hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 3 Die Boodskap (DB)

Die Leviete en hulle werk

1. Toe die Here destyds met Moses op die berg Sinai gepraat het, het hy en Aäron reeds hulle eie families gehad.

2. Aäron het vier seuns gehad: Nadab, hy was die oudste, Abihu, Eleasar en Itamar.

3. Hulle is eers met olie gesalf en toe as priesters in diens van die Here aangestel.

4. Maar die Here het vir Nadab en Abihu laat doodgaan omdat hulle sonder sy toestemming vuur na die altaar toe gebring het. Aangesien hulle nie kinders gehad het nie, was dit net Eleasar en Itamar wat saam met hulle pa as priesters opgetree het.

5. Toe sê die Here vir Moses:

6. “Laat die stam van Levi vir Aäron help.

7. Saam met Aäron moet hulle al die dienste in die tabernakel, die spesiale tent van die Here, waarneem.

8. Hulle moet al die toebehore in die tabernakel in stand hou.

9. Die Leviete se verantwoordelikheid is om vir Aäron en sy seuns te help.

10. Die werk van die priesters mag net deur Aäron en sy seuns gedoen word. Iemand anders wat dit sou waag om hiermee te help moet onmiddellik doodgemaak word.”

11. Die Here het verder vir Moses gesê:

12-13. “Die Leviete behoort aan My. Toe Ek al die oudste kinders van die Egiptenaars doodgemaak het, het Ek elke eersgebore kind in Israel, mense en diere, vir Myself opgeëis. Nou, in plaas daarvan dat Ek al die eersgebore kinders vir My vat, behoort die Leviete van nou af aan My. Dit sê Ek; Ek, die Here!”

Die Leviete word getel

14-16. Die Here het weer met Moses gepraat in die Sinaiwoestyn en vir hom die opdrag gegee om al die Leviete te tel. Dit moes die mans van ’n maand en ouer van al die groepe en families insluit. Moses het dit toe gedoen.

17. Levi het drie seuns gehad: Gerson, Kehat en Merari.

18. Die Gersongroep was Libni en Simi.

19. Die Kehatgroep was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël.

20. Die Merarigroep was Magli en Musi. Dit was Levi se nageslag wie se familiegroepe die name van hulle voorvaders gehad het.

21. Gerson se nageslag het uit die familiegroepe van Libni en Simi bestaan.

22. Daar was altesaam 7 500 mans in hierdie groep.

23-24. Hierdie groep het aan die westekant van die tabernakel kamp opgeslaan onder leiding van Lael se seun Eljasaf.

25. Hulle werk was om die tabernakel in stand te hou: die tent met sy dekseile, die gordyn by die ingang van die tent,

26. die gordyn by die ingang van die voorhof, die gordyne van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar was en al die toue, met alles wat dié diens insluit.

27. Die Kehatgroep het bestaan uit die familiegroepe van Amram, Jishar, Hebron en Ussiël.

28. Daar was altesaam 8 600 mans in hierdie groep. Hulle taak was om die heiligdom waar God gedien word, in stand te hou.

29. Die Kehatgroep het suid van die tabernakel kamp opgeslaan.

30. Hulle leier was Ussiël se seun Elisafan.

31. Hierdie groep se taak was die instandhouding van die ark, die tafel, die kandelaar, die altare, die gereedskap wat in die heiligdom gebruik word, sowel as die voorhangsel, met alles wat dié diens insluit.

32. Aäron se seun Eleasar was die leier van die familiehoofde van Levi. Sy werk was om toesig te hou oor almal wat in die Here se heilige plek diens doen.

33. Die Merarigroep is saamgestel uit die familiegroepe van Magli en Musi.

34. Daar was altesaam 6 200 mans in hierdie groep.

35. Die Merarigroep het noord van die tabernakel kamp opgeslaan. Hulle leier was Abigajil se seun Suriël.

36. Die Merarigroep se taak was die versorging van die rame, dwarslatte, hoekpale en voetstukke van die tabernakel, en ook van al sy gereedskap, met alles wat dié diens insluit;

37. ook van die hoekpale rondom die voorhof, met voetstukke, penne en toue.

38. Die gebied oos van die tabernakel is vir Moses en Aäron en sy seuns opsy gesit. Hulle taak was om namens die volk in die tabernakel self diens te doen. Enigiemand anders wat dit selfs naby aan die Here se tent gewaag het, moes daar en dan doodgemaak word.

39. Die totaal van al die Leviete van ’n maand en ouer was 22 000. Dit is volgens Moses en Aäron se sensus.

Die Leviete neem die plek in van die eersgeborenes

40. Die Here het verder vir Moses gesê: “Tel al die oudste manlike kinders in Israel van ’n maand en ouer. Maak dan ’n lys van hulle name.

41. Die Leviete moet die plaasvervangers wees vir die kinders in Israel wat eerste gebore is. Net so moet die Leviete se vee die plaasvervangers wees vir die eerstelinge van die volk se vee. So sê Ek; Ek, die Here!”

42-43. Moses het toe al die oudste kinders in Israel getel soos die Here beveel het. Die getal waarop hy uitgekom het, was 22 273.

44. Toe sê die Here vir Moses:

45. “Vat die Leviete in die plek van die eersgebore kinders van Israel en vat hulle vee in die plek van die eerstelinge van Israel se vee. Die Leviete is my eiendom. So sê Ek; Ek, die Here.

46. Aangesien daar 273 meer eersgeborenes in Israel is as wat daar Leviete is, moet hulle losgekoop word uit my diens.

47. Dit gaan vyf silwerstukke kos, want dit is die standaardgewig wat in die heiligdom gebruik word. Die loskoopprys is elf gram per silwerstuk vir elke persoon wat losgekoop word.

48. Gee dan hierdie geld vir Aäron en sy seuns as ’n losprys vir die ekstra eersgeborenes.”

49. Moses het toe die geld ingesamel.

50. Vyftien kilogram silwer is ingesamel.

51. Soos die Here beveel het, het Moses dit vir Aäron en sy seuns gegee.