hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 21 Die Boodskap (DB)

Israel wen die Kanaäniete

1. Toe die Kanaänitiese koning van Arad, wat in die suide van Kanaän gebly het, hoor dat die Israeliete in die rigting van Atarim trek, het hy hulle aangeval en party van hulle gevang en ontvoer.

2. Die Israeliete het toe hierdie belofte voor die Here gemaak: “As U ons help om hierdie mense te wen, sal ons al hulle stede heeltemal vernietig en dit aan U gee as ’n offer omdat U ons ’n oorwinning gegee het.”

3. Die Here het hulle gebed verhoor en hulle gehelp om die Kanaäniete te verslaan. Soos hulle belowe het, het hulle al die stede heeltemal verwoes en almal doodgemaak wat daarin gebly het. Hulle het toe die plek Gorma, “plek van verwoesting”, genoem.

Die koperslang

4. Omdat die Israeliete nie deur Edom kon trek nie, het hulle van die berg Hor af die pad in die rigting van die Rietsee gevolg. Langs die pad het die volk weer ongeduldig geword en

5. teen God en Moses begin uitvaar: “Hoekom het julle ons uit Egipte uit laat trek net om in hierdie woestyn dood te gaan? Hier is nie behoorlike kos of water nie. Ons is nou al siek en sat vir hierdie walglike kos!”

6. Toe stuur die Here giftige slange onder die volk in. Die slange het hulle gepik en baie van hulle is dood.

7. Die volk het toe by Moses gaan bely: “Ons erken dat ons sonde gedoen het toe ons teen jou en die Here uitgevaar het. Tree tog vir ons in en vra die Here om hierdie slange weg te vat.” Toe bid Moses vir die volk.

8. Hierop het die Here vir hom gesê: “Maak ’n afbeelding uit koper van so ’n giftige slang en sit dit bo-op ’n paal en laat die paal regop staan. As iemand deur ’n slang gepik word en opkyk na daardie koperslang, sal hy bly leef.”

9. Moses het toe ’n koperslang gemaak en dit op ’n paal gesit. Elkeen wat deur ’n slang gepik is en opgekyk het na die koperslang, het bly leef.

Op pad na Moab toe

10. Daarna het die Israeliete verder getrek en by Obot kamp opgeslaan.

11. Van daar af het hulle verder getrek en weer kamp opgeslaan by die ruïnes van Abarim in die woestyn, oos van Moab.

12. Hulle het later van daar af weggetrek en kamp opgeslaan in die Seredvallei.

13. Hulle het weer opgepak en verder getrek. Toe het hulle aan die noordekant van die Arnonrivier kamp opgeslaan in die woestyn wat tot teen die Amoriete se gebied loop. Die Arnonrivier vorm die grens tussen Moab en die Amoriete.

14. Daarom lees ons die volgende woorde oor hierdie gebied in Die Boek van die Oorloë van die Here: “Die stad Waheb is in die Sufastreek. Die valleie en die Arnonrivier

15. met die hange van die vallei strek tot by die stad Ar op die grens van Moab.”

16. Daarvandaan het Israel getrek tot by Beër. Beër is die waterput waar die Here vir Moses gesê het: “Maak die volk bymekaar, dan gee Ek vir hulle water om te drink.”

17. Daar het die Israeliete hierdie lied gesing:“Put, gee vir ons water; ons sal sing as ons dit sien!

18. Die leiers het die put gegrawe en die leiers van ons volk het dit verder met hulle septers en kieries oopgemaak.” Die Israeliete het uit hierdie woeste gebied uit getrek na Mattana toe,

19. en daarvandaan na Nagliël en van Nagliël af Bamot toe.

20. Hiervandaan is hulle verder deur die vallei in die gebied van Moab in tot by die berg Pisga. Van hier af kan jy ver oor die woestyn uitkyk.

Israel verslaan vir Sihon en Og

21. Die Israeliete het boodskappers na koning Sihon, die koning van die Amoriete, toe gestuur om hom te vra:

22. “Laat ons asseblief toe om deur u land te trek. Ons sal nie deur die landerye of die wingerde trek nie. Ons sal nie eens water uit julle putte skep om te drink nie. Ons sal op die grootpad bly, die een wat die Koningspad genoem word, totdat ons deur u gebied is.”

23. Maar Sihon wou nie toelaat dat Israel deur sy gebied trek nie. Hy het sy leër bymekaargekry om die Israeliete in die woestyn aan te val. Die geveg het toe by Jahas plaasgevind.

24. Maar die Israeliete het hulle gewen en baie van hulle soldate doodgemaak. Hulle het hulle land ingeneem van die Arnonrivier af tot by die Jabbokrivier wat die grens van Ammon is. Hulle het egter nie probeer om verder te gaan nie, want hierdie grens is deur baie soldate opgepas.

25. Die Israeliete het al die stede van die Amoriete in hierdie gebied verslaan en daarin gaan bly. Ook Gesbon en sy omringende dorpe is verslaan.

26. Gesbon was die hoofstad van koning Sihon van die Amoriete. Hy het teen ’n vorige koning van Moab oorlog gemaak en toe sy hele gebied wat tot by die Arnonrivier strek, by hom afgevat.

27. Dit is oor hierdie oorwinning wat die digters vroeër ’n lied geskryf het:“Kom na Gesbon toe en bou dit weer op, herstel koning Sihon se stad!

28. “Hier van Gesbon van koning Sihon se stad af het die aanval soos ’n verwoestende veldbrand versprei. Dit het die stad Ar in Moab totaal verteer wat die Arnonhoogtes beheer het.

29. “Siestog, julle arme Moabiete! Die einde is vir julle in sig, maar julle wou mos op die god Kemos vertrou! “Maar Kemos het julle seuns aan hulle eie lot oorgelaat en nou is hulle vlugtelinge. Al julle dogters het hy deur die Amoritiese koning Sihon laat vang.

30. Ons het hulle heeltemal uitgeroei van Gesbon af tot by Dibon. Ons het alles vernietig tot by Nofag en Medeba.”

31. Die Israeliete het in die Amoriete se land gaan bly.

32. Moses het mense gestuur om te gaan kyk of dit moontlik was om die stad Jaser te oorrompel. Daarna het hulle die stad aangeval en dit saam met al die dorpe in die omgewing ingeneem en die Amoriete verdryf wat daar gebly het.

33. Daar het hulle van koers verander en in die rigting van Basan getrek. Koning Og van Basan het sy leër bymekaargekry en hulle aangeval. Die geveg het by Edreï plaasgevind.

34. Maar die Here het vir Moses gesê: “Moenie vir hom bang wees nie, want Ek gee hom met sy hele leër en sy land in julle mag oor. Doen presies met hom wat jy met koning Sihon van die Amoriete gedoen het wat daar in Gesbon gebly het.”

35. Die Israeliete het hulle toe verslaan. Hulle het koning Og, sy seuns en al sy mense doodgemaak. Hulle het ook sy land ingeneem.