hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 6 Die Boodskap (DB)

Die Here se ooreenkoms

1. Die Here het ook nog verder vir Moses gesê: “Ek is die Here.

2. Abraham, Isak en Jakob het gesê Ek is die God wat vreeslik sterk is. Hulle het My die Almagtige genoem. Hulle het My nie ‘die Here’ genoem nie.

3. Ek het ook met hulle ’n ooreenkoms gesluit. Ek het hulle belowe om die land Kanaän, waarin hulle net vir ’n tydjie oorgebly het, uiteindelik vir hulle te gee as hulle eie land.

4. “Ek het ook gehoor hoe die Israeliete kla omdat hulle in Egipte slawewerk moet doen. Ek het onthou dat Ek ’n ooreenkoms met hulle gemaak het.

5. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is die Here. Ek sal julle wegvat uit Egipte waar julle gedwing word om sonder betaling vir ander te werk. Ek sal julle vrymaak van dié slawewerk. Ek sal julle met groot krag en met wonderlike dinge van julle swaarkry verlos.

6. Ek maak julle my eie volk. Ek is julle God. Julle sal weet en erken dat Ek die Here julle God is wanneer Ek julle die dag wegvat uit Egipte waar julle vir ander moet werk.

7. Ek sal julle bring by die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob belowe het. Ek sal dié land julle eie land maak. Ek is die Here.’”

Moses onderhandel verder

8. Moses het al hierdie dinge net so vir die Israeliete gaan vertel. Hulle was egter te moeg en moedeloos van al die harde werk om nog na hom te luister.

9. Die Here het verder ook nog vir Moses gesê:

10. “Gaan sê weer vir die farao, die koning van Egipte, dat hy die Israeliete uit sy land moet laat weggaan.”

11. Moses het egter reguit vir die Here gesê: “Hoe op aarde sal die farao na my luister as die Israeliete nie eens hoor wat ek sê nie? Ek kan nie baie goed praat nie.”

12. Die Here het nogtans weer ’n keer met Moses en Aäron gepraat en hulle weer na die Israeliete en na die koning van Egipte, die farao, toe gestuur om te eis dat hy die Israeliete uit Egipte moet laat wegtrek.

Die familiename van Moses en Aäron

13. Hier volg nou ’n lys van die leiers van die verskillende groot families in Israel: Ruben was Jakob se oudste seun. Sy seuns was Ganok en Pallu, Gesron en Karmi. Hulle was die leiers van Ruben se afstammelinge.

14. Die seuns van Simeon was: Jemuel en Jamin, Ohad, Jakin en Sogar. Simeon en sy Kanaänitiese vrou het ook ’n seun Saul gehad. Hulle was die leiers van Simeon se groep.

15. Levi se seuns, van die oudste tot die jongste, was Gerson en Kehat en Merari. Levi self het 137 jaar oud geword.

16. Gerson se seuns was Libni en Simi. Hulle afstammelinge het uit twee familiegroepe bestaan.

17. Kehat se seuns was: Amram en Jishar en Hebron en Ussiël. Kehat self het 133 jaar oud geword.

18. Merari se seuns was Magli en Musi. Al die afstammelinge van Levi het aan hierdie familiegroepe behoort.

19. Amram het met Jogebed getrou. Sy was sy pa se suster, dit wil sê sy tannie. Hulle het twee seuns gehad: Aäron en Moses. Amram het 137 jaar oud geword.

20. Jishar se seuns was Korag en Nefeg en Sikri.

21. Ussiël se seuns was Misael en Elisafan en Sitri.

22. Aäron het met Eliseba, ’n dogter van Amminadab, die suster van Nagson, getrou. Hulle seuns was Nadab en Abihu en Eleasar en Itamar.

23. Korag se seuns was Assir en Elkana en Abiasaf. Hulle is onder die afstammelinge van Korag ingedeel.

24. Eleasar, Aäron se seun, het met ’n dogter van Putiël getrou. Hulle het ’n seun, Pinehas, gehad. Dit was die verskillende leiers uit die familie van Levi.

25. Dit is hierdie Aäron en Moses vir wie die Here gesê het dat hulle die Israeliete volgens hulle families bymekaar moes maak om hulle uit Egipte weg te lei.

26. Dit was hulle twee, hierdie Moses en Aäron, wat met die Egiptiese koning, die farao, gaan onderhandel het om al die Israeliete uit Egipte te laat wegtrek.

Die Here herhaal sy opdrag

27. Die dag toe die Here met Moses in Egipte gepraat het,

28. het Hy vir hom gesê: “Ek is die Here. Jy moet vir die farao, die koning wat oor Egipte regeer, alles gaan sê wat Ek vir jou gesê het.”

29. Moses het toe weer ’n keer baie duidelik vir die Here gesê: “Regtig, ek praat baie swaar. Hoe sal die farao ooit tog na my luister?”