hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Josua se noordelike veldslae

1. Koning Jabin van Hasor het van Josua se veldslae gehoor. Hy het boodskappe na Jobab, koning van Madon, gestuur en ook na die konings van Simron en Aksaf.

2. Sy boodskappe het ook uitgegaan na die konings in die noordelike heuwelgebied, dié in die Jordaanvallei suid van die See van Galilea, in die kusvlakte en in die heuwels van Dor by die Middellandse See,

3. die Kanaäniete – oos en wes – die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete in die heuwelgebied en die Hewiete aan die hange van die Hermonberg in die Mispegebied.

4. Almal het met hulle leërs en perde en strydwaens saamgetrek vir oorlog teen Israel. Hulle was so baie soos die sandkorrels op die strand.

5. Al hierdie konings het ’n bondgenootskap gesluit. Hulle het almal by die Meromwaters bymekaargekom en reggemaak om teen Israel te gaan veg.

6. Die Here het toe vir Josua gesê: “Jy moenie vir hulle bang wees nie. Môre hierdie tyd sal Ek hulle aan Israel oorgee en dan sal hulle almal dood wees. Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.”

7. Josua en sy hele mag het na die Meromwaters opgeruk en hulle in ’n verrassingsaanval oorval.

8. Die Here het vir Israel die oorwinning gegee. Hulle het die vyand agtervolg tot by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en tot in die Mispelaagte in die ooste. Die Israeliete het hulle uitgeroei totdat daar nie een oor was nie.

9. Josua het gemaak soos die Here gesê het en hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand.

10. Josua het toe omgedraai en Hasor ingeneem. Hy het sy koning met die swaard doodgemaak. Hasor was destyds die hoofstad van al die omringende koninkryke.

11. Hulle het elke lewende wese in die stad doodgemaak en niemand gespaar nie. Josua het die stad afgebrand.

12. Hy het ook al die omringende dorpe ingeneem en hulle konings en inwoners uitgewis. Dit was soos Moses, die dienaar van die Here, beveel het.

13. Israel het egter nie die plekke wat op ruïneheuwels gebou was, afgebrand nie. Josua het net Hasor afgebrand.

14. Alles wat hulle in hierdie stede kon buit en die vee het Israel vir hulleself gehou. Hulle het die mense uitgeroei tot daar nie een oor was nie.

15. Alles wat die Here sy dienaar Moses beveel het, en wat Moses weer vir Josua opgedra het, het Josua gedoen. Hy het nêrens van enigiets wat die Here Moses beveel het, afgewyk nie.

16. Josua het die hele gebied ingeneem: die heuwelgebied, die hele Negevgebied, die hele Gosengebied, die kusvlakte, die Jordaanvallei en die heuwels van Israel met hulle valleie.

17. Die gebied van Israel het nou geloop van Kaalbergwat oploop na Seïr toe, tot by Baäl-Gad in die Libanonvallei aan die voet van die Hermonberg. Josua het al die konings van hierdie gebiede verslaan en hulle doodgemaak.

18. Die oorlog wat hy met hulle gemaak het, het lank geduur.

19. Behalwe die Hewiete wat in Gibeon gewoon het, wou geen stad met die Israeliete vrede sluit nie. Hulle moes almal deur gevegte verower word.

20. Dit was die Here wat hulle oorreed het om eerder oorlog teen Israel te maak sodat Israel hulle met die banvloek kon tref en hulle geheel en al kon uitwis soos die Here vir Moses gesê het.

21. Dit was in hierdie tyd dat Josua ook die afstammelinge van die Enakiete in die berge, in Hebron, Debir en Anab, in al die Judaberge en in al die Israelberge, uitgewis het. Josua het hulle saam met hulle stede totaal uitgeroei.

22. Daar het in die hele land van Israel nie ’n enkele Enakiet oorgebly nie. Net in Gasa, Gat en Asdod het daar Enakiete oorgebly.

23. Josua het die hele land ingeneem, soos die Here vir Moses beveel het. Josua het toe die land soos dit tussen die stamme verdeel is, aan Israel as hulle erfgrond gegee. Die land kon toe tot rus kom van die oorlog.