hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 35 Die Boodskap (DB)

Stede vir die Leviete

1. Terwyl die Israeliete nog in die vlakte van Moab, regoor Jerigo aan die oostekant van die Jordaanrivier, gekamp het, het die Here vir Moses gesê:

2. “Jy moet vir die Israeliete sê dat wanneer hulle hulle grond gekry het, hulle vir die Leviete stede moet gee om in te bly met goeie weiveld.

3. Hierdie stede met die weivelde moet hulle eiendom word, sodat hulle daar kan bly en hulle beeste en skape daar kan laat wei.

4-5. Van die stadsmuur af moet julle ’n strook van 450 meter wyd afmeet vir hierdie weiveld. Doen dit reg rondom die stad sodat die stuk weiveld om die stad 900 meter van oos na wes loop en weer 900 meter van noord na suid, met die stad in die middel.

6. “Verder moet ses van die stede wat julle vir die Leviete gee, stede wees waarheen ’n persoon sou kon vlug wat iemand anders per ongeluk doodgemaak het. Bo en behalwe hierdie ses stede moet julle vir hulle nog 42 ander stede ook gee.

7. Hulle moet altesaam 48 stede kry met weiveld rondom elke stad.

8. Die aantal stede wat elke stam vir die Leviete moet gee, hang saam met die grootte van die stam en die hoeveelheid grond wat hulle gekry het. As dit een van die groter stamme is, moet hulle meer stede afstaan. En as dit een van die kleiner stamme is, moet hulle minder stede afstaan.”

Die stede waar mense kan kom skuil

9. Die Here het vir Moses gesê:

10. “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle deur die Jordaanrivier getrek het,

11. moet julle vir julle ’n aantal stede uitsoek wat bekend sal staan as toevlugstede. Die doel van hierdie stede is dat as iemand sonder opset ’n ander persoon doodgemaak het, hulle daarheen kan vlug en daar beskerm kan word.

12. Dan kan die familie van die persoon wat doodgemaak is, nie die ander persoon uit weerwraak daar kom vang en doodmaak nie. Daar sal hy eers die kans kry om sy saak aan die leiers van die volk te stel.

13. Julle moet ses sulke toevlugstede aanwys.

14. Drie in die gebied oos van die Jordaanrivier en drie in Kanaän, wes van die Jordaanrivier.

15. Hierdie stede moet veilige stede wees vir enigeen wat per ongeluk iemand anders doodgemaak het, of die persoon nou ’n Israeliet is of een van die ander mense wat saam met julle bly. Dit geld vir almal.

16. “Maar as iemand ’n ander persoon met ’n stuk yster slaan en hy gaan dood, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry.

17. Of as iemand ’n ander persoon met ’n groot klip slaan en hy gaan dood, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry.

18. En as iemand ’n ander persoon met ’n gevaarlike stuk hout bydam en hy gaan dood, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry.

19. In al hierdie gevalle het die naaste familielid van die vermoorde persoon die verantwoordelikheid om die moordenaar aan die pen te laat ry vir die moord.

20. Ook in die geval waar iemand ’n ander mens haat en hy die persoon hard omstamp of hom doelbewus met iets gooi,

21. of hom met die vuis slaan sodat hy doodgaan, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry. ’n Familielid van die vermoorde het die verantwoordelikheid om die moordenaar te soek en aan die pen te laat ry vir die moord.”

Uitsonderings op die reël

22. “Sê nou dit gebeur dat iemand per ongeluk en sonder dat hy ooit kwaad was, iemand hard omstamp of per ongeluk raak gooi,

23. of sonder dat hy dit gesien het, hom met ’n klip raak gooi sonder enige bybedoelings en die persoon gaan as gevolg hiervan dood,

24. dan moet die leiers die saak ondersoek. Hulle moet besluit wat hulle gaan doen met die saak tussen die beskuldigde en die familielid van die persoon wat dood is. Die volgende riglyne moet gevolg word:

25. As die vergadering besluit dat die persoon per ongeluk doodgemaak is en dat dit nie ’n beplande moord was nie, moet hulle hulle uitspraak in die guns van die beskuldigde gee. Om hom te beskerm teen die wraak van die familielid van die dooie, moet hulle hom laat teruggaan na die toevlugstad waarheen hy gevlug het. Hy moet in dié stad bly tot die dood van die hoëpriester.

26. Maar as hy die toevlugstad voor die tyd verlaat,

27. en die familielid van die dooie loop hom raak en maak hom dood, is dit nie moord nie.

28. Want iemand wat na ’n toevlugstad toe gevlug het, moet daar bly tot die dood van die hoëpriester. Eers daarna is dit veilig om uit te kom en terug te gaan huis toe.

29. Hierdie reëls geld vir julle en julle nageslag, maak nie saak waar julle bly nie.

30. “Iemand wat van moord aangekla word, mag slegs tereggestel word indien daar meer as een getuie is wat dit gesien het. Die getuienis van een persoon is nie aanvaarbaar nie.

31. ’n Moordenaar wat skuldig bevind is, moet tereggestel word. Hy kan nie ’n loskoopboete betaal nie.

32. Iemand wat per ongeluk iemand anders doodgemaak het en na ’n toevlugstad toe gestuur is, kan ook nie geld betaal om homself los te koop nie. Die persoon moet in die toevlugstad bly tot die dood van die hoëpriester.

33. Julle mag nie die land waarin julle nou gaan bly, met moord besoedel nie. Daar is net een manier waarop die skuld hiervoor betaal kan word om die land weer skoon te kry en dit is om die persoon wat die moord gepleeg het, tereg te stel.

34. Julle moenie die land waarin julle bly, besoedel nie, want Ek self bly ook daar. Ek is die Here wat tussen die Israeliete woon.”