hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Israel verloor teen Ai

1. Die Israeliete het kwaad gedoen. Hulle het nie met die ban gemaak soos die Here vir hulle gesê het nie. Akan, die seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag uit die stam Juda, het van die goed gevat wat deur die ban aan die Here gewy moes wees. Die Here het toe kwaad geword vir die Israeliete.

2. Josua het manskappe van Jerigo af na Ai toe uitgestuur. Ai was naby Bet-Awen en oos van Bet-El. Hy het vir hulle gesê: “Gaan en verken die land.” Die mans het toe Ai gaan verken.

3. Hulle het teruggekom en aan Josua rapporteer: “Die hele volk hoef nie daarteen op te trek nie. Daar hoef net so 2 000 of 3 000 man soontoe te gaan. Hulle sal Ai kan inneem. Dit is maar ’n klein plekkie.”

4. Ongeveer 3 000 mans het toe daarheen opgetrek. Hulle moes egter vlug voor die mense van Ai.

5. Die mense van Ai het die Israeliete van die poort van die stad af agternagesit en hulle gejaag tot by die klipskeure waar hulle omtrent 36 van hulle teen die skuinste doodgemaak het. Die volk se moed het in hulle skoene gesak.

6. Josua het sy klere geskeur. Hy het voor die ark van die Here op die grond neergeval en daar bly lê tot die aand toe. Hy en die leiers van Israel het stof oor hulle koppe gestrooi.

7. Josua het toe gehuil: “Ag, oppermagtige Here, waarom het U hierdie volk oor die Jordaan laat kom om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan vernietig? As ons tog maar liewer aan die ander kant van die Jordaan gebly het!

8. Here, wat kan ek nou sê nadat Israel vir sy vyande moes vlug?

9. Wanneer die Kanaäniete en almal wat in die land woon daarvan hoor, gaan hulle ons omsingel en ons van die aarde af verdelg. Wat sal dan van u eervolle Naam word?”

10. Die Here sê toe vir Josua: “Staan op. Hoekom lê jy daar op die grond?

11. Israel het oortree. Hulle het my ooreenkoms verbreek wat Ek met hulle gemaak het. Hulle het van die goed van die ban gevat. Hulle het daarvan gesteel. Hulle het daaroor gelieg en dit by hulle goed gaan wegsteek.

12. Die Israeliete sal nie weerstand kan bied teen hulle vyande nie. Hulle sal moet vlug vir hulle vyande, want hulle het nou self ’n banvloek geword wat vernietig moet word. “Ek sal nie langer by julle bly as julle nie alles tussen julle vernietig wat onder die ban staan nie.

13. Staan op! Laat die volk hulle reinig en toewy aan God. Sê vir hulle: ‘Kry julle reg vir môre. Die Here die God van Israel sê: Daar is nog van die goed van die ban onder julle, Israel. Julle sal nie teen julle vyande opgewasse wees solank julle dit nie onder julle verwyder het nie.

14. “‘Julle moet môre-oggend volgens julle stamme kom aanmeld. Die Here sal die skuldige stam uitwys. Daardie stam wat deur die Here aangewys word, moet met sy familie naderkom sodat die Here die skuldige familie onder hulle kan uitwys. Hulle moet weer volgens hulle gesinne een vir een naderkom dat die Here die gesin kan aanwys.

15. Die man wat met die bangoed in sy besit gevang word, moet met vuur verbrand word, saam met al sy mense. Hy het die ooreenkoms met die Here verbreek. Hy het iets skandeliks in Israel aangevang.’”

16. Josua het die volgende oggend vroeg opgestaan. Hy het Israel volgens sy stamme voor die Here laat kom. Die stam van Juda is aangewys.

17. Hy het die families uit Juda laat naderstaan en die Seragfamilie is uitgewys. Hy het toe die Seragfamilie laat naderkom. Sabdi is uitgewys.

18. Toe hy die gesinne van Sabdi een vir een laat naderkom, is Akan, die seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag, uit die stam van Juda, uitgewys.

19. Josua het toe vir Akan gesê: “My seun, erken die almag van die Here die God van Israel. Bely jou skuld voor Hom. Sê vir my wat jy gedoen het. Moenie iets vir my wegsteek nie.”

20. Toe sê Akan vir Josua: “Dit is waar. Ek het teen die Here die God van Israel oortree. Dit is wat ek gedoen het:

21. Ek het tussen die buit pragtige klere uit Sinar gesien en ook silwer van ongeveer twee kilogram en ’n stuk goud van meer as ’n halwe kilogram. Ek het dit begeer en toe vir myself gevat. Dit is in die grond in my tent weggesteek. Die silwer lê onder.”

22. Josua het toe mense gestuur. Hulle het na die tent toe gehardloop. Daar kry hulle toe alles weggesteek in die tent, met die silwer heel onder.

23. Hulle het dit uit die tent uitgehaal en dit vir Josua en al die Israeliete gebring. Hulle het dit daar voor die Here neergesit.

24. Josua en al die Israeliete het Akan die seun van Serag gevat en ook die silwer, die klere en die stuk goud, Akan se seuns en dogters, sy beeste, sy donkies, sy kleinvee, sy tent en alles wat aan hom behoort. Hulle is daarmee na die laagte van Akor toe.

25. Josua het met hom geraas: “Hoekom het jy onheil oor ons gebring? Die Here bring vandag onheil oor jou!” Die hele Israel het toe vir Akan en sy mense met klippe doodgegooi. Hulle het al sy besittings met vuur verbrand.

26. Hulle het hom onder ’n groot hoop klippe toegepak. Dit is vandag nog daar. Die Here se woede het toe afgekoel. Daardie plek se naam is tot vandag toe nog die Laagte van Akor.