hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 30 Die Boodskap (DB)

Die staander waarop wierook gebrand word

1. “Maak ook ’n kleiner staander as ’n altaartjie waarop jy geurige wierook kan brand. Maak dit van akasiahout.

2. Dit moet vierkantig wees: 45 sentimeter breed en lank en 90 sentimeter hoog. Dit moet op die hoeke arms hê wat soos horings lyk.

3. Die plat vlak bo-op en sy vier sye sowel as die horings moet jy met suiwer goud oortrek. Sit ook ’n randjie van goud reg rondom.

4. Maak draringe van goud vir die altaar. Sit hulle aan die twee teenoorstaande kante vas, net onder die randjie, om die drastokke daardeur te kan sit waaraan die altaar gedra word.

5. Maak die drastokke van akasiahout en trek dit oor met goud.

6. Gaan sit die altaar voor die gordyn neer waaragter die ark met die bewys van die ooreenkoms en sy deksel is, die plek waar Ek jou ontmoet.

7. “Elke oggend wanneer Aäron die lampe kom uitdoof, moet hy geurige wierook op die altaar aan die brand steek.

8. Ook wanneer hy teen die aand se kant die lampe kom aansteek, moet hy wierook daarop brand. Daar moet deur die jare altyd wierook voor die Here gebrand word.

9. Geen ander soort offer mag op hierdie altaar geoffer word nie. Daar mag nie vreemde goed op gebrand word nie. Julle mag ook nooit ’n offer van vleis daarop verbrand of offers daarop bring waarvan julle self ’n deel kan eet nie. Daar mag ook nie iets daarop uitgegooi word om dit te offer nie.

10. Net een keer per jaar, op die dag wat julle sake met God reggestel word, mag Aäron van die bloed van die sondeoffer wat op daardie dag gebring word, aan die altaar se horings kom smeer om daarop vrede vir julle te maak. Almal moet onthou dat dit ’n altaar is wat net vir die wierookoffer gebruik mag word. Dit behoort aan God alleen.”

Die belasting vir God se tent

11. Die Here het ook verder vir Moses gesê:

12. “Wanneer jy die Israeliete tel, moet elkeen wat klaar getel is, belasting betaal. As hy dit nie doen nie, kan ’n ramp hom miskien tref.

13. Sodra hy getel is, moet hy ses gram silwer by die tent kom inbetaal. Hy moet dit afweeg op die skaal wat by die tent gebruik word. Sy belasting is ’n offer wat hy vir die Here bring.

14. Elkeen wat twintig jaar en ouer is, moet getel word en die belasting betaal.

15. Die bedrag geld is vir almal dieselfde, of hy nou ryk is of arm.

16. Die geld wat jy op hierdie manier van die Israeliete kry, moet jy gebruik om te betaal vir alles wat daar by my tent gedoen moet word. Ek sal onthou dat die Israeliete betaal het en dat daar nie rampe oor hulle moet kom wanneer die volk getel word nie.”

Die koperbak waar die priesters

17. Die Here het nog verder vir Moses gesê:

18. “Maak ’n bak uit koper met ’n voetstuk uit koper om by te gaan was. Sit dit tussen die tent en die altaar en gooi dit vol water.

19. Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daar was met water uit die bak. Hulle moet dit elke keer doen

20. wanneer hulle in die tent gaan werk of wanneer hulle by die altaar offers gaan verbrand.

21. Dit is ’n vaste reël vir Aäron en almal wat hom opvolg. Hulle moet voor die tyd eers hulle hande en hulle voete was voor hulle hulle werk by die tent gaan doen. As hulle dit nie doen nie, kan dit hulle lewe kos.”

Die mengsel van salf en olie

22. Die Here het ook nog vir Moses gesê:

23-24. “Kry die volgende bymekaar vir ’n mengsel van salf en olie: 500 dele mirre, die helfte soveel kaneel, 250 dele kalmoes, 500 dele kassie, en vier liter olyfolie.

25. Meng dit alles soos ’n apteker en maak ’n mengsel van salfolie vir die tent.

26. Gooi daarvan uit op die tent, op die ark met die bewys van ons ooreenkoms,

27. oor die tafel waarop die brode gesit word saam met alles wat daarby staan, oor die ligstaander en alles wat daarby hoort, oor die altaartjie waarop die wierook gebrand word,

28. oor die altaar buite waarop die offers verbrand word saam met sy gereedskap en oor die koperbak op sy voetstuk waar die werkers hulle was.

29. Dra dit alles aan die Here op met die salfolie sodat dit alles aan die Here alleen gewy is. Elkeen wat aan hierdie voorwerpe raak, moet self aan die Here gewy wees.

30. Jy moet ook Aäron en sy seuns daarmee salf sodat hulle aan My gewy kan wees om my priesters te wees.

31. “Sê vir die Israeliete dat hierdie mengsel van olie vir hulle en vir alle geslagte wat kom, iets is wat uitsluitlik bedoel is om mense en dinge aan God te wy.

32. Dit mag nie sommer vir ’n mens gebruik word nie. Julle mag ook nie die voorskrif gebruik om vir julleself salfolie te meng nie. Die salfolie is uitsluitlik bedoel om dinge vir die Here af te sonder. Julle moet respek hê daarvoor en dit vir niks anders gebruik nie.

33. Enigeen wat die resep vir iets anders gebruik, of die mengsel op iets of iemand gebruik wat nie aan die Here en sy tent behoort nie, moet uit die volk weggejaag word.”

Die wierookmengsel

34. Die Here het ook vir Moses gesê: “Meet gelyke hoeveelhede van die volgende speserye af: hars, naeltjies, galbanum en suiwer wierook.

35. Meng dit soos ’n apteker ’n wierookmengsel maak. Meng dit met sout dat dit suiwer kan wees en aan My gewy kan word.

36. Maal dit tot ’n fyn poeier. Strooi daarvan voor die ark met die bewyse van ons ooreenkoms in daardie tent waar Ek en jy mekaar ontmoet. Julle moet dit respekteer as iets wat baie spesiaal is en net vir my tent bedoel is.

37. Julle mag nie hierdie resep gebruik om ook vir julleself dieselfde mengsel van wierook te maak nie. Dit is uitsluitlik vir die Here en sy werk by die tent bedoel.

38. Die man wat so iets vir homself maak omdat dit so lekker ruik, moet van julle af weggejaag word.”