hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 11 Die Boodskap (DB)

Ontevrede mense word met vuur doodgebrand

1. Dit was nie lank nie of die volk het by die Here oor alles begin kla. Toe Hy dit hoor, was Hy baie kwaad. In sy woede het Hy ’n deel van die kamp aan die brand laat slaan en dit tot op die grond laat afbrand.

2. Die volk het by Moses hulp gaan soek en toe hy tot die Here bid, het die Here die vuur laat doodgaan.

3. Hulle het die plek Tabera, plek van die brand, genoem, want daar het die Here ’n reusevuur onder hulle laat brand.

Klagtes oor die kos

4. Sommige van die mense van ander volke wat saam met die Israeliete getrek het, het so lus gekry vir vleis dat hulle net wou terugdraai Egipte toe. Dit het gemaak dat baie van die Israeliete self ook begin kla het. “As ons tog maar net ’n stukkie vleis gehad het om te eet,” het hulle gekerm.

5. “Om nie eers te praat van die vis wat ons in Egipte verniet gekry het nie! En wat van die komkommers en waatlemoene, ja, selfs preie, uie en knoffel, net soveel as wat ons wou hê.

6. Hier krepeer ons van die ellende en al wat ons het om te eet is manna, dagin en daguit!”

7. Die manna was so groot soos koljandersaad met ’n geel kleur.

8-9. Die manna het elke nag saam met dou om die kamp geval. Die volgende oggend het die mense dit oral gaan optel en dit op uitgeholde klippe met ’n ander klip fyngemaal, of in ’n bakkie met ’n ronde voorwerp fyngedruk. Hierdie fyngemaakte manna kon dan gekook word, of soos koek in panne gebak word. Die mannakoeke het net soos oliekoeke gesmaak.

10. Moses het gehoor hoe die mense in groepies by hulle tente rondstaan en onder mekaar kla. Die Here was woedend hieroor. Moses self was ook baie ontsteld

11. en het vir die Here gesê: “Waarom behandel U my so sleg? Wat het ek gedoen om so ’n las soos hierdie volk te verdien?

12. Is hulle miskien my kinders wat ek in die wêreld gebring het? Moet ek nou soos ’n babaoppasser met hulle in my arms rondloop tot in die Beloofde Land?

13. Hulle loop die hele dag lank en kerm oor vleis. Waar moet ek vir al hierdie mense vleis vandaan kry?

14. Ek sien regtig nie kans om vir hierdie hele volk verantwoordelikheid te neem nie. Dit is net te veel gevra van een mens.

15. As dit is hoe U my gaan behandel, doen my eerder ’n guns en laat my doodgaan. Ek kan nie so aangaan nie.”

Moses kies 70 leiers

16. Toe sê die Here vir Moses: “Soek 70 mense onder die leiers van Israel uit. Maak seker dat die mense hulle gesag sal aanvaar. Bring hulle dan saam met jou na die tent toe waar Ek aanbid word.

17. Ek sal daar met julle kom praat en van die bekwaamheid wat Ek jou gegee het, op hulle skouers sit sodat hulle saam met jou verantwoordelikheid kan neem vir die volk. Dan hoef jy dit nie meer alleen te doen nie.

18. Sê vir die volk: Was julle skoon, want môre sal julle vleis hê om te eet. Die Here het julle gekerm oor die vleis gehoor en dat julle sê Egipte was so verskriklik goed. Nou gaan die Here vir julle vleis gee om te eet, en julle sal moet eet!

19. Moenie dink dit sal net vir ’n dag of twee of dalk vyf of tien, ja, selfs net twintig dae wees nie.

20. Nee, julle sal ’n hele maand lank vleis eet totdat julle naar word daarvan en julle later nie meer ’n stukkie vleis in die oog sal kan kyk nie. Dit het julle nou daarvan met al julle gekla en verwyte dat julle nooit uit Egipte uit moes getrek het nie, toe julle die Here verwerp het.”

21. Moses sê toe vir die Here: “Die manne alleen is omtrent 600 000 mense en U belowe om vir almal genoeg vleis te gee vir ’n hele maand!

22. Selfs al slag ons al ons beeste en al ons skape, sal dit nooit genoeg wees nie. Ons kan al die visse in die see vang en dit sal nog steeds nie genoeg wees nie.”

23. Toe vra die Here vir Moses: “Dink jy Ek het nie die mag om dit te doen nie? Jy sal nou met jou eie oë sien of my woorde waar word of nie.”

Die leiers maak God se wil bekend

24. Moses het toe vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het die 70 leiers uitgesoek en hulle in ’n sirkel om die tent laat staan.

25. Die Here het toe in die wolk afgekom en met Moses gepraat. Hy het dieselfde Gees wat Hy vir Moses gegee het om in sy Naam op te tree, ook vir die 70 leiers gegee. Toe dit gebeur, het hulle God se wil begin bekendmaak. Dit het egter net hierdie een keer gebeur.

26. Twee van die leiers, Eldad en Medad, was nog in die kamp toe die Gees in hulle begin werk het. Hulle het net daar in die kamp waar hulle was, God se wil begin bekendmaak.

27. ’n Jongman het toe na Moses toe gehardloop en vir hom gesê: “Eldad en Medad is besig om sommer in die kamp in die Naam van God te praat!”

28. “Laat hulle tog ophou, Meneer,” het Nun se seun Josua gesê. Hy was van jongs af al Moses se helper.

29. Toe vra Moses vir hom: “Is jy bang die mense luister nie meer na my nie? Ek wens die Here wil sy Gees vir die hele volk gee sodat hulle almal sy wil bekend kan maak!”

30. Hierna is Moses met die 70 leiers terug kamp toe.

Die Here stuur kwartels

31. Die Here het toe ’n wind laat opsteek wat voëls wat bekend was as kwartels van die see se kant af na die kamp toe gewaai het. Hulle het omtrent ’n meter van die grond af gevlieg en oral op die grond gaan sit vir kilometers aaneen, reg rondom die kamp.

32. Die volk was die hele dag en die hele nag en die volgende dag besig om voëls te vang en bymekaar te maak. Nie een gesin het minder as 1 000 kilogram bymekaargemaak nie. Hulle het die voëls reg rondom die kamp oopgesprei om droog te word.

33. Hulle was nog besig om van die vleis te eet, en daar was nog baie oor, toe die Here verskriklik kwaad vir hulle geword het. Hy het ’n siekte-epidemie onder hulle laat losbars wat baie mense doodgemaak het.

34. Daarom het hulle die plek Kibrot-Taäwa, of begraafplaas van vleislus, genoem, want hulle het baie mense daar begrawe wat aan die epidemie dood is nadat hulle gulsig was oor vleis.

35. Van daar af het die volk na Gaserot toe getrek waar hulle ’n ruk lank gebly het.