hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 8 Die Boodskap (DB)

Daniël se visioen oor die skaap- en die bokram

1. In die derde jaar dat Belsasar koning was, het ek nog ’n visioen gesien.

2. In hierdie visioen het ek myself skielik in die hoofstad Susan in die provinsie Elam bevind. Ek het langs die Ulairivier gestaan.

3. Toe ek opkyk, sien ek ’n skaapram met twee lang horings daar langs die rivier staan. Een van die horings was langer as die ander een, al het dit ná die eerste een begin groei.

4. Ek het gesien hoe die ram na die weste en die noorde en die suidekant toe alles wat voorkom uit die pad stamp met sy horings. Daar was nie ’n dier wat sterk genoeg was om teen hom te veg of vir hom kon wegvlug nie. Hy het gedoen net wat hy wil en het al hoe sterker geword.

5. Terwyl ek nog hieroor staan en dink, kom daar uit die weste ’n bokram wat so vinnig beweeg het dat sy pote nie eens die grond geraak het nie. Ek het gesien hy het net een horing wat tussen sy oë sit.

6. Hy was op pad na die skaapram wat ek langs die rivier sien staan het.

7. Die volgende oomblik het hy die skaapram in sy woede stormgeloop en hom so hard gestamp dat al twee sy horings afgebreek het. Dit het hom heeltemal hulpeloos gemaak. Toe het die bokram hom platgestamp en hom met sy pote begin vertrap sonder dat iemand hom kon help.

8. Die bokram het al hoe sterker geword. Maar toe hy op sy heel sterkste was, is sy groot horing afgebreek. In die plek daarvan het daar vier ander groot horings uitgegroei wat elkeen in ’n ander windrigting gewys het.

9. Uit een van hierdie groot horings het daar ’n kleiner horinkie gekom wat baie sterk geword het. Sy krag het suid- en ooswaarts uitgebrei en ook in die rigting van die wonderlike land van Israel.

10. So magtig het hy geword dat hy selfs die hemel met sy magte aangedurf het. Hy was so sterk dat hy die sterre op die aarde neergegooi en hulle toe vertrap het.

11. Hy het selfs die Aanvoerder van die hemelse weermag se gesag uitgedaag. Hy het die daaglikse offers wat vir Hom gebring is, verbied en sy tempel vernietig.

12. In plaas daarvan dat die mense hulle daaglikse offers gebring het, het hulle verkies om in sonde te leef. Hulle het die wetboek van die Here onder hulle voete vertrap en leuens links en regs vertel. Alles wat hierdie horing aangepak het, was suksesvol.

13. Ek het toe twee hemelwesens met mekaar hoor praat. Die een het vir die ander een gevra: “Hoe lank gaan die gebeure in die visioen aanhou: die mense wat in sonde leef in plaas daarvan dat hulle die daaglikse offers bring, die tempel wat deur sonde besoedel word en die hemelse weermag wat so vertrap word?”

14. Die een het toe geantwoord: “Na 2 300 aande en oggende sal die tempel weer ’n plek word waar God gedien word.”

Die engel Gabriël

15. Ek was nog besig om te dink wat die visioen beteken toe daar skielik iemand wat soos ’n man lyk, voor my staan.

16. Toe hoor ek ’n stem uit die Ulairivier wat sê: “Gabriël, sê vir Daniël wat die visioen beteken wat hy gesien het!”

17. Gabriël het langs my kom staan, maar ek het so bang geword dat ek op die grond neergeval het. Hy sê toe vir my: “Klein mensie, jy moet verstaan dat die dinge wat jy gesien het, te make het met die laaste dae op aarde.”

18. Ek het bewusteloos geraak en inmekaargesak terwyl hy met my gepraat het. Maar hy het aan my geraak en ek kon weer regop staan.

19. Toe sê hy vir my: “Ek is hier om jou te wys hoe God se oordeel gaan wees, want wat jy gesien het, het te make met die laaste dae op aarde.

20. “Die skaapram met die twee horings verwys na die koninkryke van Medië en Persië.

21. Die bokram is die koninkryk van Griekeland en die groot horing tussen sy oë die eerste koning.

22. Die vier horings wat in die plek van die afgebreekte groot horing gekom het, wys dat die Griekse Ryk in vier dele gaan verdeel, elkeen met ’n eie koning, maar nie een van hulle sal so sterk soos die eerste koning wees nie.

23. Teen die einde van hulle regeringstyd, wanneer hulle sonde ’n hoogtepunt bereik het, sal daar ’n ander hardkoppige, barbaarse en slinkse koning op die toneel verskyn.

24. Hy sal baie sterk word, maar nie deur sy eie krag nie. Hy sal verskriklike verwoesting aanrig en suksesvol wees in alles wat hy aanpak. Hy sal magtige leiers verslaan en God se heilige volk onder sy voete stukkend trap.

25. Omdat hy mense maklik bedrieg, sal hy baie volke oorwin omdat hy hulle met sy skelm optrede onkant sal vang. Omdat hy verskriklik vol is van homself, sal hy baie volke heeltemal vernietig. Hy sal selfs uitdagend voor die Opperregeerder gaan staan. Dan sal hy vernietig word, maar nie deur ’n mens nie.

26. Wat die visioen oor die aande en die oggende aan jou gewys het, is waar. Maar jy moet dit vir eers geheim hou, want dit is nog baie lank voordat hierdie dinge gaan gebeur.”

27. Hierna het ek weer my bewussyn verloor. Ek was vir ’n hele paar dae siek. Na ’n ruk het ek weer opgestaan en aangegaan met my werk. Ek was egter nog steeds ontsteld oor die visioen omdat ek dit nie heeltemal verstaan het nie.