hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Josia se godsdienshervorming

1. Toe roep die koning al die leiers van Juda en Jerusalem bymekaar.

2. Die koning het opgegaan na die Here se tempel toe. Saam met hom het al die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem, asook die priesters en die profete, almal, klein en groot, gegaan. Daar het die koning die hele boek van die verbond wat in die tempel van die Here gekry is, voorgelees.

3. Die koning neem toe sy plek in langs die pilaar en het die verbond voor die Here hernu. Hy het onderneem om die Here te volg deur al sy voorskrifte, bepalings en gebooie met hart en siel te gehoorsaam. So het hy al die voorwaardes van hierdie verbond soos dit in die boekrol geskryf was, bekragtig. Die hele volk het hulle ook tot die verbond verbind.

4. Daarop het die koning vir die hoëpriester Gilkija, die priesters tweede in bevel en die poortwagters van die tempel beveel om al die voorwerpe wat vir Baäl, Asjera en al die hemelliggame gemaak is, uit die tempel van die Here te verwyder. Hulle moes al hierdie voorwerpe buite Jerusalem op die terrasse van die Kidronvallei verbrand en die as na Bet-El toe vat.

5. Hy het ontslae geraak van die afgodspriesters wat die vorige konings van Juda aangestel het, want hulle het op die hoogtes in die dorpe van Juda, asook in die omgewing van Jerusalem offers gebring. Hulle het ook offers gebring vir Baäl, die son, die maan, die sterrebeelde en al die ander hemelliggame.

6. Die koning het die Asjerapaal uit die Here se tempel na die Kidronvallei buite Jerusalem laat bring. Daar is dit verbrand, vergruis en op die grafte van die gewone mense gestrooi.

7. Hy het ook die kamers van die manlike prostitute binne die tempel van die Here afgebreek. Dis waar die vroue weefwerk vir Asjera gedoen het.

8. Josia het al die priesters van ander dorpe in Juda laat kom en die hoogtes waar hulle geoffer het, ontwy. Dit was vanaf Geba tot by Berseba. Hy het die hoogtes by die poorte vernietig, ook die een by die poort van Josua, die stadsbevelvoerder. Hierdie poort was aan die linkerkant wanneer ’n mens die stadspoort binnegaan.

9. Die priesters wat by die hoogtes geoffer het, is nie toegelaat om by die Here se altaar in Jerusalem diens te doen nie, maar kon saam met die ander priesters ongesuurde brood eet.

10. Die Tofet in die Ben-Hinnomdal het hy laat ontwy sodat niemand dit weer kon gebruik om ’n seun of dogter in die vuur te offer as offer vir Molek nie.

11. Hy het ook die perdestandbeelde wat die vorige konings van Juda aan die son gewy het, verwyder. Dit was by die ingang na die tempel van die Here en naby die woonkwartiere van die ontmande amptenaar Netan-Melek. Die koning het ook die waens wat aan die son gewy was, verbrand.

12. Op die dak van die bokamer van Agas het die konings van Juda altare gebou. Josia het dit afgebreek. Hy het die altare wat Manasse in die twee binnehowe van die Here se tempel gebou het, vernietig. Hy het hulle aan stukke gekap en die puin in die Kidronvallei gegooi.

13. Die koning het verder ook die hoogtes oos van Jerusalem en suid van die Berg van Verwoesting ontwy. Dis waar koning Salomo van Israel hoogtes ter verering van Astarte, die veragtelike godin van die Sidoniërs, en Kemos, die afskuwelike afgod van die Moabiete, en vir Milkom, die veragtelike god van die Ammoniete, opgerig het.

14. Hy het die heilige pilare stukkend geslaan en die Asjerapale afgekap. Daarna het hy al hierdie plekke ontwy deur mensbene daaroor te strooi.

15. Daarby het die koning sowel die altaar in Bet-El as die hoogte wat Jerobeam seun van Nebat opgerig het en so Israel tot sonde gelei het, afgebreek. Hy het die klippe fyngemaal tot stof en die Asjerapaal verbrand.

16. Toe Josia verder rondkyk, sien hy verskeie grafte teen die kant van die heuwel. Hy het die bene uitgehaal en dit op die altaar in Bet-El verbrand om dit te ontwy. Dit het gebeur net soos die Here destyds deur die man van God aangekondig het.

17. “Watter grafsteen sien ek daar anderkant?” vra Josia. Die mense van die stad vertel hom toe: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en voorspel het presies wat u so pas met die altaar in Bet-El gedoen het!”

18. Josia sê toe: “Laat hom met rus. Moenie aan die bene raak nie.” Hulle het toe sy bene en dié van die ou profeet uit Samaria met rus gelaat.

19. Daarna het Josia al die heiligdomme by die afgodshoogtes in die dorpe van Samaria afgebreek, net soos hy in Bet-El gedoen het. Die konings van Israel het hierdie geboue opgerig en daardeur die Here getart.

20. Hy het al die priesters van die hoogtes op hulle eie altare doodgemaak en die altare ontwy deur mensbene daarop te verbrand. Daarna het hy na Jerusalem toe teruggegaan.

Josia vier die Paasfees

21. Hierna het koning Josia die hele volk beveel: “Kom vier nou die Paasfees van die Here julle God soos dit in hierdie boek van die verbond beskryf is.”

22. Daar was nog nooit so ’n Paasfeesviering sedert die dae toe die rigters in Israel regeer het, of selfs gedurende die regering van die konings in Israel en Juda nie.

23. Hierdie Paasfees is in Jerusalem tot eer van die Here gevier gedurende die agtiende jaar van koning Josia se regering in Jerusalem.

24. Josia het ook die dodebesweerders en waarsêers, die huisgode, die afgode en elke afstootlike ding wat in Juda en Jerusalem te sien was, uitgewis. Hy het dit gedoen in gehoorsaamheid aan al die voorskrifte van die wet wat in die boekrol was wat die priester Gilkija in die Here se tempel gekry het.

25. Voor hom was daar nie ’n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het nie. Dit het hy gedoen met sy hele hart en siel en met al sy kragte volgens al die gebooie van Moses. Ná hom was daar ook nie weer ’n koning soos hy nie.

26. Nogtans het die Here se toorn oor Juda voortgeduur. Dit was as gevolg van die bose dade van koning Manasse. Hy het nie sy toorn oor hulle laat vaar nie.

27. Die Here het gesê: “Ek sal my teenwoordigheid uit Juda wegneem net soos Ek met Israel gedoen het. Ek sal hierdie stad Jerusalem wat Ek verkies het, verwerp, asook die tempel waarvan Ek gesê het: ‘My Naam sal daar wees.’”

28. Die ander gebeurtenisse tydens Josia se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.

29. Terwyl Josia koning was, was farao Neko, die koning van Egipte, op pad na die Eufraatrivier om die koning van Assirië te gaan help. Koning Josia het teen hom opgetrek, maar koning Neko het hom doodgemaak toe hulle by Megiddo teenoor mekaar te staan gekom het.

30. Josia se soldate het sy liggaam in ’n wa uit Megiddo na Jerusalem toe gebring en hom in sy eie graf begrawe. Die burgers van die land het sy seun Joahas as koning in sy plek gesalf.

Joahas regeer in Juda

31. Joahas was 23 jaar oud toe hy koning geword het en hy het drie maande in Jerusalem regeer. Sy ma was Gamutal, dogter van Jeremia uit Libna.

32. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy voorvaders gedoen het.

33. Farao Neko het Joahas in Ribla, in die land Hamat, gevange geneem sodat hy nie verder kon regeer nie. Hy het ook Juda ’n boete opgelê van drie en ’n halwe ton silwer en 34 kilogram goud.

34. Farao Neko het toe vir Eljakim seun van Josia as koning in die plek van sy pa aangestel. Die farao het Eljakim se naam verander na Jojakim. Joahas is as gevangene na Egipte toe geneem, waar hy gesterf het.

Jojakim regeer in Juda

35. Ten einde die silwer en goud wat farao Neko as boete opgelê het, te betaal, het Jojakim ’n belasting op die burgers van die land gelê. Elkeen moes volgens hulle vermoëns betaal.

36. Jojakim was 25 jaar oud toe hy koning geword het en hy het elf jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sebida, ’n dogter van Pedaja uit Ruma.

37. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy voorouers gedoen het.