hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 15 Die Boodskap (DB)

’n Lied vir die Here

1. Moses en die Israeliete het toe ’n lied vir die Here gesing. Dit gaan so:“Ek wil oor die Here sing.Hy is geweldig groot.Hy gooi die perd en die oorlogswa in die see.

2. My krag en my sterkte kom van die Here af. Hy is die Een wat my verlos. Hy is my God. Ek wil oor Hom sing. Hy was die God van my voorouers. Ek wil sê hoe wonderlik Hy is.

3. “Die Here kan oorlog maak. Sy Naam waarvoor almal bang is, is ‘Die Here’.

4. Farao se oorlogswaens en sy leër het Hy in die see gesmyt.Sy beste offisiere is onder in die Rietsee.

5. Golwe het oor hulle gebreek. Hulle het soos ’n klip in die dieptes weggesink.

6. “U regterhand, Here, is verskriklik sterk. U regterhand, Here, maal die vyand stukkend.

7. U is geweldig hoog. U slaan elkeen plat wat teen U probeer opstaan. U woede kom op hulle af. Dit vreet hulle weg soos vuur droë gras verslind.

8. “U het die see opgedam toe U daarop geblaas het. Die watergolwe het gaan stilstaan soos ’n dam water. Die watergewoel het binne-in die see gaan vassteek.

9. “Die vyand het gesê:‘Ek sal Israel agtervolg en hulle aan die nek gryp. Ek sal alles by hulle vat wat ek wil. Ek sal my swaard uitpluk en hulle teen die grond vasdruk.’

10. “U het met u asem oor hulle geblaas en die see het hulle ingesluk. Hulle het soos lood gesink in daardie geweldige waters.

11. “Wie is daar onder dié wat sterk is, wat met U vergelyk kan word, Here? Wie is daar nog wat so hoog bo almal en alles uittoring? Wie kan sulke wonderlike dinge doen? Wie kan sulke wonderwerke laat gebeur?

12. U het u regterhand uitgesteek. Die aarde het die vyand ingesluk.

13. “Met u liefde wat so getrou bly, lei U die volk wat U losgekoop het. Met u groot krag vat U hulle na die land waar u groot Naam gaan woon.

14. Wanneer die volke hoor wat gebeur het, gaan hulle bewe. Vrees gaan die inwoners van Filistea aan die keel gryp.

15. Die leiers van Edom gaan hulle doodskrik. Die sterk manne van Moab se bene gaan begin bewe. Die inwoners van Kanaän se moed gaan hulle begewe.

16. Vrees en angs sal oor hulle kom. Hulle sal versteen staan voor u groot krag. Hulle sal vasgenael bly staan, Here, terwyl u volk by hulle verbytrek, die volk wat U vir Uself gekoop het, sal ongehinderd by hulle verbygaan.

17. U sal u volk bring en hulle op u berg laat woon. Op die plek, Here, waar U gekies het om te woon. Die plek, Heer, waar U vir Uself ’n plek vir aanbidding gemaak het.

18. Die Here regeer as koning vir nou en vir altyd.”

Mirjam se lied

19. Dit was regtig so. Die Here het die water van die see oor die farao se perde en oorlogswaens en bemanning laat terugspoel toe hulle daardeur wou gaan. Toe die Israeliete daar deurgegaan het, was dit nog droë grond.

20. Aäron se suster Miriam was ’n boodskapper van die Here. Sy het ’n tamboeryn gevat en begin dans. Al die vroue het agter haar aan gedans en op hulle tamboeryne geslaan.

21. Sy het hulle uitgenooi om saam met haar te sing:“Kom ons sing vir die Here ’n lied. Hy is geweldig groot. Hy het die perd en die oorlogswa in die see gegooi.”

Wat by Mara gebeur het

22. Moses het die Israeliete kamp laat opbreek by die Rietsee. Hulle het toe na die Surwoestyn getrek. Hulle het drie dae lank deur die woestyn getrek, maar hulle kon nie ’n plek kry waar daar water was nie.

23. Van daar af het hulle na ’n plek gegaan met die naam Mara. Daar was wel water, maar hulle kon dit nie drink nie. Die water was brak en het bitter gesmaak. Dis hoekom die plek Mara (dit beteken “bitter”) genoem word.

24. Die volk het toe by Moses kom kla en by hom gemor: “Wat moet ons dan drink?”

25. Moses het by die Here hulp gaan vra. Die Here wys toe vir hom ’n stuk hout wat hy in die water moet gooi. Nadat hy dit gedoen het, het die water drinkbaar geword. Dit was ook daar waar die Here vir hulle reëls en regulasies gegee het. Hy wou hulle daarmee toets om agter te kom of hulle bereid was om na Hom te luister.

26. Hy het vir hulle gesê: “Jy moet baie goed luister na die Here jou God. Jy moet alles doen wat vir Hom reg is. Jy moet fyn luister na die wette wat Hy vir jou gee. Jy moet alles doen wat Hy van jou vra. As jy dit doen, sal Ek sorg dat jy nie dieselfde ellendes oorkom as Egipte nie. Ek is die Here. Ek sal sorg dat jy gesond bly.”

Elim

27. Hulle is van daar af weg en het by Elim aangekom. Daar was ’n oase met twaalf fonteine en 70 palmbome. Hulle het daar by die water kamp opgeslaan.