hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jehu as koning van Israel gesalf

1. Intussen het die profeet Elisa een van die groep profete geroep en gesê: “Maak jou gereed en gaan gou na Ramot in Gilead. Vat hierdie fles met olie saam.

2. Wanneer jy daar kom, sal jy vir Jehu seun van Josafat en kleinseun van Nimsi sien. Laat hom opstaan tussen sy offisiere, lei hom na ’n agterkamer wég van hulle af.

3. Vat die fles en gooi die olie uit op sy kop. Sê vir hom: ‘Dis wat die Here sê: Ek salf jou tot koning oor Israel.’ “Maak dan die deur oop en vlug vir jou lewe.”

4. Die jong man, die profeet, het so gemaak en na Ramot in Gilead gegaan.

5. Toe hy daar aankom, kry hy vir Jehu wat saam met ander offisiere beraadslaag. “Ek het ’n boodskap vir u, Generaal,” sê hy.“Vir watter een van ons?” vra Jehu.“Vir u, Generaal,” antwoord hy.

6. Jehu het toe die vergadering verlaat en die huis binnegegaan. Toe vat die profeet die fles en giet die olie uit op Jehu se kop en sê: “Dit is wat die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek salf jou as koning oor die Here se volk Israel.

7. Jy moet die koningshuis van Agab uitroei. Op hierdie manier sal Ek die bloed van my dienaars die profete wreek en die bloed van al die dienaars van die Here wat Isebel doodgemaak het.

8. Die hele familie van Agab moet uitgeroei word. Dit geld elke manlike persoon, slaaf of vry, in Israel.

9. ‘Ek sal met die koningshuis van Agab maak soos Ek met die koningshuis van Jerobeam seun van Nebat, en met dié van Baesa seun van Agija gemaak het.

10. Die honde sal Isebel opvreet op die stuk grond in Jisreël en niemand sal haar begrawe nie.’” Toe het die profeet die deur oopgemaak en weggehardloop.

11. Jehu het teruggegaan na die offisiere van die koning. Een van hulle het vir hom gevra: “Wat wou die kranksinnige man hê? Is alles reg?”“Jy ken mos die praatjies van so ’n mens,” antwoord Jehu.

12. “Jy vertel nie die waarheid nie,” sê hulle. “Toe, sê nou vir ons!” Jehu antwoord hulle: “Dis wat hy gesê het: ‘Die Here salf jou as koning oor Israel.’”

13. Hulle het dadelik hulle klere voor hom op die trappe uitgesprei en op die trompet geblaas terwyl hulle skreeu: “Jehu is koning!”

Jehu maak Joram en Ahasia

dood

14. Jehu seun van Josafat en kleinseun van Nimsi het saamgesweer teen koning Joram. Joram was saam met die hele leër van Israel by Ramot in Gilead, besig om Israel teen koning Gasael van Aram te verdedig.

15. Maar Joram het na Jisreël toe teruggegaan om te herstel van die wonde wat hy opgedoen het in die geveg teen Gasael van Aram. Jehu sê vir die manskappe by hom: “As julle met my saamstem, sorg dan dat niemand wegkom uit die stad om dit in Jisreël te vertel nie.”

16. Jehu het toe op sy strydwa geklim en na Jisreël toe gery. Koning Joram het daar van sy wonde herstel en koning Ahasia van Juda het hom daar gaan besoek.

17. Terwyl die wag op die toring van Jisreël gestaan het, sien hy Jehu en sy geselskap naderkom. Hy sê: “Ek sien ’n afdeling soldate aankom!”“Stuur ’n perderuiter uit om vas te stel of hulle in vrede kom,” antwoord Joram.

18. Die perderuiter het Jehu tegemoetgegaan en gesê: “Die koning wil weet of jy in vrede kom.”Jehu antwoord hom: “Wat weet jy van vrede af? Val in hier agter my!”Die wag sê toe vir die koning: “Die boodskapper het by hulle aangekom, maar hy kom nie terug nie.”

19. Toe stuur die koning ’n tweede perderuiter. Hy het tot by hulle gery en gevra: “Die koning wil weet of jy in vrede kom.”Jehu het weer geantwoord: “Wat weet jy van vrede af? Val in hier agter my!”

20. Die wag sê weer: “Die perderuiter het by hulle aangekom, maar hy kom ook nie terug nie! Die een wat voor ry, lyk soos Jehu seun van Nimsi, want hy ry soos ’n besetene.”

21. “Gou, kry my strydwa gereed!” beveel koning Joram.Die perde is ingespan en koning Joram van Israel het hom tegemoetgegaan. Koning Ahasia van Juda het ook op sy wa geklim en saamgery. Hulle het Jehu by die grond wat aan Nabot van Jisreël behoort het, ontmoet.

22. Toe koning Joram vir Jehu sien, vra hy: “Kom jy in vrede, Jehu?”Jehu antwoord: “Wat praat jy van vrede terwyl jou ma, Isebel, al hierdie afgodery en toordery beoefen?”

23. Toe draai koning Joram sy strydwa om en vlug terwyl hy vir koning Ahasia skree: “Verraad, Ahasia!”

24. Maar Jehu het sy boog gespan en Joram tussen sy blaaie getref. Die pyl het sy hart deurboor sodat hy op sy strydwa inmekaargesak het.

25. Jehu beveel toe vir Bidkar, sy luitenant: “Vat hom en gooi hom op die grond van Nabot van Jisreël. Onthou jy toe ek en jy saam agter sy pa, Agab, aangery het? Die Here het toe hierdie uitspraak gemaak:

26. ‘So seker as Ek gister die bloed van Nabot en sy seuns gesien het, so seker sal Ek hom hier op dieselfde stuk grond vergeld.’ Daarom, vat hom en gooi hom op Nabot se grond soos die Here gesê het.”

27. Toe koning Ahasia van Juda sien wat gebeur, vlug hy in die rigting van Bet-Gan. Jehu het hom agternagesit en geskreeu: “Skiet hom ook!” By die hoogte van Gur naby Jibleam het hulle hom op sy strydwa gewond. Hy kon tot by Megiddo vlug, maar het daar gesterf.

28. Sy dienaars het hom op ’n strydwa na Jerusalem toe geneem en hom daar in die familiegraf in die Stad van Dawid begrawe.

29. Ahasia het in die elfde jaar van koning Joram se bewind in Israel koning van Juda geword.

Die dood van Isebel

30. Toe Isebel, die koninginmoeder, hoor dat Jehu na Jisreël toe gekom het, het sy haar oë geverf, haar hare mooi gemaak en by ’n venster uitgekyk.

31. Toe Jehu die poort binnekom, roep sy na hom: “Kom jy in vrede, jou moordenaar? Jy is nes Simri wat sy koning vermoor het.”

32. Jehu het opgekyk en toe hy haar by die venster sien, roep hy: “Wie is aan my kant? Ja, wie?” Twee of drie paleisamptenare het afgekyk na hom toe.

33. “Gooi haar af!” skree Jehu. Hulle gooi haar toe daar af sodat haar bloed teen die muur en die perde gespat het. Die perde het haar daar vertrap.

34. Jehu het toe die paleis binnegegaan en daar geëet en gedrink. Daarna sê hy: “Iemand moet tog aandag gee aan hierdie vervloekte vrou. Gaan begrawe haar. Sy is immers ’n koningsdogter.”

35. Hulle het gegaan om haar te begrawe, maar net haar kopbeen, voete en handpalms gekry.

36. Toe hulle terugkom en dit vir Jehu vertel, sê hy: “Dis volgens die woord van die Here toe Hy deur sy dienaar, Elia die Tisbiet, gesê het: ‘By die stuk grond in Jisreël sal die honde Isebel opvreet.

37. Haar liggaam sal soos mis verstrooi word op die stuk grond in Jisreël sodat niemand haar meer sal kan herken nie.”