hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 35 Die Boodskap (DB)

Die rusdag

1. Moses het al die Israeliete bymekaar laat kom. Hy het vir hulle gesê:

2. “Die Here verwag van julle dat julle vir ses dae sal aangaan met die dinge wat julle elke dag doen. Op die sewende dag moet julle daarmee ophou. Uit respek vir die Here moet julle heeltemal uitspan. As iemand op daardie dag aangaan met sy werk, sal hy doodgemaak word.

3. Op die rusdag mag julle glad nie vuur maak waar julle woon nie.”

Vrywillige geskenke vir die Here

4. Moses het verder vir almal wat daar bymekaar was, gesê: “Die Here verwag van julle

5. dat julle vir Hom geskenke sal bring. Julle kan kies wat julle vir die Here gaan bring: dit kan van goud, silwer of brons gemaak wees;

6. van blou, pers of bloedrooi wolstof, van linne, bokhaar,

7. rooigekleurde ramsvelle of gebreide velle of akasiahout.

8. Dit kan olie vir die lampe van die ligstaander wees, of kruie vir die salfolie en die wierookoffers.

9. Dit kan ook oniks of ander halfedelstene wees wat op die skouerstuk en die sak voor Aäron se bors vasgesit kan word.”

Hulp om die tent te maak

10. “Almal wat die kennis en die vaardigheid het, moet kom help om die tent te maak.

11. Daar is baie dinge wat ons moet maak. Daar is die tent met die seile wat bo-oor kom; die hakies wat daaraan vasgewerk word; die panele en die dwarslatte wat hulle bymekaarhou; die silwer regop pale en hulle voetstukke;

12. die ark waarin die bewys van die ooreenkoms gehou word met die pale waarmee dit gedra word; die deksel wat bo-op die ark pas; die gordyn wat die tent in twee deel;

13. die tafel waarop die brode neergesit word met sy drahoute en sy toerusting;

14. die ligstaander wat die tent verlig en alles wat daarvoor nodig is; sy lampies en hulle olie;

15. die kleiner altaar vir die wierook met sy drastokke; die salfolie wat gemeng moet word en die wierook; die gordyn by die ingang van die tent;

16. die groot altaar buite waarop die offers verbrand word met sy koperrooster en drahoute en toerusting; die koperbak op sy voetstuk waar die priesters hulleself was;

17. die muur rondom die binnehof met sy regop pale en hulle kopervoetstukke en die gordyn by die ingang van die binnehof;

18. die kopertentpenne en hulle toue waarmee die tent en die binnehof geanker moet word;

19. die spesiale klere wat vir die werk by die tent gebruik word, Aäron se klere en die klere wat sy seuns vir hulle werk moet gebruik.”

Die volk reageer op Moses se oproep

20. Nadat Moses met hulle gepraat het, het almal uitmekaargegaan.

21. Elkeen wat so gevoel het, het geskenke vir die Here gebring soos hulle self besluit het. Dit was dinge wat gebruik kon word om die tent te bou en te betaal vir alles wat daarvoor gemaak moes word, asook die klere wat vir die diens by die tent gemaak moes word.

22. Almal wat gevoel het hulle wil iets vir die Here gee, mans sowel as vroue, het gekom en hulle het vir die Here borsspelde, oorbelle en ringe, halssnoere en allerhande goed gegee wat van goud gemaak is. Elkeen het sy goue goed vir die Here gegee.

23. Elkeen wat blou, pers en bloedrooi wol gehad het, of linne, of bokhaar, of rooigekleurde ramsvel, of gebreide vel, het dit vir die Here gebring.

24. Dié wat dit kon bekostig, het vir die Here ’n geskenk van silwer of koper gebring. Elkeen wat akasiahout gehad het wat gebruik kon word om die meubels van die tent te maak, het dit gebring.

25. Vroue wat kon weef, het materiaal van blou, pers en rooi wol geweef en ook fyn linne. Hulle het dit dan vir die Here gebring.

26. Die vroue wat dit kon doen, het bokhaar geweef.

27. Die leiers van die volk het die onikssteen en die ander edelstene geskenk waarop gegraveer moes word en op Aäron se skouerstuk en die sak voor sy bors vasgesit moes word.

28. Hulle het ook die speserye en die olie vir die ligstaander, die olie en die wierook gegee.

29. So het elke man en vrou van die Israeliete wat iets vir die Here wou doen en kon help om die goed te maak, vrywillig vir die Here kom gee wat hulle gehad het.

Besaleël en Oholiab as leiers aangewys

30. Daarna het Moses vir die Israeliete gesê: “Die Here het Besaleël as leier gekies om die tent te maak. Hy is Uri se seun. Sy oupa is Gur. Hulle is uit Juda se familie.

31. God se Gees gee aan hom die verstand en die insig, die kennis en die vaardigheid

32. om dinge te ontwerp en dit van goud of silwer of koper te maak.

33. Hy kan edelstene bewerk en houtsnywerk doen en enige kunswerk maak.

34. “Aan hom en aan Oholiab die seun van Agisamak uit die stam van Dan het God die vermoë gegee om ander op te lei om dinge te maak.

35. Hulle kan dinge ontwerp. Hulle weet ook hoe om graveerwerk en borduurwerk en weefwerk te doen met blou, pers en bloedrooi wol en linne.