hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 15 Bybel vir Almal (ABA)

Ussia, koning van Juda

1. Ussia seun van koning Amasia van Juda het koning geword in die sewe-en-twintigste jaar nadat Jerobeam koning van Israel geword het.

2. Ussia was 16 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 52 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Jekolja, sy was van Jerusalem.

3. Ussia het dinge gedoen waarvan die Here hou, hy het gedoen soos sy pa Amasia.

4. Maar hy het nie die offer-plekke afgebreek nie. Die mense het nog op die offer-plekke ge-offer en wierook gebrand.

5. Die Here het die koning melaats laat word. Hy was melaats totdat hy gesterf het. Hy het apart in ’n huis gewoon, en sy seun Jotam het oor die paleis en die mense van die land regeer.

6. Al die ander dinge wat Ussia gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda.

7. Hy het gesterf, en sy mense het hom begrawe by sy voorvaders in die Dawidstad. Sy seun Jotam het koning geword ná hom.

Sagaria, koning van Israel

8. Sagaria seun van Jerobeam het in Samaria koning geword oor Israel in die ag-en-dertigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Sagaria was ses maande lank koning.

9. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het gedoen soos sy voorvaders. Hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het.

10. Sallum seun van Jabes het planne gemaak teen Sagaria en hy het Sagaria aangeval waar al die mense dit kon sien. Sallum het hom doodgemaak en hy het koning geword in Sagaria se plek.

11. Al die ander dinge wat Sagaria gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

12. Dit het gebeur soos die Here vir Jehu gesê het: “Jou nageslag sal tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.”*

Sallum, koning van Israel

13. Sallum seun van Jabes het koning geword in die nege-en-dertigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Sallum was een maand lank koning in Samaria.

14. Menahem seun van Gadi het van die stad Tirsa na Samaria gekom. Hy het vir Sallum daar aangeval en doodgemaak. Menahem het koning geword in Sallum se plek.

15. Al die ander dinge wat Sallum gedoen het en sy planne teen koning Sagaria is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

16. Sallum was koning toe Menahem die stad Tifsag oorwin het. Hy het almal in die stad en naby die stad doodgemaak. Hy het van Tirsa gekom, en die leiers van Tifsag wou nie die poorte van die stad oopmaak vir hom nie. Hy het al die vroue in die stad wat babas verwag het, oopgesny.

Menahem, koning van Israel

17. Menahem seun van Gadi het koning van Israel geword in die nege-en-dertigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Menahem was tien jaar lank koning in Samaria.

18. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het sy hele lewe lank aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het.

19. Koning Pul van die land Assirië het gekom om Israel aan te val. Menahem het 1 000 talente silwer vir Pul gegee. Hy wou hê Pul moes hom help om koning te bly.

20. Menahem het gesê elke man wat ’n stuk grond gehad het in die land Israel, moet 50 sikkels silwer vir hom gee. Hy het daardie geld vir die koning van Assirië gegee. Die koning van Assirië het toe teruggegaan, hy en sy manne het nie in die land gebly nie.

21. Al die ander dinge wat Menahem gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

22. Hy het gesterf, en sy seun Pekahia het koning geword ná hom.

Pekahia, koning van Israel

23. Pekahia seun van Menahem het in Samaria koning van Israel geword in die vyftigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Pekahia was twee jaar lank koning.

24. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het.

25. Peka seun van Remalja was ’n offisier van koning Pekahia. Peka het planne gemaak teen Pekahia en hy het Pekahia aangeval in Samaria in die toring van die paleis. Argob en Arje en 50 manne van Gilead was saam met Peka. Peka het vir Pekahia doodgemaak en hy het koning geword in Pekahia se plek.

26. Al die ander dinge wat Pekahia gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

Peka, koning van Israel

27. Peka seun van Remalja het in Samaria koning van Israel geword in die twee-en-vyftigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Peka was 20 jaar lank koning.

28. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het.

29. In die tyd toe Peka koning van Israel was, het koning Tiglat-Pileser van Assirië na Israel gekom. Hy het die stede Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes en Hasor oorwin. Hy het die hele land Naftali, die land Galilea en die land Gilead gevat. Hy het die mense gevang en weggevat na Assirië.

30. Hosea seun van Ela het planne gemaak teen Peka seun van Remalja. Hosea het Peka aangeval en doodgemaak en Hosea het koning geword in Peka se plek. Dit was in die twintigste jaar nadat Jotam seun van Ussia koning van Juda geword het.

31. Al die ander dinge wat Peka gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

Jotam, koning van Juda

32. Jotam seun van koning Ussia van Juda het koning geword in die tweede jaar nadat Peka seun van Remalja koning van Israel geword het.

33. Jotam was 25 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 16 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Jerusa dogter van Sadok.

34. Jotam het dinge gedoen waarvan die Here hou, soos sy pa Ussia.

35. Maar hy het nie die offer-plekke afgebreek nie. Die mense het nog op die offer-plekke ge-offer en wierook gebrand. Dit is Jotam wat die boonste poort van die tempel laat bou het.

36. Al die ander dinge wat Jotam gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda.

37. In die tyd toe Jotam koning was, het die Here begin om vir Resin koning van Aram en vir Peka seun van Remalja te stuur om Juda aan te val.

38. Jotam het gesterf, en sy mense het hom begrawe by sy voorvaders in die stad van sy voorvader Dawid. Sy seun Agas het koning geword ná hom.