hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 8 Die Boodskap (DB)

Paddas in Egipte

1. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan weer terug na die farao toe en gaan sê vir hom: ‘Die Here dring daarop aan dat jy sy volk moet toelaat om tot Hom te gaan bid.

2. As jy weier om hulle te laat gaan, sal Ek paddas oor jou hele land laat kom.

3. Die Nyl sal wemel van die paddas. Hulle sal uit die rivier kom en tot in jou huis inkom. Hulle sal in jou slaapkamer inkom en bo-op jou bed spring. Hulle sal in die mense wat vir jou werk se huise inkom en in die huise van jou hele volk. Hulle sal selfs in jou bakoonde en jou broodpanne gaan sit.

4. Die paddas sal net te veel wees vir jou en jou volk.’”

5. Die Here het vir Moses gesê: “Laat Aäron sy kierie uitsteek na die spruite toe, die riviere en die moerasse sodat die paddas kan uitkom uit die water en oor die hele Egipte kan kom.”

6. Toe Aäron sy kierie uitsteek na al die plekke waar daar water in Egipte is, het die paddas uitgekom en oor die hele land versprei.

7. Die Egiptiese towenaars kon dieselfde ding regkry met hulle kunsies. Hulle kon ook paddas oor die hele land laat kom.

8. Die farao het toe vir Moses en Aäron laat roep en by hulle gesoebat: “Smeek tog die Here dat Hy die paddas van my en my mense moet wegvat. Ek sal die volk laat gaan sodat hulle vir die Here kan gaan offer.”

9. Moses het die farao sarkasties geantwoord: “En wanneer sal dit u nogal pas dat ek sal bid dat die paddas van u en u dienaars en u volk en uit u huise weggevat sal word en net by die rivier sal bly?”

10. “Môre sal vir my reg wees,” het hy geantwoord.Moses sê toe: “Goed, ek sal maak soos u vra. U sal dan besef dat daar niemand anders is soos die Here ons God nie.

11. Die paddas sal van u, u huis, u werkers en u volk af weggaan en weer in die rivier gaan bly.”

12. Moses en Aäron is toe weg van die farao af. Moses het tot die Here gebid oor die paddas waarmee Hy die farao gestraf het.

13. Die Here het gedoen wat Moses vir die farao belowe het. Die paddas in die huise en buite in die veld het gevrek.

14. Die mense het hulle by die hope bymekaargemaak. ’n Doodsreuk het oor die hele land gehang.

15. Toe die farao egter sien dat die krisis verby is, het hy weer moedswillig geraak. Hy het gerieflikheidshalwe vergeet dat hy belowe het hulle kon gaan. Dit was inderdaad mos soos die Here gesê het dit sou gebeur.

Muggies in Egipte

16. Die Here het vir Moses gesê: “Laat Aäron met sy kierie in die stof op die grond slaan. Die stof sal dan muggies word wat oor die hele land versprei.”

17. Hulle het toe so gemaak. Toe Aäron sy kierie oplig en in die stof slaan, het daar muggies op mens en dier toegesak. Dit het gelyk of elke krieseltjie stof in Egipte ’n muggie geword het.

18. Die towenaars het ook probeer om met hulle kunsies muggies uit die grond te laat kom. Hulle kon dit egter nie regkry nie. Die muggies was vir mens en dier ’n verpesting.

19. “Hierdie is ’n vingerwysing van God,” het die towenaars vir die farao gesê. Maar die farao se kop het net al harder geword en hy het bly weier om na Moses-hulle te luister. Hy het presies opgetree soos God gesê het dit sou gebeur.

Swerms vlieë in Egipte

20. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet môreoggend vroeg opstaan en vir die farao gaan wag wanneer hy na die water toe kom. Jy moet weer vir hom sê dat die Here van hom eis: ‘Laat my volk toe om te gaan en My te aanbid.

21. As jy nie my volk toelaat om te gaan nie, sal Ek swerms vlieë op jou en jou amptenare en jou volk en julle huise loslaat. In die huise van Egipte en oral in die land sal dit wemel van die vlieë.

22. Ek sal egter ’n uitsondering maak van Gosen, waar my volk woon. Daar sal nie vlieë wees nie. Jy sal dan weet dat Ek, die Here, baas is oor hierdie land en daarmee kan maak soos Ek wil.

23. Ek sal my mense anders behandel as jou mense. Hierdie ding sal môre gebeur.’”

24. Die Here het toe gemaak soos Hy gesê het. Daar het groot swerms vlieë in die farao en sy mense se huise gekom en ook oor die hele land. Die hele land is in chaos gedompel deur die vlieëplaag.

25. Die farao het Moses en Aäron toe laat roep: “Goed, julle kan vir julle God gaan offer, maar dit moet hier in dié land wees.”

26. “Ons kan dit nie hier doen nie,” het Moses hom geantwoord. “Die offers wat ons vir die Here ons God bring, is grillerig vir die mense van Egipte. As ons hier offer waar die Egiptenaars ons kan sien, sal dit vir hulle so gruwelik wees dat hulle ons met klippe sal doodgooi.

27. Gee eerder vir ons drie dae om in die woestyn in te gaan. Ons wil daar gaan offer vir die Here ons God, op die manier wat Hy vir ons voorgeskryf het.”

28. “Goed,” sê die farao toe, “ek sal julle toelaat om in die woestyn vir die Here julle God te gaan offer. Julle mag net nie baie ver in die woestyn ingaan nie. Bid ook sommer dat hierdie plaag kan ophou.”

29. Moses sê toe: “Wanneer ek van hier af weggaan, sal ek by die Here pleit dat die vlieë môre van u en u amptenare en u volk moet padgee. U moet net nie weer met ons speletjies probeer speel en daarna weier dat die volk kan gaan om vir die Here te offer nie.”

30. Moses is toe weg van die farao af en het tot die Here gebid om die vlieë weg te vat.

31. Die Here het dan ook gemaak soos Moses belowe het: Hy het die vlieë van die farao en sy amptenare en sy volk af laat padgee. Daar het nie eens een oorgebly nie.

32. Die farao het egter weereens moedswillig geraak en sy woord verbreek. Hy het weer ’n keer geweier om die volk te laat gaan.