hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 32 Die Boodskap (DB)

Moeilikheid oor grond

1. Die stamme van Ruben en Gad het gesien dat die gebiede by Jaser en Gilead baie goeie weiding gehad het. Omdat hulle groot troppe vee gehad het,

2. het hulle vir Moses en Eleasar en die ander leiers van die volk gaan sê:

3-5.  “Hierdie dele van Atarot, Dibon, Jaser, Nimra, Gesbon, Elale, Sibma, Nebo en Baäl-Meon wat die Here aan ons oorgegee het, is ’n goeie gebied vir vee. Omdat ons baie vee het, vra ons u om asseblief eerder hierdie gebied vir ons te gee as ’n stuk grond aan die oorkant van die Jordaanrivier.”

6. Moses antwoord toe: “Verstaan ek reg: Julle wil aan hierdie kant van die rivier bly terwyl die res van julle volksgenote aan die oorkant moet gaan veg vir wat aan hulle behoort?

7. Hoekom wil julle nou die res van die volk se moed breek om in die land in te trek wat die Here vir hulle gee?

8. Dit is presies wat julle voorouers ook gedoen het toe ek hulle van Kades-Barnea af gestuur het om die land te gaan deurkyk.

9. Hulle het tot in die Eskolvallei gegaan en die hele gebied deurgekyk, maar toe hulle terugkom, het hulle die volk so bang gepraat dat hulle nie meer in die land wou intrek wat die Here vir hulle gegee het nie.

10. Die Here het daardie dag so kwaad geword dat Hy ’n plegtige belofte gemaak het:

11. ‘Al het Ek vir Abraham en Isak en Jakob belowe dat hulle nageslag in die land sou bly, sal Ek sorg dat nie een van die mans van twintig en ouer wat Ek uit Egipte verlos het, in hierdie land sal intrek nie. Hulle verdien dit nie, want hulle het My nie voluit vertrou nie.

12. Die enigste uitsonderings is Jefunne die Kenasiet se seun Kaleb en Nun se seun Josua, want hulle het My heeltemal vertrou.’

13. In sy woede het die Here Israel 40 jaar lank in die woestyn laat rondtrek totdat die hele geslag wat Hom so kwaad gemaak het, dood was.

14. En hier kom julle bende sondaars en julle maak net soos hulle. Wil julle nou weer die Here kwaad maak?

15. As julle twee stamme weier om die Here te volg, gaan Hy die Israeliete doodgewoon in die woestyn aan hulle eie lot oorlaat, en wat dink julle bly dan van hulle oor?”

’n Oplossing vir die grondkwessie

16. Die stamme van Ruben en Gad kom toe met ’n voorstel na Moses toe: “Laat ons toe om vir ons vee krale te bou en stede met sterk mure waarin ons vroue en kinders veilig sal wees.

17. Daarna sal ons ons wapens bymekaarmaak en in die voorste linies van die Israeliete gaan veg. Ons sal saam met hulle oor die rivier trek en saam met hulle veg totdat hulle almal in hulle eie land ’n plek het om te bly. Intussen kan ons vroue en kinders veilig hier agterbly in die stede wat ons vir hulle gebou het, want die mure om die stede is sterk en hoog genoeg om hulle te beskerm.

18. Ons sal nie terugkom hiernatoe voordat al die ander Israeliete hulle eie grond gekry het nie.

19. Ons is nie negatief nie, maar ons wil nie grond aan die oorkant van die Jordaanrivier hê nie. Die grond hier aan die oostekant van die rivier is ons grond.”

20. Moses antwoord toe: “Goed so! Bring julle soldate om oor die Jordaanrivier voor die Here se ark uit te trek.

21. Hou aan met veg totdat die Here al sy vyande verslaan

22. en die land ingeneem het. Dan eers kan julle terugkom hiernatoe. Want dan het julle julle plig teenoor die Here en die ander Israeliete nagekom. Dan sal die Here hierdie gebied aan die oostekant van die Jordaanrivier vir julle gee.

23. Maar as julle nie julle belofte nakom nie, oortree julle teen die Here. En moenie ’n fout maak nie, die Here sal julle beslis daarvoor straf.

24. So, bou gerus stede vir julle mense en krale vir julle vee. Maar daarna moet julle julle belofte nakom.”

25. Die mense van Gad en Ruben sê toe vir Moses: “Ons sal doen net wat jy vra.

26. Ons sal ons vroue en kinders en ons kleinvee en ons beeste net hier in Gilead in die dorpe laat bly,

27. maar elkeen van ons wat kan veg, sal saam met julle oor die Jordaanrivier trek en vir die Here gaan veg.”

Die ander stamme kry ook grond

28. Moses het toe vir die ander leiers van die volk en vir Eleasar en Josua die volgende oor hierdie twee stamme gesê:

29. “As al Gad en Ruben se soldate saam met julle oor die Jordaanrivier trek en saam met julle daar gaan veg, moet julle vir hulle hierdie gebied in Gilead gee nadat julle die land ingeneem het.

30. Maar as hulle soldate nie saam met julle gaan veg nie, moet hulle hulle deel van die land kry net soos julle. Dan moet hulle dit aanvaar en daar gaan bly.”

31. Die mense van Gad en Ruben het toe gesê: “Ons sal doen wat die Here vir ons gesê het.

32. Ons sal saam met julle oor die Jordaanrivier trek en in die Here se Naam gaan veg sodat ons ons grond hier aan die oostekant van die Jordaanrivier kan behou.”

33. Moses het toe die koninkryk van koning Sihon van die Amoriete asook die koninkryk van koning Og van Basan vir die stamme van Gad en Ruben en die halwe stam van Manasse gegee as hulle erfdeel.

34. Die mense van Gad het die volgende stede vir hulle herbou: Dibon, Atarot, Aroër,

35. Atrot-Sofan, Jaser, Jogboha,

36. Bet-Nimra en Bet-Haram. Rondom al hierdie stede het hulle vir hulle hoë mure vir beskerming gebou en ook krale vir hulle kleinvee opgerig.

37. Die mense van Ruben het die volgende stede herbou: Gesbon, Elale, Kirjatajim,

38. Nebo, Sibma en Baäl-Meon. Hierdie stad se naam het hulle verander. Hulle het al die ander stede wat hulle herbou het, se name behou.

39. Die afstammelinge van Makir het Gilead aangeval en dit ingeneem. Hulle het die Amoriete uitgedryf wat daar gebly het.

40. Moses het Gilead toe vir die mense van Makir, wat deel was van die Manassestam, gegee. Hulle het toe daar gaan bly.

41. Jaïr, ook ’n afstammeling van Manasse, het die tentdorpe in ’n ander deel aangeval en verower en dit herdoop na die “dorpe van Jaïr”.

42. Intussen het ’n man met die naam Nobag die stad Kenat en sy omringende dorpe aangeval en ingeneem. Hy het die gebied Nobag genoem.