hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Oorwinning oor Jerigo

1. Jerigo se poorte was dig gesluit omdat hulle bang was vir die Israeliete. Niemand het dit gewaag om in of uit te gaan nie.

2. Die Here het vir Josua gesê: “Ek gee jou beheer oor Jerigo, sy koning en sy soldate.

3. Al die soldate moet een keer rondom die stad marsjeer. Doen dit vir die volgende ses dae.

4. Sewe priesters wat elkeen ’n ramshoring dra, moet voor die ark loop. Op die sewende dag moet julle sewe keer om die stad marsjeer. Die priesters moet dan hard op die ramshorings blaas.

5. Sodra julle hoor dat die priesters ’n uitgerekte sein op die ramshorings gee, moet almal ’n harde kreet gee. Die stad se muur sal dan inmekaarstort. Die manskappe kan dan daaroor klim om in die stad in te gaan.”

6. Josua, die seun van Nun, het toe die priesters bymekaargeroep. Hy het vir hulle gesê: “Tel die ark van die verbond op. Laat sewe priesters elkeen met ’n ramshoring voor die ark van die Here uit loop.”

7. Vir die volk het hy gesê: “Trek rondom die stad. Die afdeling soldate moet voor die ark van die Here uit marsjeer.”

8. Toe Josua klaar met die volk gepraat het, het die sewe priesters met die ramshorings voor die ark van die Here begin loop. Hulle het op die ramshorings geblaas. Die ark van die verbond van die Here het agter hulle aan gekom.

9. Terwyl die priesters heeltyd op die ramshorings geblaas het, het die soldate voor hulle uit marsjeer. Die res van die volk het agter die ark gevolg.

10. Josua het die volk gewaarsku: “Moenie skreeu nie. Moenie ’n geluid maak nie. Daar moenie ’n woord uit julle mond kom voor die dag dat ek vir julle sê: ‘Skreeu!’ nie. Dan moet julle hard begin skreeu.”

11. Hy het die ark van die Here toe een maal om die stad laat gaan. Daarna is hulle terug na hulle kamp toe en het die nag in die kamp gebly.

12. Josua was die volgende môre vroeg op. Die priesters het weer die ark van die Here gedra.

13. Die sewe priesters met die ramshorings het voor die ark van die Here geloop en op die ramshorings geblaas. Die soldate het voor hulle uit marsjeer. Die volk het agter die ark van die Here aangekom. Die priesters het die hele tyd op die ramshorings geblaas.

14. Op die tweede dag het hulle weer een keer om die stad geloop en teruggegaan na hulle kamp toe. So het hulle ses dae lank gemaak.

15. Op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan toe dit nog skemer was. Hulle het oudergewoonte om die stad gegaan, maar op hierdie dag sewe keer.

16. Die sewende keer het die priesters die teken op die ramshorings gegee. Josua het vir die volk geskreeu: “Gee die kreet! Die Here gee die stad vir julle!

17. Die stad is ’n banoffer vir die Here. Die stad en alles wat daarin is, moet heeltemal uitgewis word. Die prostituut Ragab en almal wat by haar in die huis is, moet bly lewe. Sy het die verkenners wat ons uitgestuur het, weggesteek.

18. Bly weg van die goed wat vernietig moet word sodat julle nie julleself onder die ban bring nie. Moenie enigiets vat van die goed wat aan die Here behoort nie. Julle sal die kamp van Israel ’n banvloek maak. Julle sal onheil daaroor bring.

19. Alles wat van silwer en goud gemaak is en al die brons- en ystergoed behoort aan die Here. Alles moet in die skatkis van die Here kom.”

20. Toe die volk hoor dat die ramshorings die teken gee, het hulle die aanvalskreet uitgeskreeu. Die mure het inmekaargestort. Almal het oorgeklouter, reguit die stad in. Hulle het die stad ingeneem.

21. Hulle het alles in die stad met die swaard uitgewis: mans en vroue, oud en jonk, selfs die beeste, die skape en die donkies.

22. Josua het vir die twee mans wat die land kom verken het, gesê: “Gaan na die prostituut se huis toe en bring die vrou met almal wat by haar is daar uit, soos julle haar beloof het.”

23. Die twee verkenners het gegaan en vir Ragab, haar pa en ma, haar broers en hulle gesinne en haar familie uitgebring. Die mans het hulle na ’n veilige plek buite die kamp van Israel gebring.

24. Hulle het die stad met alles wat daarin was, verbrand. Die goed wat van silwer en goud gemaak was en die brons- en ystergoed het hulle egter in die skatkis van die Here se heiligdom gaan sit.

25. So het Josua die prostituut Ragab en haar familie wat saam met haar in die huis was, laat bly leef. Sy het haar tussen die Israeliete gevestig tot vandag toe. Sy het die mans wat Josua gestuur het om Jerigo te gaan verken, weggesteek.

26. In daardie tyd het Josua ’n eed afgelê: “Die Here vervloek die man wat die stad Jerigo probeer herbou. As hy weer sy fondament probeer lê, sal dit hom sy oudste seun kos. As hy die deure van die poorte weer probeer insit, gaan hy sy jongste seun verloor.”

27. Die Here was met Josua. Josua het deur die hele land beroemd geword.