hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 39 Die Boodskap (DB)

Die klere van die priesters

1. Hulle het die klere wat Aäron en sy seuns moes dra wanneer hulle by die tent gaan werk het, van blou, pers en bloedrooi materiaal gemaak. Hulle het Aäron se klere presies net so gemaak soos die Here gesê het dit gemaak moes word.

Die deel wat oor Aäron se skouers kom

2. Die deel wat oor Aäron se skouers moes kom, is van geweefde linne gemaak, waarin gouddraad en blou, pers en bloedrooi wol geborduur is.

3. Hulle het goud in dun velle uitgerol en dun repies daaruit gesny. Die goue drade is dan op kunstige manier saam met die blou, pers en bloedrooi wol in die materiaal ingeweef.

4. Hulle het twee bande gemaak om dit oor die skouers vas te knoop.

5. Hulle het die gordel waarmee die skouerkleed om die heupe vasgemaak word, op dieselfde manier borduur met gouddraad, en blou en pers en bloedrooi wol, net soos die Here vir Moses gesê het.

6. Nadat hulle onikssteen poleer het, het hulle dit in goud vasgesit en die name van die families van die Israeliete kunstig daarop gegraveer.

7. Dit is op die skouerbande van die kledingstuk vasgesit sodat die name op die stene Israel kon verteenwoordig. Dit is alles gedoen presies net soos die Here vir Moses gesê het.

Die sak wat voor die bors kom

8. Die sak wat voor die bors kom, was ’n kunswerk. Hulle het dit net soos die deel wat oor die skouers kom, van geweefde linne gemaak wat met gouddraad en blou en pers en bloedrooi wol geborduur is.

9. Die materiaal is dubbel gevou om ’n sak te vorm. Dit was vierkantig en 25 sentimeter lank en breed.

10. Hulle het twaalf soorte halfedelstene daarop vasgesit, gerangskik in vier rye van drie elk. In die eerste ry was daar karneool, topaas en smarag;

11. in die tweede ry turkoois, saffier en jaspis;

12. in die derde hiasint, agaat en ametis,

13. en in die vierde ry chrisoliet, oniks en opaal. Dit is in ’n montering van goud vasgesit.

14. Die twaalf name van die families van Israel is elkeen op een van die twaalf stene gegraveer soos op ’n seëlring.

15. Hulle het vir die sak goue kettinkies uit suiwer goud gemaak wat soos tou gevleg is.

16. Hulle het ook twee goue ringe gemaak en dit aan die twee boonste hoeke van die sak vasgesit.

17. Die kettinkies is toe aan die ringe vasgesit.

18. Die ander punte van die kettinkies is vasgesit aan die monterings op die bande van die deel wat oor die skouers kom.

19. Hulle het nog twee ander goue ringe gemaak en hulle vasgewerk aan die onderste twee hoeke van die sak wat voor die bors kom. Dit is vasgewerk aan die binnekant waar dit teen die skouerkleed kom.

20. Twee verdere ringe is laag af vasgewerk waar die gordel kom, aan die bande van die skouerkleed.

21. Hulle het toe die onderste twee ringe van die borssak met ’n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgesit, sodat dit nie laer as die gordel kon afsak nie. Dit was presies soos die Here vir Moses gesê het hulle dit moet maak.

Die deel wat bo-oor kom

22. Hulle het die deel wat bo-oor die deel gaan wat oor die skouers is, uit een stuk blou materiaal gemaak.

23. Dit het in die middel ’n gat gehad waardeur die kop gesteek kon word. Die opening is omgeboor en versterk sodat dit nie kon skeur nie.

24-26. Reg rondom die kleed, al op die soom van die kleed, het hulle blou, pers en bloedrooi tosseltjies vasgewerk, wat met goue klokkies afgewissel is. Dit was soos die Here gesê het dit moet wees.

Die klere vir die ander werkers

27. Hulle het ook vir Aäron en sy seuns stelle klere van fyn linne gemaak vir hulle werk by die tent.

28. Daar was gordels en mooi hoede en linnebroeke en

29. serpe van goed geweefde linne, gestik met blou, pers en bloedrooi wol. Dit was soos die Here gesê het dit moes lyk.

30. Hulle het ook vir Aäron se hoed ’n blom van suiwer goud gemaak. Hulle het met kunstige letters daarop gegraveer: “Vir die Here alleen.”

31. Dit is aan die voorkant van die hoed vasgeknoop met ’n blou toutjie. Dit was alles presies soos die Here vir Moses gesê het dit gemaak moet word.

Die werk word voltooi en goedgekeur

32. Uiteindelik was alles klaar vir die tent waar God sy volk sou ontmoet. Die Israeliete het elke ding net so gemaak soos die Here dit vir Moses gesê het.

33. Hulle het alles van die tent gebring sodat Moses daarna kon kyk. Daar was die tent met alles wat daarby hoort, sy hakies en sy panele en dwarslatte, die pale met hulle voetstukke,

34. die boonste laag vir die dak van gelooide ramsvel en van gebreide vel, die gordyn om die tent in twee te deel,

35. die ark vir die bewys van die ooreenkoms met die drahoute waaraan dit gedra moes word en die deksel wat bo-op kom,

36. die tafel met alles wat daarby hoort en die brood wat daarop kom,

37. die ligstaander van soliede goud met sy lampies en alles wat daarby gaan en die olie wat daarin gebruik moes word,

38. die goue altaartjie, die salfolie om die priester te bevestig, die spesiaal vervaardigde wierook vir die altaar, die gordyn wat voor die ingang na die tent moes hang,

39. die koperbeslaande altaar vir die brandoffers met sy koperrooster en drahoute en bybehore, die waskom waar die priesters hulleself moes was en sy voetstuk,

40. die materiaal om rondom die binnehof te hang met sy regop pale en hulle voetstukke, die gordyn by die ingang na die binnehof, die toue en penne om die tent en die muur om die binnehof te anker, al die gereedskap wat nodig was vir die tent,

41. die klere wat die priesters moes aantrek om in die tent hulle werk te doen en die klere vir Aäron en vir sy seuns.

42. Al hierdie dinge het die Israeliete presies net so gemaak soos die Here vir Moses gesê het dit moes lyk.

43. Moses het deeglik na alles gekyk en gesien dat alles presies net so was soos die Here dit wou hê. Hy het toe gebid dat die Here almal wat die tabernakel gebou het, voorspoedig sal maak.