hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Al die konings van die Amoriete wat wes van die Jordaan bly en al die konings van die Kanaäniete wat by die Middellandse See bly, het gehoor hoe die Here die water van die Jordaan voor die Israeliete laat wegdroog het sodat hulle daar deur kon gaan. Hulle harte het gekrimp. Hulle het nie kans gesien om teen die Israeliete te veg nie.

Besnydenis by Gibeat-Haaralot

2. Op daardie stadium het die Here vir Josua gesê: “Maak vir jou messe van klip. Besny die Israeliete weer ’n keer.”

3. Josua het toe vir hom klipmesse gemaak. Hy het al die Israeliete besny by Gibeat-Haaralot.

4. Josua moes almal besny omdat al die mans van die volk wat uit Egipte getrek het en wat oorlog kon gaan maak, langs die pad in die woestyn dood is.

5. Almal wat destyds uit Egipte getrek het, was wel besny. Almal van die volk wat intussen langs die pad in die woestyn gebore is, was egter nie besny nie.

6. Die Israeliete het 40 jaar lank in die woestyn rondgetrek, totdat almal wat uit Egipte weg is wat kon oorlog maak, uitgesterf het. Hulle wou nie na die Here luister nie. Hy het daarom gesweer dat hulle nie die land sou sien wat Hy aan hulle voorouers beloof het nie. Dit is ’n baie vrugbare land.

7. Josua het nou hulle kinders besny wat in hulle plek gekom het. Hulle was nog nie besny nie. Hulle is ook nie langs die pad besny nie.

8. Nadat die hele nasie besny is, het hulle eers in die kamp gebly tot hulle weer gesond was.

9. Die Here het vir Josua gesê: “Ek het vandag julle vernedering van Egipte van julle af weggerol.” Josua het daardie plek toe Gilgal genoem. Dit is vandag nog sy naam.

10. Toe hulle die Paasfees gevier het, was die Israeliete nog steeds by Gilgal op die vlakte by Jerigo. Hulle het dit op die veertiende dag van die maand teen die aand gevier.

11. Die volgende oggend het hulle ongesuurde brood en gebraaide koring geëet wat in Kanaän geoes is.

12. Op daardie dag dat hulle van die opbrengs van die land Kanaän begin eet het, het die manna opgehou. Die Israeliete sou nie meer manna eet nie. Van toe af het hulle die graan en vrugte begin eet wat in die land Kanaän geoes is.

Die aanvoerder van die Here

se leër

13. Josua was in die omgewing van Jerigo toe hy skielik ’n man voor hom sien staan met ’n swaard in sy hand. Josua het na hom toe gegaan en vir hom gevra: “Is jy ons vriend of ons vyand?”

14. “Nie een nie,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die hemelse leër. Ek is nou hier vir julle.” Josua het op die grond neergeval in aanbidding. Hy vra vir die man: “Wat wil Meneer vir sy dienaar sê?”

15. Die leëraanvoerder van die Here se mag sê toe vir Josua: “Trek uit jou skoene. Jy staan op ’n heilige plek.” Josua het so gemaak.