hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hiskia se siekte en herstel

1. Ongeveer hierdie tyd het Hiskia dodelik siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het hom gaan besoek. Hy gee toe hierdie boodskap aan die koning: “Dit is wat die Here sê: Kry jou sake in orde, want jy gaan sterf. Jy sal nie bly leef nie.”

2. Toe Hiskia dit hoor, het hy sy gesig na die muur toe gedraai en tot die Here gebid:

3. “O Here, onthou tog hoe ek altyd probeer het om aan U getrou te bly en om dit te doen wat vir U reg is.” Daarna het Hiskia in trane uitgebars en bitterlik gehuil.

4. Jesaja was skaars weg, toe sê die Here vir hom:

5. “Gaan terug en sê vir Hiskia, die leier van my volk: ‘Dit is wat die Here, die God van jou voorvader Dawid, sê: Ek het jou gebed gehoor en jou trane gesien. Ek sal jou gesond maak. Oor drie dae sal jy uit die bed opstaan en na die tempel van die Here toe gaan.

6. Ek sal nog vyftien jaar by jou lewe voeg, en Ek sal jou en hierdie stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal die stad beskerm om my ontwil en ter wille van my dienaar Dawid.’”

7. Toe sê Jesaja vir Hiskia se dienaars: “Gaan maak ’n pap van vye!” Hulle het dit gedoen, dit op die sweer gesit en Hiskia het daarna beter gevoel.

8. Hiskia het vir Jesaja gesê: “Watter teken sal die Here my gee om te bevestig dat Hy my sal gesond maak sodat ek oor drie dae weer in die tempel van die Here kan ingaan?”

9. Jesaja antwoord hom: “Dit is die teken wat die Here vir jou gee om te bevestig dat Hy sal doen wat Hy beloof het: Wil jy hê dat die skaduwee tien trappe vorentoe moet gaan of tien trappe agteruit?”

10. “Die skaduwee beweeg altyd vorentoe,” antwoord Hiskia. “Laat dit liewer agteruit gaan.”

11. Die profeet Jesaja vra toe vir die Here om dit te doen en die Here het die skaduwee op die trappe van Agas tien trappe agteruit laat gaan.

Gesante uit Babel

12. Kort hierna het Merodak-Baladan, seun van Baladan en koning van Babel, goeie wense en ’n geskenk aan Hiskia gestuur omdat hy verneem het dat Hiskia baie siek was.

13. Hiskia het die gesante verwelkom en alles in sy skatkamers vir hulle gewys: die silwer, die goud, die speserye en die reukolies. Hy het hulle ook geneem om sy wapens en ander skatte te sien. Daar was niks in sy paleis of koninkryk wat Hiskia nie vir hulle gewys het nie.

14. Daarna gaan die profeet Jesaja na koning Hiskia toe en vra hom: “Wat wou hierdie manne hê? Waar kom hulle vandaan?”Hiskia antwoord hom: “Hulle kom van ’n ver land, van Babel af.”

15. “Wat het hulle in jou paleis gesien?” vra Jesaja.“Hulle het alles gesien,” antwoord Hiskia. “Ek het vir hulle alles gewys wat ek besit, al my skatte.”

16. Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Luister na die boodskap van die Here:

17. Die tyd sal aanbreek wanneer alles wat jy besit, al die skatte wat jou voorgangers tot vandag toe versamel het, na Babel weggevoer sal word. Niks sal daarvan oorbly nie, sê die Here.

18. Sommige van jou nageslag sal in ballingskap weggevoer word. Hulle sal as ontmandes in die paleis van die koning van Babel diens doen.”

19. Toe sê Hiskia vir Jesaja: “Hierdie boodskap wat jy van die Here bring, is goed.” Maar die koning het gedink: “Daar sal minstens gedurende my leeftyd vrede en sekuriteit wees.”

20. Die ander gebeurtenisse tydens sy regering, sy dapper dade en hoe hy die dam gebou het en ’n kanaal wat die water in die stad ingebring het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.

21. Toe Hiskia sterf, het sy seun Manasse hom opgevolg.