hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 2 Die Boodskap (DB)

’n Seuntjie word gebore

1. ’n Man uit Levi se nageslag het met ’n vrou uit dieselfde groep getrou.

2. Sy het verwag en ’n seuntjie gekry. Toe sy sien hoe mooi die baba is, het sy hom drie maande lank vir die Egiptenaars weggesteek.

3. Toe sy hom nie meer kon wegsteek nie, het sy vir hom ’n gevlegte mandjie gemaak om in te lê. Sy het dit met pik waterdig gemaak en die seuntjie daarin neergesit. Toe het sy die mandjie tussen die riete aan die kant van die Nyl gaan sit.

4. Sy sussie moes die mandjie oppas en op ’n afstand dophou om te kyk dat daar nie iets met hom gebeur nie.

Moses word by sy ma groot

5. Een van die farao se dogters het in die Nyl gaan bad. Die meisies wat haar elke dag help, het op die wal van die rivier bly staan terwyl sy swem. Sy het die mandjie tussen die riete gesien en een van die meisies gestuur om dit vir haar te gaan uithaal.

6. Toe sy dit oopmaak, sien sy dat daar ’n babaseuntjie in is wat huil. Haar hart het sag geword en sy het vir haarself gesê: “Siestog, dis seker een van die Hebreërs se seuntjies.”

7. Sy sussie kom toe nader en vra vir die farao se dogter: “Kan ek maar iemand by die Hebreërs vir u gaan haal wat die babatjie kan laat drink en hom vir u kan oppas?”

8. Die farao se dogter antwoord haar: “Asseblief, ja. Gaan haal haar.” Die meisie het toe haar ma gaan haal.

9. Die farao se dogter het vir haar gesê: “Vat hierdie babatjie en laat hom aan jou drink. Ek sal jou daarvoor betaal.” Sy ma het hom toe gevat en vir hom gesorg.

10. Toe die seuntjie groot genoeg was, het sy ma hom na die farao se dogter toe gevat. Dié het hom as haar eie seun aangeneem. Sy het gesê: “Ek noem hom Moses, want ek het hom uit die water uitgehaal.”

Moses maak ’n man dood

11. Moses was al ’n groot man toe hy op ’n keer gaan kyk het hoe die ander Israeliete gedwing word om slawewerk te doen. Terwyl hy daar is, sien hy hoe een van die Egiptenaars ’n Hebreër slaan.

12. Hy het hiernatoe en daarnatoe gekyk en toe hy niemand sien nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom onder die sand begrawe.

13. Toe hy weer ’n keer daar kom, kry hy twee Hebreërs wat besig is om met mekaar te baklei. Hy vra toe vir die een wat verkeerd was: “Hoekom slaan jy aan iemand anders uit jou volk?”

14. Die man kap toe terug: “Wie het jou altemit aangestel om baas te speel en oor ons te besluit? Gaan jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het hom boeglam geskrik en vir homself gesê: “Die ding het op die lappe gekom.”

15. Toe die farao hoor wat gebeur het, het hy inderdaad ook na Moses laat soek om hom dood te maak. Moses het toe uit Egipte gevlug om van die farao af weg te kom.Hy het in ’n plek met die naam Midian aangekom. Hy het by ’n waterput gaan sit.

Moses gaan woon in Midian

16. Daar in Midian was ’n man wat vir die Here gewerk het. Hy het sewe dogters gehad. Hulle het daar aangekom om water uit die put op te trek om die bakke waaruit hulle pa se kleinvee drink, vol water te maak sodat hulle kan suip.

17. Toe daar ander mans met hulle vee aankom, wou hulle die meisies wegjaag. Moses het gekeer en hulle gehelp dat hulle kleinvee eers klaar kon drink.

18. Toe die meisies by die huis by hulle pa, Reüel, terugkom, vra hy vir hulle: “Hoe is julle dan vandag so vroeg terug?”

19. Hulle antwoord: “Daar was ’n man uit Egipte by die put. Hy het ons gehelp en gekeer dat die mans ons wegdruk. Hy het selfs ook vir ons water uit die put opgetrek en ons kleinvee laat drink.”

20. Hy vra toe vir sy dogters: “En waar is die man dan nou? Hoe is dit dan dat julle die man net so daar los? Gaan roep hom dat hy saam met ons kan kom eet.”

21. Moses was bereid om by die man te bly. Die man het ook later ingestem dat hy met sy dogter Sippora kon trou.

22. Sippora het later ’n seuntjie gehad. Moses het hom Gersom genoem. Dit beteken “vreemdeling”, want Moses het gesê: “Ek leef as vreemdeling in ’n vreemde land.”

Die Israeliete roep om hulp

23. Na ’n hele tyd is daardie koning van Egipte dood. Die Israeliete het nog al die tyd bly sug en kreun omdat hulle sulke harde werk moes doen. Hulle het so hard gekla dat die Here dit selfs in die hemel gehoor het.

24. God het onthou dat Hy met Abraham, Isak en Jakob ’n ooreenkoms gehad het.

25. Hy het gesien wat met die Israeliete gebeur. Hy het geweet hoe swaar hulle kry.