hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 10 Bybel vir Almal (ABA)

Jehu laat die seuns van Agab doodmaak

1. Daar was 70 seuns van Agab in die stad Samaria. Jehu het briewe gestuur na die leiers in Samaria en na die mense wat Agab se kinders moes grootmaak. Hy het die briewe ook gestuur vir die leiers van die stad Jisreël. In die briewe het hy geskryf:

2. “Julle koning se seuns is by julle, en ook sy oorlogkarre en perde en wapens, en julle is in ’n stad wat sterk mure het. Wanneer julle hierdie brief kry,

3. dan moet julle kyk watter seun van julle koning is die beste om die werk te doen. Dan moet julle hom op die troon van sy pa laat sit en julle moet veg vir die familie van julle koning.”

4. Die leiers het baie bang geword en gesê: “Twee konings kon nie teen Jehu wen nie, ons sal ook nie teen hom kan wen nie.”

5. Die bestuurder van die paleis en die burgemeester en die leiers en die mense wat die koning se kinders moes grootmaak, het toe vir Jehu ’n boodskap gestuur en gesê: “Ons wil vir jou werk, ons sal alles doen wat jy sê. Ons wil nie vir iemand anders koning maak nie. Jy moet doen wat jy dink is reg.”

6. Jehu skryf toe weer ’n brief en hy sê in die brief: “As julle kies om my te help en as julle wil doen wat ek sê, dan moet julle môre hierdie selfde tyd die koppe van die prinse vir my na Jisreël bring.”Die 70 prinse was in die stad by belangrike mense wat die kinders moes grootmaak.

7. Toe die brief by hierdie belangrike mense kom, het hulle die 70 prinse almal doodgemaak. Hulle het die koppe in mandjies gesit en hulle het dit vir Jehu in Jisreël gestuur.

8. Toe Jehu die boodskap kry dat hulle die prinse se koppe gebring het, het hy gesê: “Sit die koppe bymekaar in twee hope voor die poort en laat dit daar bly tot môre.”

9. Die volgende oggend het Jehu uitgegaan. Hy het by die poort gaan staan en vir al die mense gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ék wat planne gemaak het teen my koning, en ék het hom doodgemaak. Maar wie het al hierdie prinse doodgemaak?

10. Julle moet dit weet: Alles het gebeur wat die Here gesê het oor die familie van Agab. Die Here het sy dienaar Elia gestuur om die boodskap te bring, en die Here het gedoen wat Hy gesê het.”

Jehu maak die ander familie van Agab dood

11. Jehu het almal doodgemaak wat nog oor was van die familie van Agab in die stad Jisreël, ook al die belangrike amptenare van Agab, en sy vriende en sy priesters. Jehu het nie een laat aanhou lewe nie.

12. Daarna het hy gereedgemaak en na Samaria gegaan. Langs die pad by die stad Bet-Eked-Roïm

13. het hy koning Ahasia van Juda se broers gekry. Hy het gevra: “Wie is julle?”Hulle het gesê: “Ons is Ahasia se broers en ons gaan om te hoor hoe dit gaan met die prinse en met die seuns van die koning se ma.”

14. Jehu sê toe: “Vang hulle lewendig!”Sy manne het Ahasia se broers gevang en doodgemaak by die watergat van Bet-Eked. Hulle was 42 mans, almal het gesterf, nie een het aangehou lewe nie.

15. Toe Jehu verder gaan, kry hy vir Jonadab seun van Rekab en hy groet hom en vra: “Jonadab, ek is jou vriend en ek wil jou help. Wil jy ook vir my help?”Jonadab het gesê: “Ja, ek wil jou help, gee vir my jou hand.”Jonadab het sy hand vir hom gegee en Jehu het vir Jonadab gehelp om op die oorlogkar te klim.

16. Hy het vir Jonadab gesê: “Jy moet saam met my kom, dan kan jy sien hoe werk ek vir die Here.”Jonadab het saamgery op die oorlogkar.

17. Toe Jehu in Samaria aankom, het hy al die familie van Agab wat nog gelewe het in Samaria, doodgemaak. Nie een het aangehou lewe nie. Dit was soos die Here vir Elia gesê het.

Jehu laat die mense doodmaak wat vir Baäl gedien het

18. Jehu het daarna al die mense laat bymekaarkom en hy het vir hulle gesê: “Agab het vir Baäl net ’n bietjie gedien, maar ek, Jehu, gaan vir Baäl baie dien.

19. Daarom, roep al die profete van Baäl en almal wat hom dien en al sy priesters. Julle moenie een laat wegbly nie, want ek wil vir Baäl ’n groot offer bring. Ek sal almal laat doodmaak wat nie kom nie.”Jehu het dit gesê omdat hy almal wou doodmaak wat vir Baäl gedien het.

20. Hy het gesê hulle moet vir almal sê daar sal ’n feesdag vir Baäl wees. Hulle het dit gedoen,

21. en Jehu het dit vir al die mense van Israel laat weet. Almal wat vir Baäl gedien het, het gekom. Niemand het by die huis gebly nie. Hulle het na die tempel van Baäl gekom, en die tempel was heeltemal vol, van die een kant tot by die ander kant.

22. Toe sê Jehu vir die amptenaar wat die klerekamer moes oppas: “Jy moet klere bring vir almal wat vir Baäl dien.”Die amptenaar se mense het die klere uitgebring,

23. en Jehu en Jonadab seun van Rekab het in die tempel van Baäl ingegaan en hulle het vir die mense wat vir Baäl gedien het, gesê: “Julle moet kyk, hier moenie dienaars van die Here tussen julle wees nie. Hier moet net mense wees wat vir Baäl dien.”

24. Hulle het toe ingegaan om die brand-offers en ander offers te bring. Jehu het 80 manne buite laat staan en hy het vir hulle gesê: “Julle moet hierdie mense doodmaak. As een van julle iemand hier vry laat wegkom, dan sal hy sterf.”

25. Dadelik nadat Jehu klaar die brand-offer ge-offer het, het hy vir die wagte en die offisiere gesê: “Gaan in en maak hulle almal dood, niemand moet uitkom nie.”Hulle het toe die mense wat vir Baäl gedien het, doodgesteek met swaarde. Die wagte en die offisiere het die dooie liggame uitgegooi. Toe het hulle in die agterste kamer van die tempel ingegaan

26. en hulle het die klip-pale uit die tempel van Baäl gebring en in die vuur gegooi.

27. Hulle het Baäl se klip-paal stukkend geslaan en hulle het die tempel van Baäl afgebreek. Hulle het ’n toilet daarvan gemaak. Dit is vandag nog so.

Jehu, koning van Israel

28. Party mense in Israel het voorheen vir Baäl gedien. Jehu het dit nou gestop.

29. Maar hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat die Israeliete laat doen het. Die goue kalfbeelde was nog in die stede Bet-El en in Dan.

30. Die Here het vir Jehu gesê: “Jy het dinge gedoen waarvan Ek hou, en jy het met die familie van Agab gedoen wat Ek wil hê. Daarom sal jou nageslag nog vier geslagte lank op die troon van Israel sit.”

31. Maar Jehu het nie met sy hele hart gedoen wat die wette van die Here sê nie, hy het nie opgehou om die sondes te doen wat Jerobeam die Israeliete laat doen het nie.

32. In die tyd toe Jehu koning was, het die Here begin om die land Israel kleiner te maak. Koning Gasael het die mense van Israel oral in die land oorwin.

33. Hy het die grond oos van die Jordaan-rivier gevat. Dit was die hele land Gilead waar die stamme Gad, Ruben en Manasse gewoon het, die hele land noord van die stad Aroër in die Arnon-vallei tot by die land Gilead en die land Basan.

Jehu sterf

34. Die ander dinge wat Jehu gedoen het, al die belangrike dinge wat hy gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

35. Jehu het gesterf, en sy mense het hom begrawe in Samaria. Sy seun Joahas het koning geword ná hom.

36. Jehu was 28 jaar lank in Samaria die koning van Israel.