hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Josua se afskeidsboodskap

1. Daar het ’n lang tyd verbygegaan sedert die Here vir Israel vrede met al sy bure gegee het. Josua het intussen baie oud geword.

2. Josua het die hele Israel bymekaargeroep, met al hulle leiers, hulle hoofde, hulle regters en hulle ampsdraers. Hy het vir hulle gesê: “Ek het baie oud geword.

3. Julle het gesien wat die Here julle God alles ter wille van julle met hierdie nasies gedoen het. Hy het aan julle kant geveg.

4. Ek het die gebiede van al die nasies wat nog oorgebly het onder julle verdeel, sowel hulle wat nog oorwin moet word as dié van al die nasies wat ek alreeds uitgeroei het. Dit is almal van die Jordaan af tot by die Middellandse See in die weste waar die son ondergaan.

5. Die Here julle God sal dié wat oor is, voor julle uit verjaag. Hy sal hulle verdryf sodat julle ook hulle grond kan oorneem. Dit is wat die Here julle God julle beloof het.

6. “Staan sterk en doen haarfyn alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses.

7. Moenie julle vereenselwig met hierdie nasies wat nog tussen julle oor is nie. Moenie eers hulle gode se name noem nie. Moenie hulle name gebruik wanneer julle ’n belofte maak nie. Julle moenie enigiets vir hulle doen of hulle aanbid nie.

8. Bly getrou aan die Here julle God, soos julle tot nou toe gedoen het.

9. Die Here het groot en magtige nasies voor julle uit verdryf. Tot nou toe was nie een van hulle teen julle opgewasse nie.

10. Een van julle kan selfs duisend van hulle op loop jaag, want die Here julle God veg aan julle kant. Dit is wat Hy julle beloof het.

11. “Konsentreer daarop om die Here julle God lief te hê.

12. As julle die Here laat los en julle vermeng met hierdie ander nasies wat tussen julle oor is en met hulle begin trou en saam met hulle leef,

13. moet julle nou al weet dat die Here julle God hierdie nasies nie verder voor julle uit gaan verdryf nie. Hulle sal ’n lokval vir julle word, ’n pyn in die heup en ’n doring in die oog wat julle sal laat verdwyn uit hierdie mooi land wat die Here julle God vir julle gegee het.

14. “Ek sal binnekort sterf. Julle moet egter in julle diepste binnekant oortuig wees dat al die wonderlike dinge wat die Here julle God vir julle beloof het, alles reeds plaasgevind het. Daar is nie een van hulle nog uitstaande nie.

15. Net so seker soos die Here julle God elke goeie ding wat Hy vir julle beloof het, laat gebeur het, net so seker sal Hy al die teëspoed oor julle bring wat Hy beloof het as julle aan Hom ongehoorsaam is. Hy sal julle uitroei uit hierdie mooi land wat Hy vir julle gegee het.

16. As julle die verbond verbreek wat die Here julle God met julle gemaak het en julle loop agter ander gode aan om hulle te dien en hulle te aanbid, sal die Here se woede teen julle losbreek en julle sal in ’n oogwink verdwyn uit hierdie mooi land wat Hy vir julle gegee het.”