hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 23 Die Boodskap (DB)

Billike uitsprake in die hof

1. “Jy moenie praatjies oor ander mense verder oorvertel as jy weet dit is nie waar nie. Jy moenie met oortreders saamsweer om saam met hulle in die hof te lieg nie.

2. Jy moenie iets doen omdat almal dit doen nie. Jy moenie saam met almal iets doen as jy weet dit is verkeerd nie. Jy moet ook nie met almal saampraat wanneer hulle die waarheid verdraai net omdat jy wil hê hulle moet van jou hou nie.

3. Jy moenie in ’n hofsaak die arm man se kant kies net omdat hy arm is en jy hom jammer kry nie.”

Gee om vir ander mense

4. “As jy op jou vyand se bees of donkie afkom wat verdwaal het, moet jy dit dadelik na hom toe terugvat.

5. As jy ’n donkie sien wat onder sy vrag gaan lê het omdat dit vir hom te swaar was, moet jy dit nie net so laat lê nie. Gaan help sy eienaar om die donkie weer op sy voete te kry, al weet jy dis iemand wat nie van jou hou nie.

6. Jy mag ook nie in ’n hofsaak die reg verdraai net omdat iemand arm is nie.

7. Wees baie versigtig dat jy nie in bedrog betrokke raak en onskuldige en regverdige mense deur jou getuienis ter dood veroordeel word nie. Ek, die Here, kan nooit onreg goedpraat nie.

8. Jy moenie omkoopgeld aanvaar nie. Omkoopgeld maak ’n mens blind vir die waarheid en verongeluk die saak van die regverdige.

9. Jy moenie iemand wat van ’n ander land af kom, onbillik behandel nie. Jy was self ’n vreemdeling in Egipte en jy weet mos goed hoe dit is om ’n vreemdeling in ’n ander land te wees.”

Die sabbatsreël

10. “Jy moet ses jaar lank op die lande saai en die oeste insamel.

11. In die sewende jaar moet jy dit net so los en dit glad nie bewerk nie. Die arm mense van jou volk mag dan die graan eet wat vanself daar opkom. Wat hulle laat oorbly, kan die wilde diere eet. Dieselfde geld ook vir jou wingerde en jou olyfboorde.

12. Jy moet vir ses dae aangaan met jou werk. Op die sewende dag moet jy dit net so los sodat jou bees en jou donkie kan rus. Jou werksmense en die mense wat van ’n ander plek af kom, moet kan ontspan en uitrus.

13. Doen alles wat Ek vir jou gesê het. Jy moenie ander gode aanbid nie. Ek wil selfs nie eers hoor dat jy hulle name noem nie.”

Drie landboufeeste

14. “Daar is drie feeste wat jy elke jaar moet hou om my Naam groot te maak.

15. Die eerste een is die fees van die brood wat nie met suurdeeg gemaak is nie. Soos Ek tevore al vir jou gesê het, moet jy sewe dae lank net kos eet wat nie suurdeeg in het nie. Jy moet die fees begin op dieselfde dag dat jy uit Egipte weg is. Dit is in die maand Abib. Elkeen wat aan die fees deelneem, moet vir My offers bring.

16. “Die tweede een is die oesfees. Jy moet dit aan die begin van die oesseisoen hou, wanneer jy die eerste graan begin oes.“Die derde een is aan die einde van die seisoen, wanneer jy die laaste deel van die oes inbring.

17. “By al drie hierdie feeste moet al die mansmense die Here jou God by sy blyplek kom aanbid.

18. “Jy moet nooit brood waarin daar suurdeeg is, saam met diere offer nie. Die vet van die dier wat jy by die fees offer, mag ook nie oud word en oorstaan tot die volgende oggend nie.

19. Jy moet die beste gedeelte van die eerste oes wat jy insamel, vir die Here na sy blyplek toe bring. Jy mag nie ’n boklam offer wat so pas gespeen is nie.”

Die Here gee vir jou ’n nuwe land

20. “Let daarop: Ek laat die man wat Ek uit die hemel na jou stuur, saam met jou gaan om jou langs die pad te beskerm. Hy sal saam met jou gaan tot by die land wat Ek vir jou eenkant hou.

21. Jy moet hom vertrou dat hy jou sal beskerm. Jy moet luister wat hy vir jou sê. Jy moenie teen hom draai nie. Hy sal dit nie verdra as jy verkeerd met hom maak nie. Hy verteenwoordig My by jou en tree in my plek op.

22. As jy mooi na hom luister en presies doen wat Ek van jou vra, sal Ek ook jou vyande se vyand wees en sal Ek hulle aanval wat jou wil aanval.

23. “My verteenwoordiger sal saam met jou gaan. Hy sal jou laat veg teen die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete. Maar Ek sal hulle uitwis.

24. Jy mag nooit voor hulle gode buig of hulle aanbid nie. Jy moet God ook nooit op dieselfde manier aanbid as wat hulle hulle gode aanbid nie. Jy moet hulle heidense godsdiens met wortel en tak uitroei. Jy moet die klippilare waar hulle hulle gode aanbid, tot op die grond toe afbreek.

25. Jy moet net tot die Here jou God bid en tot geen ander god nie. Die Here sal dit dan goed met jou laat gaan. Hy sal vir jou kos en drinkgoed en gesondheid gee.

26. Daar sal nie in jou land mense wees wat nie kinders kan kry nie. Dit sal ook nie gebeur dat jou kinders doodgebore word nie. Ek sal jou lank en gelukkig laat lewe.

27. “Ek sal jou vyande laat bang word vir My. Ek sal al die volke wat met jou bots, deurmekaarmaak. Ek sal jou vyande vir jou laat vlug.

28. Ek stuur slange voor jou uit om die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor jou uit te verdryf.

29. Ek sal hulle nie dadelik binne die eerste jaar voor jou laat padgee nie. As dit gebeur, kan die land onbewoonbaar raak en die wilde diere alles oorneem.

30. Ek sal hulle bietjie vir bietjie voor jou laat padgee soos jou getalle al meer word en jy al meer plek nodig het om te bly, totdat jy uiteindelik die hele land kan oorneem.

31. Ek sal maak dat jou grense loop van die Rietsee af tot by die See van die Filistyne, van die woestyn af tot by die groot rivier. Ek sal almal wat daar woon, onder jou stel. Jy kan hulle voor jou uit die land wegjaag.

32. Jy mag nie enige ooreenkoms met hulle sluit nie. Ook nie met hulle gode mag jy enige ooreenkoms maak nie.

33. Hulle mag nie in die land bly woon as jy eers daar ingetrek het nie. As hulle daar aanbly, gaan hulle jou verseker op sleeptou neem en verlei om aan My ongehoorsaam te wees. Jy gaan dan in die strik trap om hulle gode te begin aanbid.”