hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 28 Die Boodskap (DB)

Klere vir die werkers by die tent

1. “Roep jou broer Aäron en sy vier seuns, Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar. Laat hulle na jou toe kom. Sê vir hulle dit is hulle taak om in die tent te werk. Hulle is die Here se priesters. “

2. Laat maak vir Aäron waardige en mooi klere wat hom van die ander kan onderskei.

3. Jy moet mense gebruik aan wie Ek uitsonderlike talente gegee het om die klere vir Aäron en sy seuns te maak.

4. Die klere wat hulle vir Aäron maak, moet bestaan uit ’n sak wat oor sy bors hang, ’n stuk materiaal wat oor sy skouers kom, ’n mantel wat agter oor sy skouers afhang, ’n hemp, ’n hoed vir sy kop en ’n gordel om om sy heupe te sit. Dit is spesiale klere wat Aäron en sy seuns moet dra wanneer hulle in die tent kom werk.

5. Die mense wat die klere maak, moet geweefde linne gebruik. Hulle moet gouddraad en blou, pers en bloedrooi wol daar inborduur.”

Die deel wat oor die skouers kom

6. “Die deel wat oor die skouers kom, moet van geweefde linne gemaak word. Daar moet op ’n kunstige manier met gouddraad en blou, pers en bloedrooi wol daarop geborduur word.

7. Dit moet twee bande hê wat oor die skouers kom.

8. Die gordel waarmee dit om die heupe vasgemaak word, moet op dieselfde manier gemaak word met geborduurde gouddraad en blou en pers en bloedrooi wol.

9. Vat dan twee oniksstene en graveer die name van die twaalf seuns van Jakob

10. in die volgorde waarin hulle gebore is daarop. Daar moet ses name op die een steen kom en die res op die ander steen.

11. Soos ’n graveerkunstenaar ’n seëlring graveer, moet jy die name op die twee stene laat graveer. Die twee stene moet dan in goud gemonteer word.

12. Werk die twee stene vas op die twee skouerbande van die stuk wat oor die skouers kom. Dit verteenwoordig die Israeliete. Wanneer Aäron met hulle name op sy skouers voor die Here kom, sal God aan al die Israeliete dink.

13. Die monterings waarin die stene vasgesit word, moet van goud gemaak word.

14. Daar moet ook twee kettinkies van suiwer goud wees wat inmekaar gevleg is. Jy moet hulle aan die twee monterings vassit.”

Die sak wat voor die bors hang

15. “Die sak wat voor sy bors hang, moet ook ’n kunswerk wees. Dit moet net soos die deel wat oor die skouers kom, van geweefde linne wees. Dit moet geborduur word met gouddraad en blou en pers en bloedrooi wol. Dit moet gebruik word wanneer hy moet sê wat die Here oor iets besluit het.

16. Die materiaal moet dubbel gevou word om ’n sak te vorm. Dit is vierkantig: 25 sentimeter lank en breed.

17. Jy moet hierop twaalf verskillende soorte halfedelstene vassit. Rangskik hulle in vier rye van drie elk. In die eerste ry kom karneool, topaas en smarag;

18. in die tweede ry turkoois, saffier en jaspis;

19. in die derde hiasint, agaat en ametis,

20. en in die vierde ry chrisoliet, oniks en opaal. Dit word vasgesit in ’n montering wat van goud gemaak is.

21. Op elkeen van die twaalf stene moet die naam van een van die twaalf families gegraveer wees, soos op ’n seëlring.

22. Maak vir die sak goue kettinkies wat soos tou gevleg is.“

23. Maak ook twee goue ringe. Sit die ringe vas aan die twee boonste hoeke van die sak,

24. haak die kettinkies daardeur

25. en werk die punte daarvan aan die twee monterings vas wat op die bande van die ander stuk is wat oor die skouers kom.

26. Maak nog twee ander goue ringe en werk hulle aan die onderste twee hoeke van die sak vas, aan die binnekant waar dit op die deel rus wat oor die skouers kom.

27. Maak nog twee goue ringe en werk hulle laag af vas aan die bande van die deel wat oor skouers kom wat met die gordel om die heupe vasgetrek word.

28. “Die onderste twee ringe van die sak word dan met ’n blou toutjie vasgesit aan die ringe van die deel wat oor die skouers kom. Dit sal keer dat dit afsak tot onder die gordel.

29. So sal Aäron altyd die name van die families van Israel wat op die sak voor sy bors vasgesit is, aan sy lyf dra wanneer hy in die tent ingaan om hulle name voor die Here te bring.

30. Jy moet die ‘urim’ en ‘tummim’ waarmee God se besluit bepaal word, in die sak sit wat hy oor sy bors dra. Aäron moet dit altyd aanhê wanneer hy voor die Here kom. So dra Aäron God se besluite altyd aan sy lyf.”

Die deel wat bo-oor kom

31. “Daar moet ook ’n deel gemaak word wat nie moue het nie. Dit kom bo-oor die deel wat oor die skouers gehang word. Dit word van blou materiaal gemaak.

32. Dit moet ’n gat in die middel hê waardeur die kop gesteek kan word. Hierdie opening moet omgeboor en versterk wees sodat dit nie kan skeur nie.

33-34. Al om die soom van hierdie deel moet jy om die beurt blou, pers en bloedrooi tosseltjies vaswerk, afgewissel met goue klokkies wat reg rondom die hele kledingstuk gaan.

35. Aäron moet dit aanhê wanneer hy sy werk in die tent kom doen. Wanneer hy in die tent ingaan na die Here toe en wanneer hy weer daar uitkom, sal die klokkies lui. Hy sal dan niks kan oorkom nie.

36. “Maak ’n blom van suiwer goud. Graveer daarop: ‘Vir die Here alleen.’

37. Bind die goue blom met ’n blou toutjie aan die voorkant van sy hoed vas.

38. Aäron moet dit altyd op sy voorkop dra sodat die Israeliete in die Here se goeie boekies kan bly. Dit is ’n teken op Aäron se voorkop dat hy verantwoordelik gehou sal word as Israel verkeerd doen en nie aan die Here getrou is nie.

39. Jy moet die hemp vir Aäron van fyn linne maak. Die hoed op sy kop moet ook daarvan gemaak word. Die gordel wat hy om sy heupe vassit, moet met borduurwerk versier wees.”

Aäron se seuns

40. “Jy moet ook vir Aäron se seuns klere laat maak vir hulle werk by die tent. Maak vir hulle gordels en hoede wat hulle van ander mense kan onderskei.

41. Laat Aäron, jou broer, en sy seuns wat saam met hom is, hierdie klere aantrek. Gooi olie uit op hulle koppe en stel hulle aan as die mense wat vir My by die tent werk. Stel hulle aan My voor en bevestig hulle in hulle ampswerk as my priesters.

42. Maak ook vir hulle broeke om onder hulle klere te dra sodat hulle van hulle bobene af tot by hulle heupe toe is.

43. Aäron en sy seuns moet dit aanhê wanneer hulle na die tent toe kom of na die altaar gaan om daar te werk. As hulle dit nie aanhet wanneer hulle daar werk nie, begaan hulle ’n oortreding waarvoor hulle met die dood gestraf kan word. Dit moet altyd die reël vir Aäron en sy nageslag wees wanneer hulle vir My werk.”