hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 25 Die Boodskap (DB)

Israel begin afgode dien

1. Terwyl die Israeliete by Sittim gekamp het, het party mans seksuele verhoudings met die Moabitiese vroue van daardie omgewing aangeknoop.

2. Hierdie vroue het hulle uitgenooi om die offerfeeste ter ere van hulle afgode by te woon. Hulle het gegaan en saam met hulle geëet en hulle gode aanbid.

3. Dit het gemaak dat Israel die Moabitiese god, Baäl-Peor, begin aanbid het. Hieroor was die Here baie kwaad vir die Israeliete.

4. Hy het vir Moses gesê: “Vat al die leiers van hierdie mans en hang hulle buite voor my woonplek op. Dan sal my woede bedaar.”

5. Moses het toe vir die leiers van Israel gesê: “Elkeen van julle moet die mense van julle stamme wat aanhangers van Baäl-Peor geword het, doodmaak.”

6. Moses en ’n klomp Israeliete was juis besig om by die ingang van die tent waar die Here aanbid word, te staan en huil oor alles wat gebeur het, toe ’n Israelitiese man ewe onbeskaamd met ’n Midianitiese vrou daar aankom. Hy is saam met haar in sy tent in waar almal dit kon sien.

7. Eleasar se seun Pinehas, Aäron se kleinseun, het dit ook gesien. Hy het opgestaan, ’n spies gevat

8. en die twee die tent in gevolg. Daar het hy die spies deur hulle al twee gesteek. Nadat hy dit gedoen het, het die siekte-epidemie waarmee die Here die Israeliete gestraf het, skielik opgehou.

9. In daardie stadium was daar reeds 24 000 mense in die epidemie dood.

10. Die Here het toe vir Moses gesê:

11. “Dit is as gevolg van Pinehas se optrede dat Ek nie meer vir julle kwaad is nie. Hy het geweier dat my eer aangetas word en dat die volk ’n ander god aanbid. Daarom het Ek nie die volk vernietig soos Ek wou nie.

12. Sê vir hom dat Ek met hom ’n ooreenkoms aangaan wat vir hom vir altyd voordeel inhou.

13. Ek belowe dat hy en sy nageslag vir altyd priesters in my diens sal wees, want hy het vir my Naam opgekom. Hy het vir die volk by My ingetree en gekeer dat Ek hulle vir hulle sonde straf.”

14. Die Israelitiese man wat saam met die Midianitiese vrou doodgemaak is, se naam was Simri. Hy was die seun van Salu, ’n belangrike man uit die stam van Simeon.

15. Die Midianitiese vrou wat doodgemaak is, se naam was Kosbi, die dogter van Sur, wat ’n stamhoof van Midian was.

16. Die Here het vir Moses gesê:

17. “Julle moet die Midianiete aanval en doodmaak,

18. want kyk hoe het hulle julle mislei om Baäl-Peor te aanbid en sondes te doen soos dié met Kosbi, die Midianitiese stamhoof se dogter, wat doodgemaak is op die dag toe die epidemie opgehou het.”