hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 29 Die Boodskap (DB)

Die priesters word in hulle dienswerk bevestig

1. “Jy moet soos volg maak wanneer jy hulle aanstel om vir My te werk. Kry vir jou ’n jong bul en twee ramme wat nie enige foute het nie.

2. Bak ’n brood met koringmeel en ’n ronde brood waaroor olyfolie gesmeer word en beskuitjies wat in olie gedoop word. Jy moet glad nie suurdeeg gebruik wanneer jy dit bak nie.

3. Sit die brode in ’n mandjie en bring dit saam met die bul en die twee ramme na die tent toe.

4. “Laat Aäron en sy seuns by die ingang van die tent kom staan. Hulle moet hulleself bad en gereedmaak om voor die Here te kom.

5. Vat die klere wat jy vir Aäron laat maak het en laat hy die hemp aantrek, die deel oorgooi wat oor sy skouers kom, die deel omhang wat daar bo-oor kom, en die sak voor sy bors hang. Hy moet dan die deel wat van sy skouers af hang, met die gordel vastrek.

6. Sit die hoed op sy kop en sit die goue blom daaraan vas waarop gegraveer is: ‘Vir die Here alleen.’

7. Gooi lekkerruikolie op sy kop uit en stel hom in sy werk aan.

8. “Laat sy seuns nader staan. Hulle moet ook hulle spesiale klere aantrek.

9. Hang vir Aäron en sy seuns serpe om en laat hulle hulle hoede opsit. Hulle moet altyd hierdie klere dra wanneer hulle hulle werk by die tent kom doen.” “Stel dan Aäron en sy seuns in hulle diens aan en maak so:

Die bul word geslag

10. bring die bul na die tent toe. Laat Aäron en sy seuns nader kom sodat hulle hul hande op die bul se kop kan sit om aan te dui dat die bul vir hulle geoffer gaan word.

11. Slag dan die bul daar by die ingang van die tent waar Ek is.

12. Smeer met jou vinger van die bloed van die bul aan die horings van die altaar. Gooi die res van sy bloed teen die onderkant van die altaar uit.

13. “Verbrand dan op die altaar die hele vetlaag wat oor die bul se binnegoed is, sy twee niere met die vet daaroor en die lewervet.

14. Die bul se vleis, sy vel en sy pensmis moet jy buite die kamp met vuur gaan verbrand. Dit is die eerste offer. Dit is ’n offer vir die sonde van die priesters.”

Die eerste ram

15. “Bring dan een van die ramme nader. Aäron en sy seuns moet hulle hande ook op sy kop sit.

16. Sny dit keelaf en sprinkel sy bloed van alkante oor die altaar.

17. Sny die ram in verskillende stukke op. Was die binnegoed en pote met water af en sit dit neer by die kop en die stukke vleis wat jy opgesny het.

18. Verbrand dit dan alles op die altaar. Dit is ’n offer wat vir die Here in vuur verbrand word. Hy hou baie daarvan.”

Die tweede ram

19. “Bring ook die tweede ram nader. Aäron en sy seuns sit weer hulle hande op die ram se kop.

20. Dan slag jy die ram en smeer van sy bloed aan Aäron en sy seuns se regteroorlelle, hulle regterduime en hulle regtergroottone. Sprinkel die bloed wat oor is alkante teen die altaar.

21. Meng van die bloed op die altaar met die lekkerruikolie waarmee jy Aäron in sy werk bevestig het. Sprinkel dit oor Aäron en sy seuns en oor hulle klere. Dit dui aan dat hy en sy seuns en hulle klere vir die Here afgesonder is.

22. “Die tweede ram word gebruik om die werkers by die tent vir hulle werk aan te stel. Sny daarvoor die ram se vet uit, ook sy vetstert, al die vet aan die binnegoed, die punt van die lewer, sy twee niere, asook die niervet en sy regterblad.

23. Haal uit die broodmandjie wat voor die Here staan, die ronde brood, die brood wat met olie gesmeer is en die beskuit.

24. Laat Aäron en sy seuns hulle hande na jou toe uithou en sit die brood en die vet in hulle hande. Hulle moet dit dan na die Here toe uithou en aan Hom opdra.

25. Vat dit weer uit hulle hande uit en verbrand alles op die altaar saam met die offer van die eerste ram. Dit is ’n offer wat met vuur vir die Here verbrand word. Hy hou baie daarvan.”

Die deel waarop die werkers by die tent geregtig is

26. “Die bors van die ram wat jy gebruik het om Aäron-hulle aan te stel mag jy vir jouself vat. Jy moet dit eers na die Here toe uithou en dit aan Hom opdra. Daarna kan jy dit vat.

27. Die bors en die boud van die offer wat gebruik word om Aäron-hulle te bevestig moet eenkant gesit word. Dit word na die Here uitgehou en aan Hom opgedra. Daarna kry Aäron en sy seuns dit om te eet.

28. Dit is ’n vaste reël vir die Israeliete dat die bors en die boud van hulle offer wat hulle vir die Here bring om van te eet, eers aan Hom opgedra sal word en dan vir Aäron en sy seuns gegee sal word om te eet.”

Aäron se klere

29. “Aäron se opvolger moet sy klere kry wanneer hy na sy dood in sy plek aangestel word en in sy dienswerk bevestig word.

30. Die seun wat hom as priester opvolg, moet dit sewe dae lank aanhou wanneer hy met sy werk begin en na die tent kom om voor die Here te kom.”

Die werkers by die tent se kos

31. “Maak die vleis van die ram wat vir die bevestiging gebruik is, gaar in ’n plek wat daarvoor eenkant ingerig is.

32. Aäron en sy seuns moet die gaar vleis en die brood wat in die mandjie oor is, by die ingang van die tent eet.

33. Net hulle mag van die offer eet wat gebruik is vir hulle sonde toe hulle in hulle dienswerk aangestel en aan God opgedra is. Iemand wat nie ook by die tent werk nie, mag glad nie daarvan eet nie. Hy is nie vir die werk van God afgesonder nie.

34. “Enigiets wat nog die volgende oggend oor is van die vleis of brood wat vir die bevestiging gebruik is, moet in die vuur verbrand word. Dit mag nie geëet word nie, want dit is vir God gegee.”

Die volgende sewe dae by die altaar

35. “Daar is nog verder die volgende aanwysings wanneer jy Aäron en sy seuns bevestig. Dit hou sewe dae lank aan.

36. Offer elke dag ’n bul om vir hulle sonde te betaal. Daarmee word die sonde weggeneem en kom die sake weer reg met God. Gooi olie oor die altaar uit om dit aan die Here te wy.

37. Vir sewe dae moet jy elke dag offers by die altaar bring om vrede te bring tussen julle en God. Dra die altaar aan die Here op. Die altaar sal dan aan God alleen gewy wees. Enigeen wat dan daaraan raak, sal ook aan God gewy moet word.

38. “Jy moet so maak by die altaar: jy moet elke dag twee lammers offer wat elkeen ’n jaar oud is.

39. Die een word vroeg in die oggend en die ander laat teen die aand geoffer.

40. Saam met die lam in die oggend offer jy een kilogram meel wat met een liter suiwer olie en wyn gemeng is.

41. Die tweede lam word teen die aand geoffer saam met ’n offer van meel, olie en wyn wat dieselfde is as dié in die oggend. Dit is ’n offer wat verbrand word. Die Here hou baie daarvan.”

God ontmoet sy volk by die tent

42. “Oor die jare moet daar altyd vir My ’n offer by die ingang van die tent verbrand word. Ek sal julle daar by die tent ontmoet en daar met julle gesels.

43. Daar sal Ek en Israel mekaar leer ken en sal dit vir hulle duidelik word hoe groot en belangrik Ek is.

44. Ek sal die tent van ontmoeting en die altaar die plekke maak wat vir My eenkant gesit is. Ek sal Aäron en sy seuns uitsonder van die res en hulle vir My as my priesters laat werk.

45. My tent sal tussen die Israeliete staan. Ek sal hulle God wees wat tussen hulle woon.

46. Hulle sal erken dat dit Ek was, die Here hulle God, wat hulle uit Egipte laat wegtrek het om saam met hulle te woon. Ek is die Here hulle God.”