hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17 Bybel vir Almal (ABA)

Hosea, koning van Israel

1. Hosea seun van Ela het in Samaria koning van Israel geword in die twaalfde jaar nadat Agas koning van Juda geword het. Hosea was nege jaar lank koning.

2. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, maar hy was nie heeltemal so sleg soos die konings van Israel voor hom nie.

3. Toe koning Salmaneser van Assirië kom om hom aan te val, het Hosea gesê hy sal die koning van Assirië dien, en Hosea het toe begin om elke jaar belasting te betaal vir die koning van Assirië.

4. Later het die koning van Assirië uitgevind dat Hosea planne maak teen hom en dat hy boodskappers gestuur het na koning So van Egipte om te vra dat koning So hom moet help. Hosea het ook opgehou om belasting te betaal vir die koning van Assirië. Toe het die koning van Assirië vir Hosea laat vang en hy het Hosea in ’n tronk laat toesluit.

Die Assiriërs oorwin die stad Samaria

5. Die koning van Assirië het begin om oorlog te maak teen die hele land Israel. Hy het by Samaria gekom en hy het die stad drie jaar lank van al die kante aangeval.

6. In die negende jaar nadat Hosea koning geword het, het die koning van Assirië die stad Samaria oorwin, en hy het die mense van Israel gevang en weggevat na Assirië. Daar het hy hulle laat woon in die stad Galag, by die Gabor-rivier in die land Gosan, en in die stede van Medië.

7. Dit het gebeur omdat die mense van Israel sonde gedoen het teen hulle God die Here, die God wat vir hulle uit Egipte laat kom het en wat hulle vrygemaak het van die farao, die koning van Egipte. Die Israeliete het ander gode gedien

8. en hulle het dieselfde dinge gedoen wat die ander volke gedoen het. Die Here het daardie volke weggejaag om plek te maak vir die mense van Israel. Die konings van Israel het gedoen soos die konings van ander volke,

9. en die mense van Israel het hulle God die Here gedien soos die ander volke hulle gode gedien het. Hulle het offer-plekke gebou by al hulle stede, klein en groot.

10. Hulle het klip-pale en gewyde pale ingeplant op elke hoë heuwel en onder elke groen boom.

11. Hulle het wierook gebrand by al die offer-plekke, hulle het gedoen soos die ander volke. Die Here het daardie volke gevang en weggevat om plek te maak vir die mense van Israel. Maar die Israeliete het slegte dinge gedoen en hulle het die Here kwaad gemaak.

12. Die Here het gesê hulle mag nie die afgode dien nie, maar hulle het dit gedoen.

13. Die Here het al die profete en sieners gestuur om die mense van Israel en Juda te waarsku. Die Here het gesê: “Julle moet ophou om die slegte dinge te doen, julle moet gehoorsaam wees aan al my wette wat Ek vir julle voorvaders gegee het. Ek het dit vir julle laat weet toe Ek my dienaars die profete na julle toe gestuur het.”

14. Maar die mense van Israel wou nie luister nie, hulle was hardkoppig soos hulle voorvaders. Hulle voorvaders het nie geglo dat die Here sal doen wat Hy sê nie.

15. Hulle was ongehoorsaam aan sy wette en sy verbond wat Hy met hulle voorvaders gemaak het. Hulle het nie geluister toe Hy hulle gewaarsku het nie. Hulle het gode gedien wat vir hulle niks kon doen nie, en hulle, die mense van Israel, het self geword soos daardie gode. Die Here het gesê hulle moenie soos die ander volke doen nie, maar hulle het gedoen soos die ander volke.

16. Hulle was ongehoorsaam aan al die wette van hulle God die Here. Hulle het twee kalfbeelde gemaak en hulle het ’n gewyde paal ingeplant. Hulle het gebuig voor die son en die maan en al die sterre, en hulle het vir Baäl gedien.

17. Hulle het hulle kinders verbrand. Hulle het gedink dat hulle dinge weet wat ander mense nie kan weet nie en dat hulle na tekens kan kyk en kan sê wat sal gebeur. Hulle het dit geniet om slegte dinge te doen waarvan die Here nie hou nie, dinge wat Hom kwaad maak.

18. Die Here het baie kwaad geword vir die mense van Israel en Hy het hulle weggegooi. Net die Juda-stam het oorgebly.

19. Maar die mense van Juda was ook ongehoorsaam aan die wette van die Here, hulle het gelewe soos die mense van Israel.

20. Die Here het gesê die hele nageslag van Israel behoort nie meer aan Hom nie. Die Here het hulle laat swaarkry en Hy het mense in die land laat kom wat hulle goed kom vat het. En toe het die Here hulle heeltemal weggegooi.

21. Ja, die Here het Israel afgeskeur van die koningshuis van Dawid, en die mense van Israel het vir Jerobeam seun van Nebat koning gemaak. Jerobeam het die mense van Israel laat ophou om gehoorsaam te wees aan die Here, hy het hulle ’n groot sonde laat doen.

22. Die mense van Israel het al die sondes gedoen wat Jerobeam gedoen het. Hulle het aangehou om dit te doen,

23. totdat die Here die mense van Israel weggegooi het. Die Here het hulle voorheen gewaarsku dat Hy dit sal doen toe Hy al sy dienaars die profete na hulle toe gestuur het. Die vyande het die mense van Israel gevang en weggevat uit hulle land, en die mense van Israel is vandag nog in Assirië.

Die koning van Assirië laat mense uit ander lande in Samaria woon

24. Die koning van Assirië het mense gebring uit die stede Babel en Kuta en Awwa en Hamat en Sefarwajim, en hy het hulle in die plek van die mense van Israel laat woon in die stede van Samaria. Hulle het die land Samaria gevat en in die stede gaan woon.

25. Toe hulle daar kom woon het, het hulle eers nie die Here gedien nie, en die Here het leeus gestuur om party van hulle dood te maak.

26. Party mense het toe vir die koning van Assirië ’n boodskap gestuur en gesê: “Jy het volke gevang en weggevat en jy het hulle in die stede van Samaria laat woon. Daardie volke ken nie die wette van die God van die land nie, en Hy het toe leeus gestuur om hulle dood te byt omdat hulle nie die wette van die God van die land ken nie.”

27. Die koning van Assirië het toe gesê: “Julle moet een van die priesters wat julle daar gevang en weggevat het, laat teruggaan. Julle moet die priester daar in die land Israel laat woon sodat hy vir die mense die wette van die God van die land kan leer.”

28. Een van die priesters wat uit Samaria gekom het, het toe teruggegaan en hy het in die stad Bet-El gaan woon. Hy het vir die mense geleer hoe hulle die Here moet dien.

29. Maar al die mense wat in die land Israel kom woon het, het ook nog aangehou om vir hulleself gode te maak, en hulle het die gode gesit in die tempels by die offer-plekke wat die mense van Samaria gebou het. Die mense van die verskillende volke het dit gedoen in die stede waar hulle gewoon het.

30. Die mense van Babel het die god Sukkot-Benot gemaak, die mense van Kut het die god Nergal gemaak, die mense van Hamat het die god Asima gemaak,

31. die mense van Awwa het die gode Nibgas en Tartak gemaak, en die mense van Sefarwajim het hulle kinders verbrand vir die gode Adrammelek en Anammelek, die gode van Sefarwajim.

32. Maar hierdie mense het ook die Here gedien en hulle het hulle eie priesters gekies en aangestel. Die priesters het gewerk in die tempels by die offer-plekke.

33. Die mense het die Here gedien, maar hulle het ook hulle eie gode gedien soos hulle altyd gedoen het in die lande van waar hulle gekom het.

34. Hulle doen dit vandag nog. Hulle dien nie die Here reg nie, want hulle is nie gehoorsaam aan die wette wat die Here gegee het vir die nageslag van Jakob nie. Die Here het vir Jakob die naam Israel gegee

35. en die Here het ’n verbond gemaak met hom. Die Here het vir hulle gesê: “Julle mag nie ander gode dien nie en julle mag nie vir hulle buig nie en julle mag nie vir hulle offer nie.

36. Julle moet net die Here dien. Dit is Hý wat vir julle uit Egipte gebring het toe Hy groot wonderwerke gedoen het. Julle moet Hom dien en vir Hom buig en vir Hom offer,

37. en julle moet altyd gehoorsaam wees aan die wette wat Hy vir julle gegee het. Julle moenie ander gode dien nie.

38. Julle moenie die verbond vergeet wat Hy met julle gemaak het nie. Julle moenie ander gode dien nie.

39. Julle moet nét julle God die Here dien, dan sal Hy julle red van al julle vyande.”

40. Maar die mense het nie geluister nie, hulle het aangehou om te doen wat hulle altyd gedoen het.

41. Daardie mense wat toe in die land Israel kom woon het, het die Here gedien en hulle het ook hulle beelde gedien. Hulle en hulle kinders en hulle kleinkinders het dieselfde gedoen wat hulle voorvaders gedoen het. Hulle doen dit vandag nog.