hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 6 Die Boodskap (DB)

Voorskrifte vir die nasireërs

1. Die Here het vir Moses gesê om die volgende opdrag aan die volk oor te dra:

2. “Wanneer iemand, ’n man of ’n vrou, die nasireërsbelofte aan die Here maak waarin hulle hulle verbind om Hom voltyds te dien vir ’n sekere tyd,

3. moet so ’n persoon dadelik ophou om wyn of bier te drink. Hulle mag ook nie asyn gebruik wat van wyn gemaak is of enige ander gegiste drank of selfs vars druiwesap nie. Hulle mag ook nie druiwe of rosyntjies eet nie.

4. Vir so lank as wat die persoon aan die Here se diens afgesonder is, mag hy of sy niks eet wat van ’n wingerd af kom nie, nie eers die pitte of die doppe van die druiwe nie.

5. “Nasireërs mag ook nooit hulle hare afsny nie. Die mans mag ook nie hulle baard afskeer vir die tydperk dat hulle voltyds in die Here se diens staan nie. Hulle moet hulle hare laat groei totdat hierdie tydperk van afsondering verby is.

6. Hulle mag ook nie naby ’n dooie kom nie,

7. selfs al sou een van hulle ouers of broers of susters doodgaan. Aangesien hulle lang hare die bewys is van hulle voltydse diens aan die Here, mag hulle nie naby ’n lyk kom of daaraan raak en so hulleself onrein maak nie.

8. Hierdie reëls geld vir die hele tyd dat hulle as nasireërs in die Here se diens is.

9. “Indien ’n nasireër toevallig naby iemand kom wat onverwags doodgaan, moet hy eers sewe dae wag en dan al sy hare en sy baard afskeer. Dan sal die nasireër weer in die Here se teenwoordigheid kan kom.

10. Die volgende dag moet hy twee tortelduiwe of twee mak duiwe na die priester toe bring by die ingang van die tent waar die Here aanbid word.

11. Die priester moet dan die een duif gebruik om vir sy sonde ’n offer aan God te bring en die ander een vir ’n brandoffer. So vra die nasireër om vergifnis voor God vir die fout wat hy onbewustelik gemaak het deur in die teenwoordigheid van ’n dooie te wees. Op dieselfde dag moet hy homself aan die Here se diens toewy deur sy hare en baard te laat groei.

12. Hy moet ook weer voor die Here beloof dat hy Hom voltyds sal dien vir die hele tyd wat hy belowe het om dit te doen. Die dae wat hy onrein was, tel nie. As deel van sy belofte moet hy ook ’n jaaroud lam as ’n offer vir die Here bring om sy skuld te bely.

13. “As die tyd van die nasireërsbelofte om is, moet die volgende voorskrifte nagekom word: Die nasireër moet na die ingang van die tent gaan waar die Here aanbid word.

14. Hy moet dan drie diere sonder enige liggaamsgebrek aan die Here offer: as brandoffer ’n jaaroud skaaprammetjie, ’n jaaroud skaapooitjie as sondeoffer en ook nog ’n skaap of bokram as ’n eteoffer.

15. Verder moet hy ook ’n mandjie met brood saamvat wat nie met suurdeeg gebak is nie; koekies van fynmeel wat sonder suurdeeg gebak is en met olyfolie aangemaak is, asook platkoek sonder suurdeeg wat met olie gesmeer is. Die graanoffer en drankoffer wat deel van hierdie offer uitmaak, moet ook geoffer word.

16. Die priester moet al hierdie offers aan die Here offer, eers die sondeoffer en die brandoffer,

17. daarna die ram as eteoffer saam met die mandjie met al die brood wat sonder suurdeeg gebak is. Die voorgeskrewe graan- en drankoffers moet ook gebring word.

18. Die nasireër moet sy hare by die ingang van die tent waar die Here aanbid word, afskeer as teken van sy toewyding aan die Here. Hierdie hare moet dan in die vuur waarmee die maaltydoffer gebring word, verbrand word.

19. “Daarna moet die priester die gekookte blad van die ram vat en dit saam met die suurdeeglose koekie en platkoekie vir die nasireër gee om in sy hande vas te hou.

20. Die priester moet dan hierdie kos heen en weer voor die Here beweeg as ’n teken dat dit aan Hom gegee word. Hierdie gawes wat so voor die Here gebring is, behoort dan aan die priester, saam met die borsstuk en die boud van die dier, wat ook in die Here se teenwoordigheid heen en weer beweeg is. Hierna is die nasireër vry om weer wyn te drink.

21. Hierdie voorskrifte moet gevolg word as die nasireër se tyd van spesiale diens aan die Here verby is. Indien ’n nasireër enigiets anders aan die Here belowe het behalwe alles wat voorgeskryf is, moet hy hierdie beloftes nakom.”

Die seën waarmee die priesters die volk moes seën

22. Die Here het vir Moses gesê:

23. “Sê vir Aäron en sy seuns om die volgende woorde te gebruik wanneer hulle die mense van Israel seën as bewys van God se goedheid in hulle lewe:

24. Die Here sal julle seën en julle oppas.

25. Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees.

26. Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee.

27. “Dit is hoe Aäron en sy seuns my Naam moet gebruik wanneer hulle die Israeliete seën. As hulle dit so doen, sal Ek sorg dat dit met hulle goed gaan.”