hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Grond vir die Manassestam

wes van die Jordaan

1. Daar is ook met die lot vir die stam Manasse ’n gebied toegeken. Manasse was Josef se oudste seun. Makir was weer Manasse se oudste seun. Sy seun was weer Gilead. Makir was ’n goeie soldaat. Hy het Gilead en Basan ontvang.

2. Grond wes van die Jordaan is ook gegee vir die oorblywende families van die stam Manasse. Hulle was Abiëser, Gelek, Asriël, Sekem, Gefer en Semida. Hulle was die families van die ander manlike afstammelinge van Manasse, die seun van Josef.

3. Selofgad, die seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Makir, seun van Manasse, het nie seuns gehad nie. Hy het net vyf dogters gehad. Hulle name was: Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa.

4. Hulle het na die priester Eleasar en Josua die seun van Nun en na die leiers toe gegaan en vir hulle gesê: “Die Here het vir Moses beveel om vir ons grond tussen die mense van ons stam te gee.”Josua het toe vir hulle grond tussen hulle pa se broers gegee, soos die Here gesê het.

5. Naas Gilead en Basan oos van die Jordaan, het Manasse dus ook nog tien dele ontvang.

6. Hierdie vroue uit die Manassestam het dus grond saam met die mans gekry. Die Gileadstreek het aan die ander deel van die stam van Manasse behoort.

7. Manasse se gebied was van Aser af tot by Mikmetat oos van Sigem, daarvandaan suid na die mense wat by die fontein van En-Tappuag gewoon het.

8. Die Tappuagstreek het aan Manasse behoort, maar Tappuag self, op die grens van Manasse, het aan die mense van Efraim behoort.

9. Van daar af loop die grens noordwaarts langs die Kanaspruit. Suid van die spruit lê dorpe tussen dié van Manasse wat aan Efraim behoort. Manasse se grens is noord van die spruit en dit loop dood teen die Middellandse See.

10. Die deel aan die suidekant van die spruit het dus aan Efraim behoort en dié aan die noordekant aan Manasse. Manasse se gebied loop tot teen die Middellandse See. Die gebied noord van Manasse het aan Aser behoort en die gebied oos van Manasse aan Issaskar.

11. Die volgende dorpe in die gebiede van Issaskar en Aser is vir Manasse gegee: Bet-San, Jibleam, Dor op die bergrug, En-Dor, Taänak en Megiddo met hulle dorpies rondom.

12. Die mense van Manasse kon nooit hierdie dorpe oorneem nie. Die Kanaäniete het altyd daar bly woon.

13. Toe die Israeliete later sterker geword het, het hulle die Kanaäniete gedwing om vir hulle te werk. Hulle kon egter nooit die dorpe inneem nie.

Gebied vir die afstammelinge

van Josef

14. Die afstammelinge van Josef het vir Josua gaan vra: “Waarom loot u vir ons net een stuk grond? Ons is baie mense, want die Here het ons met baie mense geseën.”

15. Josua het vir hulle gesê: “As julle dan te veel is vir die grond in Efraim, gaan op na die gebied van die Feresiete en die Refaïete en gaan kap vir julle daar ’n plek oop in die bosse.”

16. Hulle het vir Josua gesê: “Die heuwels is nie groot genoeg vir ons nie. Al die Kanaäniete wat in die vallei woon en in die gebied rondom Bet-San en op die Jisreëlvlakte is sterker as ons, want hulle het ysterstrydwaens.”

17. Josua het toe vir die nageslag van Josef, vir Efraim en Manasse, gesê: “Omdat julle so baie en so sterk is, sal ons met die lot vir julle meer as een deel aanwys.

18. Julle kan die beboste heuwelgebied ook kry. Maak dit skoon sodat julle daar kan woon. Die Kanaäniete het wel ysterstrydwaens en hulle is sterk. Julle is egter sterk genoeg om hulle uit te dryf.”