hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 32 Die Boodskap (DB)

Die beeld van die kalf

1. Toe Moses so lank wegbly en nie dadelik weer van die berg af terugkom nie, het die volk by Aäron bymekaargekom. Hulle sê toe vir hom: “Ons weet nie wat van hierdie man Moses geword het nie. Hy het ons uit Egipte gelei, maar nou is hy skoonveld. Jy moet vir ons ’n ander god kry wat ons verder kan lei.”

2. Aäron sê toe vir hulle: “Kry by julle vroue en julle seuns en dogters die goue oorringe wat hulle aanhet en bring dit vir my.”

3. Hulle het die oorringe gevat en vir Aäron gebring.

4. Hy het dit by hulle gekry en daarvan ’n beeld van ’n kalf gemaak wat uit goud gegiet is. Die volk sê toe: “Israel, hier is jou god wat jou uit Egipte laat wegtrek het.”

5. Toe Aäron sien wat hulle doen, het hy ook nog ’n altaar vir offers daar by die beeld gebou. Hy het gesê: “Môre gaan ons fees hou vir die Here!”

6. Vroeg die volgende oggend het hulle toe offers op die altaar begin verbrand en offers begin slag wat vrede moet bring. Later het hulle begin eet en drink. Dit het naderhand in ’n uitspattigheid ontaard.

Gaan kyk wat vang die volk aan!

7. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet dadelik teruggaan! Jou volk wat jy uit Egipte weggelei het, is besig om lelike dinge te doen.

8. Hulle was baie vinnig om te vergeet hoe Ek wil hê hulle moet lewe. Hulle het sowaar vir hulle ’n beeld van ’n kalf gaan maak. Hulle aanbid die kalf en bring offers daarvoor. Hulle sê die kalf is Israel se god wat Israel uit Egipte laat wegkom het.

9. Ek het sommer aan hulle gesien dat hulle ’n volk is wat hulle eie kop gaan volg.

10. Los My nou uit dat Ek my woede op hulle kan uithaal en hulle uitroei. Moenie jou bekommer nie, want Ek sal jou ’n groot volk laat word.”

11. Moses het toe by die Here sy God begin mooipraat: “Here, hoekom sal U nou u woede uithaal op u volk wat U met groot krag uit Egipte laat wegtrek het?

12. Waarom sal U nou die Egiptenaars kans gee om te sê: ‘Hulle God het hulle met ’n slim plan uitgevang. Hy het hulle laat trek sodat Hy hulle daar by die berg kan gaan doodmaak. Hy het hulle van die aarde afgevee. Laat asseblief tog u woede bedaar. Moet asseblief tog nie hierdie vreeslike ding met u volk laat gebeur nie.

13. Dink ’n bietjie aan u kinders Abraham, Isak en Israel. U het mos plegtig vir hulle belowe dat U hulle nakomelinge so baie sal laat word soos die sterre in die lug. U het beloof dat U die land as ’n ewige erfdeel aan hulle nageslag sal gee.”

14. Die Here het toe van besluit verander. Hy het die plan gelos wat Hy gehad het om sy volk uit te wis.

Moses word kwaad

15. Moses is van die Here af weg en het teen die berg begin afklim. Hy het die twee plat klippe waarop die bewys van die Here se ooreenkoms geskryf was, in sy hand gehou. Daar was aan die voorkant en ook aan die agterkant op die klippe geskryf.

16. Die klippe was God se eie handewerk. God se eie handskrif was op die klippe gegraveer.

17. Toe Josua die lawaai van die volk hoor, sê hy vir Moses: “Daar is oorlog in die kamp.”

18. “Nee,” sê Moses, “dis nie die gejuig van oorwinnaars nie, dis nie die gekerm van verloorders nie, maar die lawaai van ’n dronkspul wat ek hoor.”

19. Toe Moses nader kom aan die kamp en die beeld van die kalf sien en sien hoe hulle al in die rondte dans, het hy so kwaad geword dat hy die plat klippe op die grond neergesmyt het. Dit het in stukke by die voet van die berg gelê.

20. Hy het die beeld van die kalf in die vuur gegooi en dit toe so fyn soos stof gemaal. Hy het die poeier in die drinkwater gegooi en die Israeliete gedwing om dit op te drink.

’n Slagting in die laer

21. Moses vra toe vir Aäron: “Watter kwaad het hierdie volk jou gedoen dat jy hulle moes verlei om so ’n verskriklike sonde te doen?”

22. Aäron antwoord toe: “Meneer, jy moenie kwaad word nie. Jy weet so goed soos ek dat hierdie volk altyd reg is om kwaad te doen.

23. Hulle het my kom vra: ‘Maak tog vir ons ’n god wat ons verder kan lei. Ons weet nie waar Moses is wat ons uit Egipte gelei het nie.’

24. Ek het toe vir hulle gesê dat almal wat goue ringe aanhet, dit moet afhaal en vir my kom gee. Ek het dit in die vuur gegooi en toe ek sien, toe spring hierdie goue kalf sommer daar uit die vuur uit.”

25. Moses sien toe dat die volk handuit geruk het tot groot vermaak van hulle teëstanders. Aäron het hulle nie in toom gehou nie.

26. Moses het by die ingang van die laer gaan staan en uitgeroep: “Dié wat aan die Here se kant is, moet hier by my kom staan!” Die hele familie van Levi het toe om hom gaan staan.

27. Hy het vir hulle gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Vat jou swaard en gaan maak deur die hele kamp elkeen voor die voet dood, of dit nou jou broer, vriend of familielid is, maak nie saak nie.’”

28. Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het. Daardie dag is daar ongeveer 3 000 mans dood.

29. Moses het vir die Leviete gesê: “Julle het vandag vir die Here gewerk. Julle was bereid om te doen wat Hy sê. Julle het na Hom geluister, selfs al het dit beteken dat julle seuns en broers moes doodmaak. Die Here die Almagtige sal vir julle sorg.”

Moses pleit vir sy volk

30. Die volgende dag het Moses vir die volk wat oor was, gesê: “Julle het ’n vreeslike sonde gedoen. Ek gaan nou dadelik weer opklim na die Here toe. Miskien kry ek dit reg dat Hy julle vergewe vir wat julle aangevang het.”

31. Moses het teruggegaan en tot die Here gebid: “Ag tog, Here, hierdie volk het ’n verskriklike fout gemaak. Hulle het vir hulleself ’n god van goud gaan staan en maak.

32. As U bereid is, vergewe asseblief tog die fout wat hulle gemaak het. Anders moet U maar my naam uitvee uit die boek waarin U die name opskryf.”

33. Die Here antwoord hom toe: “Ek sal net dié wat verkeerd gedoen het se name uit my boek uitvee.

34. Gaan nou terug en gaan lei die volk na die plek toe wat Ek met jou afgespreek het. My hemelse boodskapper sal saam met jou daarnatoe gaan. Ek sal nog deeglik met die volk afreken oor die oortreding wat hulle begaan het.”

35. Die Here het die volk met ’n plaag getref oor die goue kalf wat hulle Aäron vir hulle laat maak het om voor te bid.