hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Josia regeer in Juda

1. Josia was agt jaar oud toe hy koning geword het en het 31 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jedida, die dogter van Adaja uit Boskat.

2. Hy het gedoen wat vir die Here reg was en het die voorbeeld van sy voorvader Dawid nagevolg sonder om daarvan links of regs af te wyk.

3. In die agtiende jaar van sy regering het koning Josia die staatsekretaris Safan, seun van Asalja en kleinseun van Mesullam, na die tempel van die Here toe gestuur. Hy het hom beveel:

4. “Gaan na die hoëpriester Gilkija toe en laat hy die geld tel wat die poortwagters ingesamel het by die mense wat die Here se tempel besoek het.

5. Gee hierdie geld aan die toesighouers van die werk aan die Here se tempel. Hulle moet dit gebruik om die werkers wat die tempel herstel, te betaal.

6. Dit is vir die skrynwerkers, bouers en messelaars en vir die aankoop van hout en gekapte klip om die tempel te herstel.

7. Die toesighouers hoef nie rekenskap te gee van die geld wat hulle ontvang nie, want hulle is betroubaar.”

Gilkija ontdek God se wet

8. Gilkija die hoëpriester sê toe vir die staatsekretaris Safan: “Ek het die wetboek in die tempel van die Here gekry!” Gilkija het die wetboek vir Safan gegee en hy het dit gelees.

9. Safan het by die koning gaan verslag doen: “U amptenare het die geld wat by die tempel van die Here ingesamel is aan die werkers en toesighouers by die tempel gegee.”

10. Safan sê ook vir die koning: “Die priester Gilkija het vir my ’n boekrol gegee.” Safan lees toe vir die koning wat daarin staan.

11. Toe die koning hoor wat in die wetboek geskryf staan, skeur hy sy klere.

12. Hy beveel die priester Gilkija, Agikam seun van Safan, Akbor seun van Miga, die staatsekretaris Safan en die koning se hoofamptenaar Asaja:

13. “Gaan en raadpleeg die Here namens my en namens die hele volk Juda. Raadpleeg Hom oor dit wat geskryf is in die boekrol wat gevind is. Die Here se toorn het teen ons ontvlam omdat ons voorvaders ongehoorsaam was aan die voorskrifte in hierdie boekrol. Ons het nie opgetree volgens wat in die boekrol van ons vereis word nie.”

14. Die priester Gilkija en Agikam, Akbor, Safan en Asaja gaan toe na die nuwe deel van Jerusalem om die profetes Gulda te raadpleeg. Sy was die vrou van Sallum seun van Tikwa en kleinseun van Gasra, die klerebewaarder. Hulle het haar ingelig

15. en sy antwoord hulle: “‘Dit is wat die Here, die God van Israel, sê: Gaan en sê vir die man wat vir julle gestuur het.

16. Dit is wat die Here sê: Ek bring onheil oor hierdie stad en sy inwoners, net soos dit in die boekrol staan wat die koning van Juda gelees het.

17. Want my volk het My verlaat deur aan ander gode offers te bring en My uit te tart met al die maaksels van hulle eie hande. My toorn brand teen hierdie plek en dit sal nie geblus word nie.’

18. “Maar gaan na die koning van Juda wat vir julle gestuur het om die Here te raadpleeg en sê vir hom: ‘Dit is wat die Here, die God van Israel, sê aangaande die boodskap wat jy so pas gehoor het:

19. Jy was berouvol en het jouself voor die Here verneder toe jy hoor wat Ek gesê het oor hierdie plek en sy inwoners, naamlik dat die land ontvolk en vervloek sal word. Jy het jou klere geskeur en voor My gehuil as teken van berou. Ek het jou inderdaad gehoor, sê die Here.

20. Daarom sal Ek jou in vrede laat sterf en in vrede laat begrawe word. Jy sal nie al die onheil wat Ek oor hierdie plek gaan bring, self beleef nie.’” Hulle het toe hierdie boodskap aan die koning oorgedra.