hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 11 Bybel vir Almal (ABA)

Joas word koning van Juda

1. Toe Ahasia se ma, Atalia, hoor dat haar seun dood is, het sy dadelik die hele familie van die koning doodgemaak.

2. Maar Ahasia se suster Jehoseba het Ahasia se seun Joas weggeneem van die prinse, niemand het daarvan geweet nie. Atalia het al die ander prinse doodgemaak. Jehoseba was ’n dogter van koning Joram. Sy het vir Joas en die vrou wat hom moes oppas, weggesteek in ’n slaapkamer by die tempel sodat Atalia hom nie kon kry om hom dood te maak nie.

3. Hulle het vir Joas ses jaar lank in die tempel weggesteek terwyl Atalia oor die land regeer het.

4. Die volgende jaar het die priester Jojada gepraat met die offisiere van die wagte wat die koning moes oppas en met die wagte by die paleis. Hy het gesê hulle moet na die tempel kom. Jojada het ’n ooreenkoms gemaak met hulle. Hy het hulle in die tempel laat belowe dat hulle sal stilbly en toe het hy vir hulle die prins gewys.

5. Daarna het hy vir die wagte gesê: “Luister wat julle moet doen: Een derde van julle moet op die Sabbatdag kom wagstaan by die paleis,

6. een derde moet wagstaan by die Sur-poort en een derde moet wagstaan by die poort agter die wagte. Julle moet nou by die tempel wagstaan, elkeen moet wagstaan wanneer dit sy beurt is.

7. “Die twee groepe wat klaar waggestaan het, moet by die koning wagstaan, by die tempel.

8. Julle moet rondom die koning staan, elkeen met sy wapen in sy hand. As iemand probeer om tussen julle in te kom, dan moet julle hom doodmaak. Julle moet altyd by die koning wees, oral waar hy gaan.”

9. Die offisiere het alles gedoen wat die priester Jojada gesê het. Elke offisier het sy manne geneem, die manne wat op die Sabbatdag moet kom wagstaan en ook die manne wat klaar waggestaan het, en hulle het na die priester Jojada toe gekom.

10. Die priester het spiese en skilde vir die offisiere gegee. Dit het voorheen aan koning Dawid behoort en dit was in die tempel.

11. Al die wagte het met hulle wapens in hulle hande rondom die koning by die tempel gaan staan, van die suidekant van die tempel tot by die noordekant van die altaar.

12. Die priester het die prins uitgebring. Hy het die kroon op die prins se kop gesit en hy het vir hom ’n brief gegee. In die brief was geskryf dat hulle hom gekies en aangestel het om koning te wees. Hulle het hom gesalf en hom koning gemaak. Hulle het hande geklap en gesê: “Ons bid dat die koning lank sal lewe!”

13. Atalia het gehoor hoe skree die wagte en die ander mense. Hulle was by die tempel, en sy het na hulle toe gegaan.

14. En daar sien sy toe die koning staan by die pilaar waar konings altyd staan. Sy het ook gesien die amptenare en die mense wat die trompette blaas, is by hom, en sy het gehoor hoe al die belangrike mense van die land juig en trompette blaas. Atalia het haar klere geskeur en geskree: “Julle het my verraai! Julle het my verraai!”

15. Die priester Jojada sê toe vir die offisiere en vir die hoofde van die leër: “Vat haar uit buitetoe en maak die mense dood wat saam met haar gaan. Julle moet haar doodmaak, maar nie hier by die tempel nie.”

16. Hulle het Atalia gegryp en hulle het haar gevat na die hek waar die perde deurgaan na die paleis, en daar het hulle haar doodgemaak.

17. Jojada het ’n verbond gemaak tussen die Here en die koning en die volk. Hulle het belowe dat hulle ’n volk van die Here sal wees. Jojada het die verbond ook tussen die koning en die volk gemaak.

18. Al die belangrike mense van die land het toe na die Baäl-tempel gegaan en hulle het dit afgebreek. Hulle het die altare en die beelde stukkend geslaan, en hulle het vir Mattan, die priester van Baäl, daar by die altare doodgeslaan.Jojada het wagte by die tempel laat bly,

19. en toe het hy die offisiere en die wagte wat die koning moes oppas en al die belangrike mense van die land saam met hom geneem. Hulle het die koning uit die tempel gebring en hulle het hom deur die Wag-poort van die paleis geneem. Hulle het hom op die troon laat sit.

20. Al die belangrike mense van die land was bly, en die mense in die stad was tevrede en stil. Hulle het vir Atalia by die paleis doodgemaak.

21. Joas was sewe jaar oud toe hy koning geword het.