volk die regte leiding gee. Maar ook hulle sal vir ’n tyd lank doodgemaak, verbrand, beroof en in die tronk gegooi word.

34. Tydens daardie vervolging sal hulle darem ’n bietjie hulp van baie mense kry. Ongelukkig sal sommige mense wat hulle kom help, se motiewe nie heeltemal suiwer wees nie.

35. Party van die goeie leiers sal doodgemaak word. Dit alles sal die volk net sterker en meer vasberade maak om voluit vir God te leef. Hierdie vervolging sal aanhou tot die tyd kom wat God bepaal het.

36. “Die koning van die noorde sal doen net wat hy wil. Hy sal oor homself spog en sê dat hy groter is as enige god. So vol is hy van homself dat hy hom selfs met die allerhoogste God sal vergelyk. Hy sal hiermee aanhou totdat God se woede teen sy volk bedaar het. Want God het alles fyn beplan en dit sal gebeur soos Hy wil.

37. Hierdie koning van die noorde sal hom nie steur aan die gode van sy voorouers of aan daardie god wat party vroue aanbid of aan enige ander god nie. Hy sal loop en vertel dat hy sterker is as enigeen van hulle.

38. Hy sal die god van die versterkte stede aanbid, ’n vreemde god wat sy voorouers nie eens geken het nie. Hy sal hierdie vreemde god dien met geskenke van goud, silwer, edelstene en ander kosbare geskenke.

39. Met die hulp van hierdie vreemde god sal hy sy vyande se sterk stede aanval. Dié wat hom as koning erken, sal hy in hoë posisies in sy regering aanstel en vir hulle grond skenk as beloning.

40. “Wanneer die koning van die noorde se laaste uur byna aangebreek het, sal die koning van die suide hom aanval. Maar die koning van die noorde sal hom met sy volle leër teëstaan. Hy sal tegelyk sommer baie ander lande ook inneem. Hy sal oor hulle loop soos ’n rivier wat sy walle oorstroom.

41. Hy sal selfs die Beloofde Land weer inval en baie ander lande sal voor sy mag swig. Maar Edom, Moab en die grootste deel van Ammon sal sy inval vryspring.

42. Egipte sal nie loskom nie.

43. Hy sal Egipte se skatte van goud en silwer en ook die ander skatte vir homself vat. Hy sal ook die Libiërs en die Etiopiërs dwing om vir hom te werk soos slawe.

44. Dan sal allerhande stories uit die ooste en die noorde hom bereik wat hom so sal omkrap dat hy ’n klomp onskuldige mense sal doodmaak.

45. Hy sal kamp opslaan tussen die Middellandse See en die heilige berg waarop die tempel staan. Daar sal hy doodgaan sonder dat iemand hom kan help.”