hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Gibeoniete se slenter

1. Al die konings wes van die Jordaan het hiervan gehoor. Dit was die konings van die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Hulle het in die heuwelgebied, in die laagland en aan die kus van die Middellandse See tot so ver noord as die Libanonberge gebly.

2. Hulle het ’n verdrag met mekaar gesluit om teen Josua en die Israeliete te veg.

3. Ook die inwoners van Gibeon het gehoor wat Josua met Jerigo en Ai gedoen het.

4. Hulle het toe ’n slim plan gemaak. Hulle het mense na Josua gestuur. Die mense het verslete saalsakke oor hulle donkies gegooi en verslete wynsakke saamgevat wat geskeur en weer toegewerk was.

5. Hulle het ou gelapte sandale en verslete klere aangetrek. Hulle het ou brood vir padkos saamgevat.

6. Hulle het by Josua in die kamp by Gilgal aangekom en vir hom en die Israeliete gesê: “Ons kom van ’n ver land af. Ons wil graag met julle ’n verdrag sluit.”

7. Die Israeliete het vir die Hewiete gevra: “Bly julle nie miskien hier naby ons nie? Ons kan dan nie met julle ’n verdrag sluit nie.”

8. Hulle het egter vir Josua probeer gerusstel: “Ons is julle onderdane.” “Maar wie is julle regtig,” wou Josua weet, “en van waar af kom julle?”

9. Hulle het geantwoord: “Ons kom van ’n baie ver land af. Ons het gehoor van die Here u God en alles wat Hy met Egipte gedoen het.

10. Ons het ook gehoor van alles wat Hy gedoen het met die twee Amoritiese konings Sihon van Gesbon en Og van Basan in Astarot aan die ander kant van die Jordaan.

11. Ons leiers en die inwoners van ons land het ons beveel: ‘Vat kos vir die pad saam en gaan ontmoet die Israeliete. Sê vir hulle: Ons sal julle onderdane wees. Wil julle nie asseblief met ons ’n verdrag sluit nie?’

12. Hierdie brood wat ons vir padkos gevat het, was nog warm toe ons by die huis weg is. U kan sien dit is nou uitgedroog en verkrummel.

13. Ons wynsakke was nog nuut toe ons hulle vol gemaak het, nou is hulle geskeur. Ons klere en ons skoene is verrinneweer van die lang pad.”

14. Die Israeliete het die padkos bekyk. Hulle het egter nie by die Here gaan raad vra nie.

15. Josua het hulle gasvry behandel. Hy het met hulle ’n verdrag gesluit dat hulle lewens gespaar sal bly. Die leiers van die volk het die verdrag met ’n eed bevestig.

16. Drie dae nadat hulle met die Gibeoniete hierdie verdrag gesluit het, het die Israeliete egter uitgevind dat die Gibeoniete eintlik hulle bure is en naby hulle woon.

17. Die Israeliete het dadelik vertrek om ondersoek in te stel. Hulle het op die derde dag by die stede van die Gibeoniete aangekom. Die stede was Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim.

18. Die Israeliete het hulle nie aangeval nie. Die leiers van die volk het immers ’n eed voor die Here die God van Israel afgelê! Die hele volk het egter gekla oor wat die leiers gedoen het.

19. Die leiers het egter vir die volk gesê: “Ons het dan ’n eed voor die Here die God van Israel vir hulle afgelê. Ons kan hulle mos nie nou aanval nie.

20. Ons moet by die verdrag hou. Ons moet hulle laat bly leef sodat God nie op ons wraak neem as ons die eed verbreek wat ons teenoor hulle afgelê het nie.

21. Laat hulle bly leef, maar hulle moet die volk se houtkappers en waterdraers word.” So het die leiers hulle gepaai.

22. Josua het die Gibeoniete bymekaar geroep en vir hulle gevra: “Hoekom het julle ons so mislei? Julle het gesê dat julle baie ver van ons af bly, en hier woon julle al die tyd naby ons.

23. Julle is vervloek. Van nou af sal julle die houtkappers en waterdraers vir die huis van my God wees.”

24. Hulle het Josua geantwoord: “Dit is vir ’n feit aan u diensknegte vertel dat die Here u God vir sy dienaar Moses opdrag gegee het om die land in besit te neem en al sy inwoners voor julle uit te wis. Ons was bang dat ons doodgemaak sal word. Ons het toe hierdie plan uitgedink.

25. Ons is nou in u hand. U moet met ons maak soos dit vir u goed en reg is.”

26. Josua het gekeer dat die Israeliete hulle doodmaak.

27. Van daardie dag af tot vandag toe het Josua hulle die houtkappers en waterdraers vir die volk en vir die altaar van die Here gemaak, waar dit ook al was. Dit is vandag nog steeds so.