hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 13 Die Boodskap (DB)

Dié wat eerste gebore is

1. Die Here het ook nog verder vir Moses gesê:

2. “Julle moet die eerste seun wat ’n ma in die wêreld bring, vir My eenkant sit. In Israel behoort die een wat eerste gebore word, aan My, of dit nou ’n mens is of ’n dier.”

Vier elke jaar die paasfees

3. Moses het op sy beurt vir die volk gesê: “Julle moet altyd hierdie dag onthou waarop julle weg is uit Egipte. Julle was slawe in Egipte. Die Here het julle egter met sy groot krag uit hierdie land losgekry. Dit is die dag waarop julle nie brood mag eet wat met suurdeeg gemaak is nie.

4. Hierdie dag val in die maand Abib.

5. Wanneer julle in die land aankom waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik bly, moet julle elke jaar op hierdie dag die paasfees vier. Die Here het julle voorouers belowe dat Hy daardie land aan julle sal gee. Dit is ’n baie vrugbare land.

6-7. “Vir die sewe dae van die paasfees mag julle niks eet waarin daar suurdeeg is nie. Daar mag selfs nie eens ’n brood met suurdeeg in of ’n stukkie suurdeeg by julle te vind wees in hierdie tyd nie. Op die sewende dag moet julle ’n fees hou vir die Here.

8. Op daardie dag moet julle vir julle kinders vertel hoekom julle die fees hou. Julle moet vir hulle vertel dat dit oor die dinge is wat die Here vir julle gedoen het toe Hy julle uit Egipte laat loskom het.

9. Die fees sal wees soos iets wat jy in jou hand geskryf het of soos ’n knoop wat jy in jou sakdoek gemaak het sodat jy nie kan vergeet nie. Jy sal moet getuig dat die Here jou met sy groot krag uit Egipte bevry het.

10. Julle moet aan hierdie voorskrif vashou sodat julle elke jaar op die tyd wat bepaal is, hierdie fees vir die Here kan vier.

11. “Die Here het die land van die Kanaäniete aan julle voorouers belowe. Wanneer die Here julle dan by daardie land laat aankom en Hy dit vir julle gee,

12. moet julle alles wat manlik is waaraan ’n ma geboorte gegee het, vir die Here gee. Die eerste manlike dier wat gebore word, moet julle vir die Here gee.

13. As dit ’n donkie is, moet jy dit omruil vir ’n skaap. As jy dit nie wil omruil nie, moet jy die donkie doodmaak. Wanneer dit ’n mens is, moet jy jou oudste seun vir iets anders omruil.

14. Wanneer jou seun jou later op ’n dag vra: ‘Hoekom maak ons so?’ moet jy hom antwoord: ‘Omdat die Here ons met sy krag bevry het van die slawewerk wat ons in Egipte moes doen.

15. Die farao het botweg geweier om ons te laat weggaan uit Egipte. Die Here het sy hand laat uitgaan teen almal in Egipte wat eerste gebore is. Hulle het doodgegaan, mens en dier. Dit is hoekom ek al die eerste manlike wesens wat ’n ma in die wêreld bring, aan die Here offer. Hulle behoort aan Hom. Ek kan egter my oudste seun weer terugkoop.

16. Dit is soos ’n merk in jou hand en ’n teken op jou voorkop wat jou daaraan herinner dat die Here die Almagtige ons met krag uit Egipte laat wegtrek het.”

Israel begin wegtrek uit Egipte

17. Toe die farao uiteindelik instem om die volk te laat gaan, het die Here hulle nie kortpad al langs die see na die land van Filistyne laat trek nie. As hulle met daardie pad langs getrek het, kon hulle in gevegte met ander mense beland het, wat hulle so sou kon laat skrik dat hulle sommer kortom sou vlug terug Egipte toe.

18. God het eerder die volk laat wegdraai om met die pad langs te trek wat na die Rietsee toe gaan.Die Israeliete het hulleself in groepe gerangskik en op ’n ordelike manier uit Egipte uit weggegaan.

19. Moses het Josef se liggaam saamgevat. Josef het die Israeliete destyds plegtig laat belowe dat hulle sy liggaam saam met hulle sal vat wanneer die Here hulle weer na hulle land laat teruggaan.

20. Hulle het van Sukkot af weggegaan en by Etam op die rand van die woestyn gaan kamp opslaan.

21. Die Here self het voor hulle uitgegaan. In die dag het Hy vir hulle die pad gewys met ’n hoë wolk wat voor hulle uitgaan. In die nag was daar ’n bol vuur in die lug wat vir hulle lig gegee het. Hulle kon dag en nag verder trek.

22. Die wolk in die dag het nooit weggegaan nie en die vuurbol het altyd in die nag daar gebly.